Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label stap vir stap aanwysings. Show all posts
Showing posts with label stap vir stap aanwysings. Show all posts

Tutoriaal: Vashekel van blokkies: Ouma se manier.



Vir hierdie tutoriaal het ek 6 Ouma blokkies gehekel  en gaan vir julle wys hoe om dit aanmekaar te hekel sodat dit die patroon van groepies behou wat so eie is aan hierdie tradisionele blokkies. 

Geel is die kleur wat ek gaan gebruik en ek begin deur  nog 'n gewone  ry om die heel eerste blokkie te hekel presies soos wat 'n Ouma blokkie gehekel word met 3lb in elke 2ks spasie en die hoeke op presies dieselfde manier.  Voltooi die rondte en heg af. 
 Begin deur die draad te heg in enige hoekspasie van die tweede blokkie. Werk die eerste 3ks en 2lb in die hoek, maak nou 1ks en glipsteek dan in die eerste blokkie se hoekspasie. 

Merk ek steek die hekelpen van die agterkant van werk na voor wanneer ek 'n glipsteek maak. 






Werk weer 1ks en beweeg terug na die tweede blokkie. 
Voltooi die hoek in die tweede blokkie deur 3 lb te werk.
Maak weer 1ks en glipsteek in die volgende spasie van die eerste blokkie. 
Maak 1ks en werk 3lb in volgende spasie van die tweede blokkie. 
Maak weer 1ks en glipsteek in die volgende spasie van die eerste blokkie. 
Werk 1ks en werk nou weer 3lb in die volgende sp van tweede blokkie. 
Herhaal deur heen en weer te beweeg tussen die blokkies. Daar word elke keer slegs 'n glipsteek in 'n spasie gemaak in die eerste blokkie en die langbene word in die tweede blokkie se spasies gewerk met 1ks tussen-in. 

Wanneer jy by die hoek kom voltooi die eerste 3lb in hoek, werk 1ks, gs in die hoekspasie van die eerste blokkie, 1ks en werk dan die volgende 3lb weer in die hoekie. 


Hier kan duidelik gesien word hoe die twee hoeke reg teen mekaar lê. 

Herhaal deur op bogenoemde manier die rondte te voltooi, gs in die 3e ks en heg af. Twee blokkies is nou aanmekaar gehekel.  

Werk van regs na links.

Neem nou die derde blokkie en begin weereens in 'n hoekspasies. Werk 3ks, 2lb en 1ks, gs in die hoekspasie van ooreenstemmende blokkie, 1ks en werk weer 3lb terug in hoekie.  
Herhaal op dieselfde manier soos met vorige blokkies en wanneer jy by die hoekie kom glipsteek in die ooreenstemmende hoekspasie van die aangrensende blokkie.  Voltooi die rondte, gs in die 3e ks en Heg af.











Neem nou die vierde blokkie en begin weer net soos voorheen en werk tot by die volgende hoek.

Jy sal merk dat daar nou twee aangrensende sye is  wat vasgehekel moet word. Alle stappe is dieselfde as met die vorige blokkies behalwe die tweede hoekspasie word nie in die aangrensende blokkie met 'n glipsteek gewerk nie maar wel in die teenoorgestelde hoekie. 




Op die foto links is daar 'n swart kolletjie wat die plek aandui waar die vierde blokkie in die hoek met 'n glipsteek gewerk word. Dus is al die stappe  dieselfde behalwe die glipsteek waar die blokkies mekaar ontmoet is in die middel. 

Dit voltooi hierdie tutoriaal. Daar is natuurlik ook baie ander maniere om blokkies aanmekaar te hekel. Ek sal elke manier op sy eie behandel in die toekoms en mettertyd al die verskillende maniere vir julle wys. 

Lekker hekel!

Gratis Patroon en Tutoriaal: Blommesirkels Motief


Hierdie motief is een wat ek 'n jaar of wat gelede ontwerp het. Ek het besluit om dit te deel  met al die lesers van Hekel Idees na  verskeie versoeke ontvang is oor die ontwerp en patroon daarvan. Die motief is nie een van daardie vinnige motiewe nie en neem ook langer om te voltooi omdat die vier blomme-sirkels apart gehekel word waarna dit aanmekaar vasgewerk word. Daarna word die rand gehekel wat dan alles bymekaar bring tot een motief.


Materiaal gebruik: Vinnis Colours Nikkim Dubbeldraad en 4 mm hekelpen


Grootte van motief: 14 x 14cm

Kleur A: Begin met 6ks en gs om ring te vorm

Ry 1:  Werk in ring die vlg: 2ks, 1lb, * 2ks, 2lb saam afgewerk; * herh van * tot * nog 6 keer [8 blare]; gs in bo-punt van eerste blaar. Heg af  [Instruksies vir die maak van 2 saamafgewerkte lb hier]

Ry 2: Kleur B: Heg kleur in enige 2ks sp, [2ks, 1hlb, 1ks, 2hlb in dieselfde sp]; werk in elk van die vlg sewe 2ks sp soos volg: [2hlb, 1ks, 2hlb]; gs in 2e ks en gs dan in die vlg 1ks sp. Heg af.



Ry 3: Heg Kleur C in dieselfde 1ks sp, 1hlb in dieselfde sp, 1hlb in elk van vlg 3 hlb, draai, 1ks

Ry 4: werk 4hlb, draai, 1ks

Ry 5: werk 4hlb. Heg af. 

Hekel 4 motiewe en werk rye 3,4 en 5 ook in die 4e motief aan die teenoorgestelde kant soos op die foto gesien kan word.
















Die foto bo wys die plasing van die motiewe. Maak seker dat alle motiewe in die regte posisie is en ook dat elkeen se voor en verkeerde kant korrek is voordat dit  vasgewerk word. Ryg 'n wolnaald met dubbeldraad en werk netjies aanmekaar vas.  

Nadat al 4 motiewe vasgewerk is kan die rand nou gehekel word. 


Rand:

Heg kleur van keuse in hlb soos op foto aangedui.





Nadat kleur geheg is lees die ry soos volg:  2ks, 1kb, 1hlb, 2lb, 4dslb en werk 5dslb in die hoekspasie. 
Herhaal op hierdie wyse tot by die einde van rondte en gs terug in 2e ks. Hieronder is 'n duidelike groooot foto wat wys hoe die steke gewerk moet word. Steke is met gekleurde kolletjies gemerk. Kortbene in blou, halwe langbene in groen, langbene in meroen en dubbelslag langbene in wit. Dit maak die lees van die steke soveel makliker en die patroon kan gevolg word met gemak.

[Klik op die foto indien jy dit nog groter wil sien.]

Lekker hekel!

Tutoriaal: Hoe om 'n Ierse Roos te hekel



Ierse rose is een van daardie gehekelde blomme wat oral te sien is. Dit versier haarbande, handsakke, komberse en bly immermooi en gewild. Kom ek wys julle hoe maklik dit is om jou eie Ierse Rose te hekel.














Begin met 4 kettingsteke[ks] en glipsteek[gs] om 'n ring te vorm


Ry 1: 6 kortbene[kb] in ring, gs in 1e kb

Ry 2: 4ks, 1kb in vlg kb, *3ks, kb in vlg kb* herhaal vanaf * tot * nog 3 keer, 3ks gs in 1e 4ks sp [6 ks sp]


Ry 3: Werk in dieselfde spasie soos volg: *[2ks, 3lb, 2ks, gs terug in dieselfde sp],  gs in die vlg sp,* herh vanaf  * tot *  in elk van die  3ks spasies












Ry 4: *4ks, 1gs om die stam van die kb wat in ry 2 gemaak is deur die hekelpen van agter af vorentoe en weer na agter om die stam van die steek te druk, slaan die draad om die pen en trek dit deur aan die agterkant deur albei lusse op hekelpen * herhaal van * tot * tot einde van ry [6 4ks spasies]



Ry 5: Gs in vlg ks sp en werk  soos volg: *[2ks, 4lb, 2ks, gs terug in dieselfde sp],gs in die vlg sp,* herh vanaf * tot * in elk van die 3ks spasies, gs in heel eerste gs. Heg af  








Dit is dan die Ierse Roos!









En op 'n baie reenerige en koue dag hier in die Kaap groet ek tot volgende keer. 




Lekker hekel!
 

Tutoriaal: Hekel 'n Driehoek Ouma Blokkie.

Kom ek wys julle hoe om hierdie maklike driehoek blokkies te hekel!

Hekel Idees: Driehoekie Blokkies.


Kleur A: Begin met 5ks, gls om 'n ring te vorm [Hier kan julle sien hoe om die ring te maak]


Ry 1:  3ks, 3lb in ring, 2ks, 4lb in ring, 2ks, 4lb in ring, 2ks, gs in bo-punt van 3ks. Heg af.



Ry 2: Heg Kleur B in enige 2ks sp. [Werk nou in dieselfde sp die eerste hoekgroep wat bestaan uit 2ks,2hlb,2ks,3hlb];  * 1ks, slaan vlg 2 lb oor en werk in vlg lb [1hlb,1ks]; in vlg sp werk ['n gewone hoekgroep wat bestaan uit 3hlb,2ks,3hlb]*; herh vanaf * tot * nog 1 keer, 1ks,slaan 2lb oor 1hlb in vlg lb, 1ks, gs in 2e ks. Heg af.



Ry 3: Heg Kleur C in 'n hoekspasie en werk 'n eerste hoekgroep, 1ks, * slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg 1ks sp]  herh nog 1keer; 1ks, slaan 1hlb oor, 1hlb in vlg hlb, 1ks,** werk nou 'n gewone hoekgroep, 1ks* herh vanaf * tot * nog 1 keer en her dan weer vanaf * tot ** en gs in 2e ks. Heg af.



Ry 4: Heg Kleur D in enige hoekspasie en werk eerste hoekgroep, 1ks, * slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg 1ks sp] herh nog 4 keer, 1ks, slaan 1hlb oor, 1hlb in vlg hlb, 1ks, gewone hoekgroep in vlg sp, 1ks, slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg 1ks sp] herh nog 4 keer, 1ks, slaan 1hlb oor,, 1hlb in vlg hlb, 1ks, gewone hoekgroep in vlg sp, 1ks, slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg sp], herh nog 4 keer, 1ks, slaan 1hlb oor, 1hlb in vlg hlb, 1ks, gs in 2e ks. Heg af. 

Hekel Idees: Driehoekie Blokkie met Ierse Roos.


'n Blommetjie lyk net so mooi op hierdie driehoekies.

In die volgende tutoriaal wys ek julle hoe om hierdie Ierse Roos te hekel. 





Hoe maak mens 'n langbeen? Gaan kyk na die tutoriaal van die Ouma Blokkie. 

Hoe maak mens 'n halwe langbeen? Die halwe langbeen word amper dieselfde gedoen as 'n langbeen met net een verskil. Sodra jy 3 lusse op jou pen het slaan jy die draad om pen en trek dadelik deur al 3 lusse. Dit word dus so gemaak. Slaan draad om pen, druk hekelpen in steek of spasie, slaan draad om pen en haak wol deur die steek of spasie na bo, daar is nou 3 lusse op pen, slaan draad weer om pen en trek deur al 3 die lusse. Dit voltooi die halwe langbeen. 


Lekker hekel!


Stap vir stap: Monica se 'Snerpie'

Winter is besig  om sy lang vingertjies stadig maar seker  in te wriemel oral waar hy 'n oop gaatjie kan vind. Hier is ek met my nuwe Snerpie! 

Hou jou nek en bors warm en snoesig! 

Ek noem dit 'n snerpie omdat dit iets is tussen 'n snood en serp. Nie heeltemal 'n snood nie en ook nie heeltemal 'n serp nie.  Ek het Pure Gold se Chunky gebruik en dit is heerlik sag en warm om my nek en hou ook sommer my bors lekker warm. Nadat ek my eerste snerpie gehekel het en die patroon neergeskryf het was ek so in my noppies dat ek sommer nog een begin het! 


Ek het vir die tweede een Chunky Knitting 'Loom Easy' gebruik en Timber vir die binneste blom patroon. Tot my verbasing het die blokke  baie groter gehekel met hierdie spesifieke wol alhoewel ek dieselfde dikte hekelpen, 'n nommer 6 gebruik het. Ek is nog besig met die tweede een en sal die foto oplaai op Hekel Idees se facebook bladsy sodra dit klaar is. Dit sal natuurlik 'n groter snerpie wees omdat die blokke groter is, maar dit kan dalk tog ook lekker wees as dit effens groter om die skouers pas. [Dit word dalk nog omskep in iets heeltemal anders, want ek werk baie op ingewing van die oomblik!] 


Blokkie met Pure Gold Chunky = 13 x 13 cm
Blokkie met Chunky Knitting Loom Easy en Timber = 16 x 16cm


Ek het stap vir stap aanwysings gedoen vir die van julle wat ook so 'n snerpie wil hekel. 


