Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label vashekel van blokkies. Show all posts
Showing posts with label vashekel van blokkies. Show all posts

Tutoriaal: Hoe om blokkies aanmekaar te hekel: Glipsteek Metode.

Hierdie metode is veral geskik vir blokkies wat in die laaste ry bestaan uit 'n ry kortbene, halwe langbene of langbene of enige blokkies wat in die laaste ry geen spasies bevat nie.

Glipsteek Metode: So maak jy:


Korreksie: Blokkies word met verkeerde kante
na buite geplaas. Die glipsteek word aan die ver-
keerde kant van werk gedoen dus moet die regte
kante na mekaar toe wys. 












Aan die voorkant lê al die voorste lusse teen mekaar.

Die res van die blokke word presies op dieselfde manier aanmekaar gehekel soos met die vorige tutoriaal waar gewys is hoe om vas te hekel met kortbene. Die enigste verskil is dat daar aan die agterkant van die blokke gewerk word en 'n glipsteek word gebruik in plaas van 'n kortbeen. Daar word met die glipsteek metode ook slegs in die buite lusse van steke gewerk en nie deur albei nie. Wanneer daar oorbeweeg word na die volgende twee blokke wat vasgehekel word kyk hoe dit in die kortbeen metode verduidelik is deur dadelik oor te beweeg na die volgende twee blokke ens. 

Lekker hekel!


Tutoriaal: Vashekel van blokkies met kortbene.


[Klik vir voller grootte]


Kortbene aan die regterkant kan baie dekoratief wees. In die boonste foto van die kombers wat uit oorskiet wolle bymekaar gesit is het ek rooi gebruik om al die blokke aan mekaar vas te hekel. Die rooi kortbene vorm 'n rif wat duidelik sigbaar is en bind al die kleure bymekaar as 'n geheel. Dit is ook 'n vinnige en maklike manier om blokke vas te hekel. 

Hieronder verduidelik en illustreer ek hoe te werk gegaan moet word.


Begin deur twee blokke teenmekaar te plaas sodat die verkeerde kante aan die binnekant is.  

Steek die hekelpen deur die onderste twee lusse van  hoeksteek in die voorste blokkie en ook deur die ooreenstemmende hoeksteek in die agterste blokkie en trek draad deur. 



                                                                                         


Werk 'n kettingsteek en knoop die kort draad en werkende draad vas aanmekaar.

Werk nou kortbene deur hekelpen eers deur die voorste steek en dan deur die ooreenstemmende steek in die agterste blokkie te steek. Slaan draad om pen en trek deur albei steke na voor. Daar is 2 lusse op pen. Slaan draad weer om pen en werk deur albei lusse op pen.

Dit voltooi die eerste kortbeen.

Herhaal deur op die wyse kortbene deur albei blokkies tegelykertyd te werk. 

Wanneer jy die volgende hoeksteek voltooi het neem die volgende twee blokkies en voltooi weereens deur die eerste kortbeen in 'n hoeksteek te maak en dan in elke ooreenstemmende steek te werk. 
Voorbeeld: Die kombers bestaan uit 40 blokke
5 blokke vir die breedte van die kombers
8 blokke vir die lengte van kombers
Begin deur 5 blokke vas te hekel [Eerste strook]
Neem volgende 5 blokke en hekel aan die eerste strook vas. [Tweede strook]
Neem volgende 5 blokke en hekel an die tweede strook vas. [Derde strook] 

Werk al die blokkies so aanmekaar vir die totale lengte van projek en voltooi al die lengtes. 

Nou moet al die vertikale sye vasgehekel word. Vou die blokke nou in posisie sodat die dele wat nog nie  aanmekaar vas is nie, nou weer horisontaal lê en die stroke wat klaar vasgehekel is lê nou vertikaal. 

Begin weer by die eerste hoeksteek en voltooi die eerste blokkie totdat jy by die volgende hoeksteek kom.



Wanneer jy die eerste blokkie voltooi het en wil oorgaan na die volgende blokkie se hoeksteek moet daar eers 1 kettingsteek gemaak word voordat jy oorbeweeg na die volgende blokkie.

Hier kan duidelik gesien word hoe die kettingsteek  bo oor die eerste ry kortbene lê.

Voltooi al die blokke op hierdie manier.

Al die blokke is nou vasgehekel. Dekoratief, stewig en vertoon ook netjies.




 Lekker hekel almal!


Tutoriaal: Vashekel van blokkies: Ouma se manier.



Vir hierdie tutoriaal het ek 6 Ouma blokkies gehekel  en gaan vir julle wys hoe om dit aanmekaar te hekel sodat dit die patroon van groepies behou wat so eie is aan hierdie tradisionele blokkies. 

Geel is die kleur wat ek gaan gebruik en ek begin deur  nog 'n gewone  ry om die heel eerste blokkie te hekel presies soos wat 'n Ouma blokkie gehekel word met 3lb in elke 2ks spasie en die hoeke op presies dieselfde manier.  Voltooi die rondte en heg af. 
 Begin deur die draad te heg in enige hoekspasie van die tweede blokkie. Werk die eerste 3ks en 2lb in die hoek, maak nou 1ks en glipsteek dan in die eerste blokkie se hoekspasie. 

Merk ek steek die hekelpen van die agterkant van werk na voor wanneer ek 'n glipsteek maak. 






Werk weer 1ks en beweeg terug na die tweede blokkie. 
Voltooi die hoek in die tweede blokkie deur 3 lb te werk.
Maak weer 1ks en glipsteek in die volgende spasie van die eerste blokkie. 
Maak 1ks en werk 3lb in volgende spasie van die tweede blokkie. 
Maak weer 1ks en glipsteek in die volgende spasie van die eerste blokkie. 
Werk 1ks en werk nou weer 3lb in die volgende sp van tweede blokkie. 
Herhaal deur heen en weer te beweeg tussen die blokkies. Daar word elke keer slegs 'n glipsteek in 'n spasie gemaak in die eerste blokkie en die langbene word in die tweede blokkie se spasies gewerk met 1ks tussen-in. 

Wanneer jy by die hoek kom voltooi die eerste 3lb in hoek, werk 1ks, gs in die hoekspasie van die eerste blokkie, 1ks en werk dan die volgende 3lb weer in die hoekie. 


Hier kan duidelik gesien word hoe die twee hoeke reg teen mekaar lê. 

Herhaal deur op bogenoemde manier die rondte te voltooi, gs in die 3e ks en heg af. Twee blokkies is nou aanmekaar gehekel.  

Werk van regs na links.

Neem nou die derde blokkie en begin weereens in 'n hoekspasies. Werk 3ks, 2lb en 1ks, gs in die hoekspasie van ooreenstemmende blokkie, 1ks en werk weer 3lb terug in hoekie.  
Herhaal op dieselfde manier soos met vorige blokkies en wanneer jy by die hoekie kom glipsteek in die ooreenstemmende hoekspasie van die aangrensende blokkie.  Voltooi die rondte, gs in die 3e ks en Heg af.











Neem nou die vierde blokkie en begin weer net soos voorheen en werk tot by die volgende hoek.

Jy sal merk dat daar nou twee aangrensende sye is  wat vasgehekel moet word. Alle stappe is dieselfde as met die vorige blokkies behalwe die tweede hoekspasie word nie in die aangrensende blokkie met 'n glipsteek gewerk nie maar wel in die teenoorgestelde hoekie. 




Op die foto links is daar 'n swart kolletjie wat die plek aandui waar die vierde blokkie in die hoek met 'n glipsteek gewerk word. Dus is al die stappe  dieselfde behalwe die glipsteek waar die blokkies mekaar ontmoet is in die middel. 

Dit voltooi hierdie tutoriaal. Daar is natuurlik ook baie ander maniere om blokkies aanmekaar te hekel. Ek sal elke manier op sy eie behandel in die toekoms en mettertyd al die verskillende maniere vir julle wys. 

Lekker hekel!