Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label leer hekel. Show all posts
Showing posts with label leer hekel. Show all posts

Spykersteek


Die Spykersteek 


In Afrikaans noem ons dit die Spykersteek.
In Engels genoem die Spike Stitch.

Hierdie steek is dekoratief en kan op allerlei maniere gebruik word in hekelwerk. 

Boonop is dit maklik om te onthou want die naam vertel al klaar hoe die steek vertoon.  Kyk mooi en jy sal sien dit lyk net soos 'n ry spykers met die koppies wat ewe netjies bo uitsteek. Ek hou daarvan om assosiasie te gebruik wanneer ek iets nuuts leer. Wanneer ek dink aan die Spykersteek sien ek 'n stukkie hout met verskillende lengtes van spykers wat in 'n ry daarin gekap is. Sou die hout in die lengte dwars gesaag word sal mens die spykers kon sien. 

Die hout verteenwoordig vir my die hekelwerk wat eers gedoen moet word sodat die "spykers" daarin gekap kan word. 

Hout = 'n paar kortbeen rye
Spykers = lang verlengde kortbene wat bo-oor die kortbeen rye lê 

Ek hoop dit maak sin julle .....

Kom ek wys gou vir julle hoe maklik dit is. 

Afkortings gebruik: ks = kettingsteek; kb = kortbeen; vlg = volgende; 



Spykersteek is niks anders as 'n verlengde kortbeen nie! Kom ek wys hoe maklik dit is! 

Gryp 'n hekelpen en oorskietwol in 2 verskillende kleure en oefen gou so stukkie.  

Begin met 20 ks in kleur A

Ry 1: kb in 2e ks vanaf pen,  1kb in elk van vlg 18ks, [19kb in ry], 1ks, draai

Ry 2: 19kb, 1ks, draai

Ry 3 - 7: Herhaal ry 2 en aan einde van 7e ry kan draad geknip word en 2e kleur gelas word.


Ry 8:  kb in elk van vlg 2kb, 


steek nou die pen in reg onder die volgende kb, met ander woorde slaan 1ry oor en steek die pen onder die vlg kb in. Op die foto dui die speld aan presies waar hierdie steek gemaak moet word. 









Maak 'n gewone kb in die aangeduide plek en trek die draad egalig na bo. Let daarna op dat die draad nie te styf opgetrek word sodat dit die hekelwerk op 'n knop trek nie. Dit moet net genoeg getrek word sodat dit gelyk en presies op dieselfde hoogte is as die ry waarmee besig is. 

Raai wat? Jy het jou eerste spykersteek gehekel. Maklik is dit nie? Die steke kan in enige patroon oor enige aantal rye gemaak word nes jy wil.



In die foto hierbo kan gesien word hoe 'n dekoratiewe patroon verkry word deur die Spykersteek te gebruik. Daar is ook 2 en 3 rye oorgeslaan om die "spykers" dieper te laat vertoon. Die belangrikste om te onthou is dat daar altyd reg onder die volgende steek ingehekel moet word. Tel maar in die begin die aantal steke in 'n ry totdat jy die steek verstaan anders kan daar maklik 'n steek oorgeslaan word of dit kan ook gebeur dat jy dalk vermeerder. Onthou elke Spykersteek neem die plek in van 'n kortbeen in daardie ry. 

 
Hier het ek in rooi 7 rye kortbene gehekel, in groen 1 ry spykersteek en 3 rye kortbene. Daarna het ek oorgeslaan na rooi en 1 ry spykersteek gewerk. Dit behoort julle 'n idee te gee van hoe hierdie steek gebruik kan word om 'n patroon te vorm.

Jy ken nou nog 'n steek wat jy kan byvoeg om jou hekelwerk mee op te tower van gewoon na uniek. Maak dit jou eie en ontwerp jou eie patrone! 

Lekker hekel en geniet dit! 


Waar word die hekelpen deurgesteek?