Materiaal gebruik:

1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Titanium]
1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Silver]
1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Ruby Red]
6.00 mm Hekelpen

Afkortings:


beg = begin; ks = kettingsteek/e; hlb = halwe langbeen; herh = herhaal; gs = glipsteek; rdte = rondte
sp = spasie; oorbl = oorblywende; vlg = volgende; verm = vermeerder; st = steek; hoeksp = hoekspasie, gr = groep; hoekgroep = hoekgr; vlg = volgende; sdop = slaan draad om pen


Eerste Motief:

Begin met Ruby Red en werk 6ks, gs om ring te vorm.

Ry 1: [2ks, 2lb,2ks, gs in ring]; herh nog 5 keer. Heg af [6blare]

Ry 2: Heg die Silver in laaste gs en werk 3ks, * gs nou weer in die vlg gs wat tussen die vlg 2 blare gemaak is, 3ks, * herh vanaf * tot * totdat daar vyf 3ks sp gemaak is; 3ks, kb in 1e 3ks sp. Druk die blaartjies van die blom na vore sodat die 3ks sp aan die agterkant van die blaartjies lê





Ry 3: Werk in dieselfde 3ks sp soos volg: 1hlb, 3lb, 1hlb, volg aanwysings tussen hakies en werk in elk van die vlg 5 3ks spasies soos volg: [1kb, 1hlb, 3lb, 1hlb]; gs in 1e hlb. Heg af.

Ry 4: Heg Titanium in dieselfde gs, 6ks, * kb in 2e lb, 3ks, lb in vlg kb, 3ks, * herh tot einde van rdte en gs in 3e ks

Ry 5: gs in 3ks sp, 6ks, kb in vlg sp, * 5ks, kb in vlg sp, * herh vanaf * tot * tot einde van ry en gs in 1e ks [daar moet 12 ks spasies wees]





Ry 6: gs in vlg sp, werk nou in dieselfde sp die vlg: [3ks, 2lb, 2ks, 3lb]; * 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks; in vlg sp werk nou 'n hoekgr soos volg: [3lb, 2ks, 3lb] *; herhaal vanaf * tot * einde van ry




 Tweede, Derde en Vierde Motief:

Volg instruksies van eerste motief vanaf Ry 1 tot Ry 5


Ry 6: gs in vlg sp, werk in dieselfde sp soos volg: 3ks, 2lb, 1ks, gs in ooreenstemmende hoek van eerste motief, 1ks, werk nou 3lb terug in hoekspasie van tweede motief, *1ks, kb in vlg sp van eerste motief, 1ks, kb terug in vlg sp van tweede motief, * herhaal van * tot * nog 1 keer, 1ks, kb in vlg sp van eerste motief, 1ks, 3lb in vlg hoekspasie van tweede motief, 1ks, gs in hoeksp van eerste motief, 1ks, 3lb in hoeksp van tweede motief, ** 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks, hoekgr in vlg sp, ** herh vanaf ** tot ** nog 1 keer, 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks, gs in bo-punt van 3e ks. Heg af.

Hoe om 2lb saam te werk:

Sdop en druk deur vlg lb, sdop en trek deur steek, sdop en werk deur 2 lusse, sdop, druk deur vlg lb, sdop en trek deur steek, sdop en werk deur 2 lusse, sdop, werk deur oorblywende 3 lusse. Dit voltooi die saam afgewerkte 2lb.

Onderste Rand:

Heg draad tussen die sp van enige twee motiewe, 5ks, * kb in 2e lb van 'n hoekgroep, [3ks, kb in vlg sp] herhaal nog 3 keer, 3ks, kb in sp tussen vlg twee motiewe, 3ks, * herh vanaf * tot * tot einde van rondte en gs in 2e ks.
Boonste Rand:

Verminder na die nek toe soos volg:

Ry 1: Heg draad tussen sp van enige twee motiewe; 3ks, 2lb in vlg sp, 1lb in elk van vlg 3lb, 2lb in elk van vlg 3sp, 1lb in elk van vlg 3lb, 2lb in vlg sp, 1lb in sp tussen vlg 2 motiewe. Herhaal op hierdie wyse tot einde van rondte en gs in 3e ks

Ry 2: 3ks, 1lb in vlg lb, werk vlg 2lb saam, *1lb in vlg lb, werk vlg 2lb saam, * herh vanaf * tot * tot einde van rondte, gs in 3e ks

Ry 3: Herhaal ry 2

Opmaak van Snerpie

Werk nou 2 rye hlb en heg af.

Gebruik 'n wolnaald en weef alle los drade weg.  Plaas om nek en hals en verlustig jou in die warmte! Lekker! :)






Lekker hekel en warm bly!