Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label crochet. Show all posts
Showing posts with label crochet. Show all posts

Tutoriaal: Hoe om 'n sig-sag patroon te hekel.

Wou jy nog altyd geleer het hoe om die sig-sag patroon te doen? Hier is maklike stap vir stap aanwysings.


Die aantal steke word soos volg uitgewerk. Elke herhaling van die patroon bestaan uit 18 steke. Dus sorg dat die aantal kettingsteke waarmee jy begin daarin deelbaar is. Tel nou nog 3 steke by. Die 3 ekstra steke word gemaak vir die draaisteek wat die eerste langbeen vervang. Vir hierdie tutoriaal gaan ons 2 herhalings doen wat beteken 18+18+3=39. Ons begin dus met 39 kettingsteke.

Hoe word 'n langbeen gemaak? Indien jy nie weet nie, volg hierdie stappe:



Slaan die draad om die pen en druk pen deur steek, haak die wol en trek deur die steek en effens na bo [3 lusse op pen]


Slaan die draad weer om die pen en trek deur slegs 2 lusse [2 lusse bly oor op pen]


Slaan die draad weer om die pen en trek deur die 2 oorblywende lusse op pen [1 lus bly oor]

Geluk! Jy het so pas 'n langbeen gemaak. :)








Goed, kom ons begin met die sig-sag patroon!

Maak 39 kettingsteke

Ry 1: Werk nou 1 langbeen in die 4e ks vanaf pen,maak 1 langbeen in elk van die volgende 6 kettingsteke. 

 
Nou gaan jy verminder in die volgende 2 kettingsteke. Om te verminder moet 2 langbene gemaak word wat saam afgewerk is. Die stappe wanneer 2 langbene saam afgewerk word is soos volg: 

Hoe word 2 langbene saam afgewerk?


Verminder
* Slaan draad om pen, steek hekelpen deur volgende kettingsteek, haak wol en trek deur steek na bo, [3 lusse], slaan draad om pen en trek deur 2 lusse, slaan draad om pen, steek pen in volgende kettingsteek, haak wol en trek deur steek na bo, [4 lusse], slaan draad om pen en trek deur 2 lusse, slaan draad om pen en trek deur oorblywende 3 lusse tesame. * Herhaal hierdie stap vanaf * tot * oor die volgende 2 kettingsteke. Jy het nou 2 verminderings gedoen.Die foto illustreer hoe die 2 saamgewerkte langbene lyk.   

Werk oor die volgende 6 kettingsteke 1 langbeen in elke kettingsteek. Jy sal merk dat die eerste kurwe van jou patroon nou duidelik begin wys en met 'n hoekie na onder trek en dan weer na bo loop.
Vermeerder

Hoe word in die volgende 2 langbene vermeerder?


Nadat jy die 6 langbene voltooi het moet ons nou in die volgende 2 steke weer vermeerder. Vermeerder beteken ons moet 2 langbene in dieselfde steek doen so in die volgende 2 kettingsteke gaan jy nou 2 langbene in elkeen maak.

Werk nou weer 6 langbene in die volgende 6 kettingsteke.

Doen dan weer 2 verminderings deur die stappe soos bo  te volg in die volgende 4 kettingsteke. Nadat jy dit voltooi het bly daar nou nog 7 kettingsteke oor tot die einde van die ry. Werk 6 langbene en in die heel laaste kettingsteek werk jy 2 langbene, 3 kettingsteke en draai.


Maak die eerste langbeen van elke ry in die heel eerste gaatjie soos aangedui op die foto. Werk dan 6 langbene, 2 verminderings, 6 langbene, 2 vermeerderings, 6 langbene,2 verminderings, 6 langbene, 2 langbene in laaste steek, 3ks en draai

Hierdie stappe kan nou net herhaal word. Die sig-sag patroon is nou in plek!


Die illustrasie links wys hoe die patroon loop. Onthou daar is altyd 2 langbene aan die begin en einde van die ry.Verder moet jy net onthou om na elke 6 langbene te verminder of vermeerder. Verminder oor 4 langbene en vermeerder oor 2 langbene. 

Klink dit nog steeds Grieks? Kyk na die illustrasie bo. Elke onderpunt van 'n beentjie wat ek geteken het tel 1 steek. Waar die ry begin lyk dit soos 'n V met twee sirkels aan die bo-punt.'n Sirkel met 'n been en 'n kort strepie net onderkant die sirkel stel 'n langbeen voor.  Dit beteken daar is 2 langbene in dieselfde steek gemaak. Dan sien jy 6 langbene. Volgende is die V omgedraai met vier punte onder maar slegs 2 sirkels bo. Dit beteken daar is 2 langbene saam gewerk. 

Hoop dit is duidelik genoeg! :)


 

 

 

 

 

Hoe word kleure verander?

Wanneer jy die heel laaste langbeen maak word die heel laaste stap met die nuwe kleur gedoen. Met ander woorde jy werk die langbeen tot 2 lusse oorbly op pen en trek dan die nuwe kleur deur, 3 ks en draai.

En dit is dan die sig-sag patroon! :)

Wonderlike hekelgroete vir almal!

Hoe om hekelblokkies aanmekaar te werk.

Dit gebeur met almal van ons. Ons leer hoe om te hekel en begin ywerig om die een blokkie na die ander te hekel. Kort voor lank is daar 'n hopie blokkies en dan skielik besef jy dat jy nie 'n idee het hoe om hulle bymekaar te kry nie. Wonder jy ook hoe om al jou blokkies aan mekaar vas te werk? Jy hoef nie verder te wonder nie want dit is eintlik vreeslik maklik.

Daar is verskeie maniere om te werk te gaan. Jy kan die blokkies met rugkante teen mekaar sit en dan 'n ry kortbeentjies deur albei blokkies werk. Met ander woorde doen een kortbeentjie wat deur albei blokkies se ooreenstemmende steke gelyk gedoen word. Hierdie manier veroorsaak dat 'n riffie geskep word en dit kan mooi en dekoratief lyk maar daar is tye wanneer jy die las so onopsigtelik as moontlik wil hou.  En dit is wat ek vandag vir julle wil wys. 

Onsigbare aanmekaar werk van gehekelde blokkies

Plaas die blokkies plat langs mekaar.

Gebruik altyd 'n stomp naald vir die vaswerk van hekelwerk. Dit is noodsaaklik want 'n skerp naald kan die gare of wol split en baie onnet vertoon. 

Ryg die draad deur die naald en begin werk deur onder deur die boonste twee lusse van die blokkie aan die linkerkant te steek.





Voltooi die steek en beweeg dan met die naald oor na die blokkie aan die regter kant.






In die foto links kan duidelik gesien word hoe die naald van bo af deur die boonste twee lusse gesteek word.

Herhaal deur die bogenoemde stappe te volg.

Wees versigtig om nie die gare of wol te styf te trek nie, maar wel stewig genoeg dat dit nie gesien kan word nie.
Rugkant
Voorkant 














Die eindresultaat: 'n Netjies las wat moeilik is om raak te sien!

Daar is natuurlik nog vele ander maniere maar hierdie bly vir my die beste manier. Nou kan jy aan die werk spring en ook jou blokkies aanmekaar begin vaswerk. 

Lekker hekel almal en sterkte met die vaswerkery. Dit is 'n tydsame proses maar dink net hoe trots jy gaan wees om jou handewerk te wys.

Lekker hekel en mooi bly almal!


 



100 Afghans to Knit & Crochet

Wat is dan nou lekkerder as om in die winter onder 'n handgemaakte gehekelde kombers te sit?
Ek het die afgelope ruk navrae ontvang in verband met die kombers wat ek gehekel en oor geblog het op 13 Julie. Die pragtige ontwerp kom uit die boek 100 Afghans to Knit & Crochet. 

Hierdie kombersie is een wat ek gehekel het met al my oorskiet wol. Ek het glad nie aandag gegee aan kleurskakerings nie wat beteken die kombersie bevat enige kleur waaraan jy kan dink. Ek het al die blokke daarna met een kleur (rooi) in 'n ry kortbeentjies aanmekaar gehekel wat toe alles bymekaar gebring het. 

Dit was 'n baie lekker projek om aan te werk en die blok is ook nie eentonig nie. In elke ry word verskillende steke en tegnieke gebruik wat beteken dat 'n beginner dalk mag sukkel. Maar of jy nou 'n beginner is of nie, dit sal ure se hekel genot verskaf en 'n manier om al die oorskiet wolletjies op te gebruik!

 
 

Die boek is propvol wonderlike ontwerpe en beslis deur en deur waarde vir geld. Indien julle belangstel plaas ek hier 'n link sodat julle ook kan weet waar om dit in die hande te kry. 


Dan net so op 'n laaste noot wil ek vra dat indien julle die 'kontak my' vorm gebruik vir 'n navraag moet julle asseblief  onthou om 'n email adres te gee. Ek het navrae gehad wat ek graag sou wou beantwoord maar geen kontak besonderhede is aangestuur nie. 





Lekker hekel almal!

Fairisle Hekel.

Kleur, wonderlike kleur!

"Fairisle" hekel is wanneer  verskillende kleure wol saam met 'n ry gevoer word sodat die kleur wat benodig word beskikbaar is wanneer kleure geruil moet word. Dit neem so bietjie oefening om dit onder die knie te kry. Aandag moet veral gegee word aan spanning asook egaligheid van jou projek. Die mees kleurvolle  patrone kan gehekel word en dit is ook baie maklik om jou eie patroon te maak met grafiek papier en so paar inkleur potlode.

In Engels is daar 'n hele lys van woorde wat gebruik word soos Tapestry Crochet, Fairisle Crochet,  Bosnian Crochet en nog baie meer! Dit wil voorkom asof elke land sy eie term het daarvoor. Hierdie terme sluit almal die tegniek van werk met verskillende kleure wol in.

www.crochetme.com

Omdat "Tapestry" hekel 'n baie digte tipe van hekelwerk is, leen die tegniek hom uitstekend daaraan toe vir die maak van mandjies en sakke. "Fairisle" is weer wonderlik vir die maak van klere en allerhande mode bykomstighede.




Hierdie mandjie is gehekel met krale en die "Tapestry" tegniek is gebruik. Is dit nie pragtig nie?





www.fancyfibers.com




En jy kan handsakke maak wat by elke uitrusting en geleentheid pas en sommer ook 'n paar inkopie  sakke. Dit kan ook die ideale geskenk wees vir iemand spesiaals.





Hier is 'n blokkie wat ek gedoen het deur gebruik te maak van die "Tapestry" metode wat beteken dat die blokkie aan albei kante dieselfde lyk.


Om te leer wat die verskil is tussen die "Fairisle en Tapestry tegniek kan julle gerus na die video van Deja Jetmir kyk waarin sy die verskil verduidelik asook demonstreer hoe om dit te doen.

Mooi bly en lekker hekel julle! 

Gratis Hekelpatroon!

Hi almal!
Ek het vandag 'n spesiale Paasfees geskenk vir julle! Ek weet nie of ek die enigste een is nie maar sjokolade en ietsie warms om saam met die soetigheid te drink bly darem die beste!

Wanneer mens so 'n blokkie sjokolade in die mond laat wegsmelt en daarmee saam so 'n sippie warmte (tee of koffie, solank dit warm is)neem en die tweetjies mengel so tussen die kieste rond! Mmmmmm.......pure hemelse lekkerte!

En terwyl dit nou die enigste tyd van die jaar is wanneer mens toestemming het om baie sjokolade te mag geniet, het ek dit goed gedink om vir julle 'n ietsie gratis te gee. Hiermee dan 'n hekel patroon vir die warm hou van die ou teepotjie.
Geniet dit en lekker hekel! 
 

Ripples of is dit Zig Zags?


Hallo hallo julle! Sjoe, ek was lanklaas hier. Hoe het die tyd dan so gou verby gegaan?


Ek het gou kom wys waarmee ek besig is so op hierdie koelerige daggie in die Kaap. Dit is nogals geniepsig buite en die winter wys nog sy laaste tandjies. En wat is dan nou lekkerder as om met so ou lekker sagte snoesige hekelwerkie op die skoot te sit en kuier voor die TV. 

Ek het hierdie patroon gekry op Lucy van Attic24 se blog. Ek hekel dit met Elle Pure Gold double knit. Ek love Pure Gold! Dit is so sag en heerlik om mee te werk en daar is ook nuwe kleure wat nou so pas op die mark is. Ek gebruik al die lekker sagte aardse kleure met hierdie yummie pink daarby. 

Dit is lekker om vir 'n verandering sommer net sulke laaaaaaang rye te hekel. Dit neem my so hele klompie minute om een ry te voltooi maar daar sal geen aanmekaar werk van blokke wees wanneer ek klaar is nie. Dit is 'n bonus sowaar! Kyk, dit is lekker om blokkies te hekel maar daardie aanmekaar sit van almal is iets wat ek glad nie 'like' nie. Ek probeer altyd sover as moontlik om dit te vermy deur die blokkies aanmekaar te hekel soos ek aangaan. 

Ek het nog 'n lang ent om te gaan maar ag wat, dis lekker!!! :)


Tot volgende keer!





Groetnis en ....
Lekker hekel :)