"Waar presies moet die hekelpen ingesteek word?" is 'n vraag wat ek al soveel keer moes beantwoord. Dit is 'n baie goeie vraag want wanneer mens al vir jare lank hekel is sommige dinge vanselfsprekend maar vir diegene wat nou eers leer hekel is dit iets wat baie keer nie aangespreek word nie en dit is belangrik om die hekelpen op die korrekte plek deur te steek. 

Op die foto links dui die swart kolletjies die plek aan waar elke steek lê. Daar is 2 lusse  aan die bokant van elke steek. Dit is in die vorm van 'n "V" met twee lusse, een aan die voorkant en een aan die agterkant.  Daar kan dus in die steek gewerk word wat beteken die pen steek onder deur die 2 lusse. Daar kan ook deur die agterste lus of deur die voorste lus gewerk word maar dit sal so aangedui word op 'n patroon. Werk dus altyd jou steek onder deur die 2 lusse. 


Hier dui die groen pennetjie die plek aan waar die hekelpen deurgesteek word. Wanneer 'n patroon dus soos volg lees. [1lb in elk van vlg 3 lb] of [1hlb in lb] ens. dan beteken dit daar word onder deur hierdie 2 lusse gewerk. Dit is die plek waar jy enige steek werk. 




Wanneer jy tussen twee steke moet werk word die pen tussen die bene of stam van steke deurgesteek
 





Daar word altyd na  'n spasie verwys wanneer daar in die vorige ry of rondte 'n kettingsteek of aantal kettingsteke gemaak is. 



Hier kan gesien word wat bedoel word met om die stam of been van 'n steek. Die groen pennetjie wys hoe die pen van agter na voor en dan weer na agter om die stam gesteek word. 



Hier word die pen van voor na agter en dan weer na voor om die stam of been van 'n langbeen gesteek.










Kyk na die donkerblou steke. Daar is 2 spasies waar 1 kettingsteek in die vorige ry gewerk is. Die twee regterkantste langbene is in die vorige langbene gemaak. Daar is ook twee reliefbene gemaak. Die been net na die spasie op linkerkant is van agter gewerk en lê meer terug. Die volgende reliefbeen is van voor gewerk en staan meer uit na vorentoe.  





Lekker hekel!

Tutoriaal: Leer hoe om 'n 'Granny Square' te hekel.

Stap vir stap aanwysing! Leer hoe om 'n Ouma Blokkie of Granny Square soos meer algemeen bekend staan, te hekel.


 
  
Hierdie tutoriaal is spesiaal vir almal wat wil leer hekel en die Granny Square of Ouma Blokkie is ideaal vir die beginner. Volg die aanwysings en leer stap vir stap hoe om te werk te gaan. 

Stap 1.

Hierdie heel eerste steek op jou hekelpen is 'n glipknoop en word nie getel as die eerste steek nie maar is slegs 'n beginpunt.

Volg stappe 1,2 en 3 soos die instruksies op die illustrasies aan die linkerkant demonstreer.


Stap 2.

Die gare of wol is nou gereed op die pen en die eerste kettingsteek[ks]kan gemaak word deur die draad  om die pen te slaan en deur die beginknoop te trek.

Maak nou nog 4 kettingsteke.Dit gee jou 5 voltooide kettingsteke.

Let op dat die hekelpen se hakie na onder wys wanneer die draad deurgetrek word. Die spanning is reg indien jy die hekelpen maklik kan deurtrek. 

Onthou hekel is onstpannend so moenie styf werk nie en ontspan jou hande. Sit gerieflik en geniet dit. Indien jy sukkel in die begin onthou ons het almal eens op 'n tyd ook gesukkel. 

Stap 3. 
Glipsteek [gs] in die heel eerste ks om sodoende 'n ring te vorm. Wanneer jy 'n glipsteek maak steek jy die pen in die steek, slaan die draad om die pen en trek die draad deur die steek sodat daar net een lus op jou pen oorbly.



Ons wil 'n glipsteek maak in die heel eerste kettingsteek en moet die pen dus insteek reg waar ons begin het. Kyk na die fotos links om te sien presies waar hierdie glipsteek gemaak word.












Dus: Steek die pen in die eerste kettingsteek, slaan die draad om pen en trek deur albei lusse op pen. Die ring is nou gereed en daar kan begin word met die heel eerste ry.



Ry 1. Die eerste ry se steke word almal binne in die ring gemaak.Vroetel met jou duim en voor-vinger in die ring om seker te maak jy weet presies waar die binnekant van die ring is. 



Die foto aan die regterkant demonstreer hoe 'n langbeen [lb] gemaak word.

Die stappe binne die ring is:

Slaan die draad om pen, steek in die spasie, haak die wol en trek dit deur die ring op na bo.Daar is 3 lusse op die pen. Slaan draad weer om pen en trek deur  2 lusse, slaan draad om pen en trek deur albei lusse. Daar is nou 1 lus op pen. Dit voltooi die eerste langbeen.

Goed noudat jy weet hoe 'n langbeen gemaak word volg die instruksies.





Begin met 3ks,2lb, 2ks, 3lb, 2ks, 3lb, 2ks, 3lb, 2ks en glipsteek in die 3e ks waar jy begin het. Dit voltooi die ry. 

Daar is altesaam 12 bene wat getel kan word. Die eerste 3 ks dien as plaasvervanger vir die 1e lb en word altyd gemaak wanneer jy met 'n nuwe ry begin wat bestaan uit langbene. Dit lyk net soos 'n langbeen wanneer jy daarna kyk en dit is 'n manier om ook hoogte te gee vir die volgende lb wat gemaak moet word. Hierdie 3 ks word net 1 keer gemaak en altyd aan die begin van die ry. Knip die draad en werk die los drade weg deur 'n wol naald te gebruik en tussen die steke deur te weef soos op die foto aan die regterkant gewys word.
 
Ry 2.

Heg nou die wol in enige hoekspasie deur die wol om die pen te slaan en deur die spasie te trek.

Maak een kettingsteek en maak 'n knoop aan die agterkant deur die kort draad te knoop met die werkende draad soos die foto links onder illustreer.




Nou is jy gereed om met ry 2 te begin.

Maak nog 2 ks en onthou hierdie eerste 3 ks is die plaasvervanger vir die eerste langbeen.






Jy gaan nou die eerste hoekspasie werk. Maak 2lb, 2ks, 3lb in dieselfde spasie. [foto links]








Maak nou 2ks en werk nou in die volgende hoekspasie weer [3lb, 2ks, 3lb] [foto links]








Herhaal hierdie stappe totdat al 4 hoekspasie gewerk is.

Maak weer 2ks en glipsteek in die boonste deel van die 3ks. [foto links dui aan waar die glipsteek gemaak word]
Die foto links wys hoe die blokkie nou lyk nadat die glipsteek gedoen is.

Sny die draad en trek deur die lus. Weef draad weg.





Ry 3:

Heg volgende kleur weer soos voorheen verduidelik en werk hoekspasie. Onthou 'n hoekspasie bestaan uit twee groepies wat bestaan uit [3lb,2ks,3lb], maar die heel eerste hoekspasie van enige ry bestaan altyd uit [3ks,2lb,2ks,3lb]

Elke spasie tussen die hoekie bestaan uit slegs 3 lb en tussen in altyd 2ks om die groepie van 3lb te skei en 'n spasie te maak.

Ry 3 lees dus as volg:

Heg kleur en werk eerste hoekgroep,[2ks, 3lb in vlg sp,2ks, hoekgroep] Herhaal tot al 4 hoeke gewerk is. Eindig weer deur 'n glipsteek te maak in die boonste punt van 3ks soos vorige ry.

Hierdie is die basiese patroon vir die blokkie. Jy kan dit so groot maak soos jy wil. Onthou net met elke ry gaan daar meer spasies tussen die hoeke wees. Elke spasie tussen die hoeke bestaan uit slegs 3 langbene. Na elke 3 langbene is daar altyd 2 kettingsteke om spasie te maak vir die volgende ry.

Hoop die tutoriaal is duidelik genoeg sodat julle sommer dadelik kan begin met julle blokkies.

Lekker hekel!