Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Mandjieweef Steek / Basketweave Stitch

 


Hallo julle!

Sjoe, maar daar het baie lanklaas enige iets hier op die webblad aangegaan. Die dae gaan so vinnig verby mens sukkel om by te bly. Ek is oortuig daarvan dat die ure beslis vinniger verby gaan soos die jare aanstap. Wat egter saak maak is dat ek vandag 'n tydjie kon inruim om ietsie met julle te kan deel. 

My dogter Erica is nou ook deel van Hekelidees en ons het groot planne vir die toekoms. Erica is mede - administreerder van ons Facebook webblad waaroor ek verheug is. 'n Groot welkom aan haar! 

Vandag wys ek vir julle hoe om die Mandjieweef steek te doen.   In Engels word dit die "Basketweave stitch" genoem want dit lyk nes 'n gevlegde mandjie. Dit is glad nie 'n moeilike steek nie en kan binne 'n japtrap aangeleer word. 

Hierdie Mandjieweef patroon herhaal met 8 steke wat bestaan uit  relieflangbene wat afwisselend om die voorkant en  agterkant van die stam van 'n langbeen gewerk word. Die geweefde patroon wat gevorm word vertoon nes 'n geweefde mandjie vandaar die naam van die steek. 

Goed kom ons oefen die steek deur 'n paar rye te hekel. Eers moet ons 'n paar sommetjies doen om te bepaal met hoeveel kettingsteke daar begin moet word. 

Om die patroon 3 keer te herhaal lees die som 3 x 8 = 24. (3 patroon herhalings x 8 steke in elke herhaling = 24 steke. Hierby moet 2 kettingsteke getel word om die aantal kettingsteke waarmee begin word te bepaal. Dus 24 + 2 = 26 kettingsteke.


Fondasie ry: Begin met 26 kettingsteke. Werk 1 lb in die 4e kettingsteek vanaf pen, hekel nou nog 1 lb in elk van die oorblywende kettingsteke. Aan die einde van hierdie ry sal daar altesaam 24 bene wees, hekel nou 3 kettingsteke en draai.

'n Relieflangbeen is niks anders as 'n doodgewone langbeen nie. Die enigste rede hoekom dit 'n relieflangbeen voor of agter genoem word is omdat die langbeen nie in die steek gewerk word nie maar om die stam van die steek. Kyk na die foto hierbo. Die naald is ingesteek van voor na agter om die stam van 'n langbeen om dan weer voor uit te kom. Dit dui presies aan hoe die relieflangbeen voor gewerk sal word, dus die hekelpen word ingesteek van die voorkant af in die spasie langs die langbeen sodat dit om die stam en weer na die voorkant toe kan uitkom. 


In die foto bo kan gesien word hoe die relieflangbeen voor vertoon. Dit is 'n doodgewone langbeen wat om die stam van 'n langbeen in die vorige ry gehekel word. Dus: relieflangbeen voor is slaan draad om pen, steek pen van voor na agter en weer na die voorkant , slaan draad om pen en trek draad deur, daar is 3 lusse, slaan draad om pen, trek deur 2 lusse, slaan draad om pen en trek deur oorblywende 2 lusse.  Die afkorting vir hierdie steek is rlbv (In Engelse terminologie UK genoem frontpost treble - fptr en Amerikaans USA frontpost double crochet - fpdc)



'n Relieflangbeen agter word weer van die agterkant af ingesteek, om die stam en die pen kom dan uit aan die agterkant sodat die langbeen voltooi kan word. Dus: relieflangbeen agter is slaan draad om pen, steek pen van agter na voor en weer na agter, slaan draad om pen en trek draad deur, daar is 3 lusse, slaan draad om pen, trek deur 2 lusse, slaan draad om pen en trek deur oorblywende 2 lusse. Die afkorting vir hierdie steek is rlba (In Engelse terminologie UK genoem backpost treble - bptr en Amerikaans USA backpost double crochet bpdc)



Ry 1 en ry 2 is dieselfde: Werk 3 relieflangbene van voor om die volgende 3 langbene. In die begin word daar net 3 gehekel omdat daar met die omdraai van die vorige ry 3 kettingsteke gemaak is en dit verteenwoordig die heel eerste relieflangbeen in die ry. Werk dan volgende 4 relieflangbene van agter. Herhaal die patroon deur 4 relieflangbene van voor en 4 relieflangbene van agter te hekel tot aan die einde van die ry. Hekel 3 kettingsteke en draai. 


Ry 3 en ry 4 is dieselfde: Die relieflangbene van voor staan duidelik meer na vore en die relieflangbene van agter lê na agter. Werk nou 'n relieflangbeen van agter in elk van die voorste langbene en 'n relieflangbeen van voor in elk van die agterste langbene. Die volgorde van die steke word dus omgekeer.  Hierdie 2 rye sal dus lees: 3 relieflangbene van agter, 4 relieflangbene van voor, 4 relieflangbene van agter ens. 


  Ek hoop julle kan die steek goed gebruik. Op die foto bo kan gesien word hoe die patroon gevorm word. Dit is 'n baie kompakte patroon en hier gehekel met 'n Chunky draad en 6 mm hekelpen, maar dit kan maklik met 'n groter pen gewerk word om die eindproduk meer sagtheid te gee. Die beste raad is om 'n stukkie te oefen met 'n paar verskillende groottes hekelpenne voordat daar met 'n projek begin word.  Sal heerlik wees om hierdie patroon te gebruik vir handsakke, komberse, kussings, hoedjies en enige patroon waar tekstuur verkry wil word. 'n Pragtige patroon om by jou versameling te voeg. 

Tot volgende keer warm bly julle!

Lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica