Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label kleurkombinasies. Show all posts
Showing posts with label kleurkombinasies. Show all posts

Hekel Idee: Kleurvolle Granny!

Speel met kleur en hekel 'n Granny met woema!




Dagsê almal!

Hier is vir julle 'n inspuiting kleur om 'n vaal dag op te kikker!

Hier het ek vier gewone Ouma blokkies gebruik en 'n randjie omgehekel met 'n blom motief in die middel. Die kleure is soos volg:

  • Blokkie links bo is Pure Gold Phlox met Honey in die middel.
  • Blokkie regs bo is Pure Gold Clover met Terracotta in die middel
  • Blokkie links onder is Pure Gold Azzure met Blossom in die middel.
  • Blokkie regs onder is Pure Gold Chilli met Soft Moss in die middel.
  • Eerste rand ry is gedoen met Family Knit Aqua.
  • Laaste ry om rand is gedoen met Family Knit Violet.
  • Die blom is begin met Clover. 2e ry is Chilli. 3e ry is Terracotta. 4e Ry is Aqua en laaste ry is weer Azzure. 
Soos julle kan sien het ek 'n hele paar sterk kleure gebruik met 'n paar sagte kleure om balans te bring. Ek is mal oor kleur en glad nie bang om sterk kleure te gebruik in my hekelwerk nie. Ek hoop dit inspireer julle om ook te speel met kleurkombinasies.

Die blom is sommer so uit die kop gehekel en ek het ongelukkig nie die patroon neergeskryf nie maar enige blom sal mooi vertoon.



 Die Ierse rose of Blommetjie met 12 blare is twee blomme wat ideaal sal wees. 



 Lekker speel en 'n kleurvolle dag vir julle almal!

Hekelgroete!

Kleur Inspirasie #1


Besorg dit jou hoofbrekens wanneer dit kom by die kies van kleure vir 'n nuwe projek? 

Het jy 'n gunsteling kleur maar weet nie hoe om ander kleure daarby te gebruik nie? 



Hierdie is die eerste artikel wat handel oor kleur en in die toekoms beplan ek om verskillende kleurkombinasies te bespreek. 




Ons word elke dag omring met kleur en daar is soveel wat by ons verby gaan sonder dat ons enige aandag daaraan gee. Om kleure bymekaar te sit is 'n kuns op sy eie en kan 'n projek maak of breek. Jy kan die mooiste hekelpatroon gebruik maar die verkeerde kleure gebruik en dit sal nie naastenby soveel impak hê nie.

Tekstiel ontwerp is 'n wonderlike bron vir kleur inspirasie. Het jy 'n gunsteling bloes of kledingstuk? Indien jy nie het nie kan jy deur tydskrifte blaai of dalk is daar 'n kleurvolle toppie in die winkel en die kleure wat saam gebruik word, is vir jou te pragtig. Besoek 'n materiaal winkel en kyk na die kleurkombinasies wat gebruik word. Die etikette op gebruiksware maak ook gebruik van kleurkombinasies.  Daar is oral kleur om ons! Gebruik dit as vertrekpunt en hou dit in gedagte wanneer jy jou volgende projek beplan. 

In die foto bo wys ek hoe ek my kleure gekies het vir hierdie kleurvolle blokkie. Dit is dieselfde patroon wat ek gebruik het vir die Mohair en Pure Gold blokkie wat julle hier kan kry. Ek het hierdie blokkie gehekel met Elle Premier Katoen 4 draad en 'n 3mm hekelpen. 

Links is my gunsteling toppie. Ek is mal oor die kleure en kry ook baie komplimente wanneer ek dit dra. Ek het vyf kleure gekies vanaf die ontwerp. Daar is 'n diep pers, turkoois, koningsblou, diep oranje en ougoud. Die blokkie is beslis na my mening treffend! Die kleure gesels met mekaar en komplimenteer mekaar vreeslik mooi! 

Wat dink julle? Die kleure is vir my asemrowend!

Ek hoop julle gaan lekker speel met kleurkombinasies en mag dit vir  julle die kies van kleure so effens makliker maak.!

Lekker hekel almal!