Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label aanmekaar las van hekel blokkies. Show all posts
Showing posts with label aanmekaar las van hekel blokkies. Show all posts

Tutoriaal: Vashekel van blokkies met kortbene.


[Klik vir voller grootte]


Kortbene aan die regterkant kan baie dekoratief wees. In die boonste foto van die kombers wat uit oorskiet wolle bymekaar gesit is het ek rooi gebruik om al die blokke aan mekaar vas te hekel. Die rooi kortbene vorm 'n rif wat duidelik sigbaar is en bind al die kleure bymekaar as 'n geheel. Dit is ook 'n vinnige en maklike manier om blokke vas te hekel. 

Hieronder verduidelik en illustreer ek hoe te werk gegaan moet word.


Begin deur twee blokke teenmekaar te plaas sodat die verkeerde kante aan die binnekant is.  

Steek die hekelpen deur die onderste twee lusse van  hoeksteek in die voorste blokkie en ook deur die ooreenstemmende hoeksteek in die agterste blokkie en trek draad deur. 



                                                                                         


Werk 'n kettingsteek en knoop die kort draad en werkende draad vas aanmekaar.

Werk nou kortbene deur hekelpen eers deur die voorste steek en dan deur die ooreenstemmende steek in die agterste blokkie te steek. Slaan draad om pen en trek deur albei steke na voor. Daar is 2 lusse op pen. Slaan draad weer om pen en werk deur albei lusse op pen.

Dit voltooi die eerste kortbeen.

Herhaal deur op die wyse kortbene deur albei blokkies tegelykertyd te werk. 

Wanneer jy die volgende hoeksteek voltooi het neem die volgende twee blokkies en voltooi weereens deur die eerste kortbeen in 'n hoeksteek te maak en dan in elke ooreenstemmende steek te werk. 
Voorbeeld: Die kombers bestaan uit 40 blokke
5 blokke vir die breedte van die kombers
8 blokke vir die lengte van kombers
Begin deur 5 blokke vas te hekel [Eerste strook]
Neem volgende 5 blokke en hekel aan die eerste strook vas. [Tweede strook]
Neem volgende 5 blokke en hekel an die tweede strook vas. [Derde strook] 

Werk al die blokkies so aanmekaar vir die totale lengte van projek en voltooi al die lengtes. 

Nou moet al die vertikale sye vasgehekel word. Vou die blokke nou in posisie sodat die dele wat nog nie  aanmekaar vas is nie, nou weer horisontaal lê en die stroke wat klaar vasgehekel is lê nou vertikaal. 

Begin weer by die eerste hoeksteek en voltooi die eerste blokkie totdat jy by die volgende hoeksteek kom.



Wanneer jy die eerste blokkie voltooi het en wil oorgaan na die volgende blokkie se hoeksteek moet daar eers 1 kettingsteek gemaak word voordat jy oorbeweeg na die volgende blokkie.

Hier kan duidelik gesien word hoe die kettingsteek  bo oor die eerste ry kortbene lê.

Voltooi al die blokke op hierdie manier.

Al die blokke is nou vasgehekel. Dekoratief, stewig en vertoon ook netjies.




 Lekker hekel almal!


Hoe om hekelblokkies aanmekaar te werk.

Dit gebeur met almal van ons. Ons leer hoe om te hekel en begin ywerig om die een blokkie na die ander te hekel. Kort voor lank is daar 'n hopie blokkies en dan skielik besef jy dat jy nie 'n idee het hoe om hulle bymekaar te kry nie. Wonder jy ook hoe om al jou blokkies aan mekaar vas te werk? Jy hoef nie verder te wonder nie want dit is eintlik vreeslik maklik.

Daar is verskeie maniere om te werk te gaan. Jy kan die blokkies met rugkante teen mekaar sit en dan 'n ry kortbeentjies deur albei blokkies werk. Met ander woorde doen een kortbeentjie wat deur albei blokkies se ooreenstemmende steke gelyk gedoen word. Hierdie manier veroorsaak dat 'n riffie geskep word en dit kan mooi en dekoratief lyk maar daar is tye wanneer jy die las so onopsigtelik as moontlik wil hou.  En dit is wat ek vandag vir julle wil wys. 

Onsigbare aanmekaar werk van gehekelde blokkies

Plaas die blokkies plat langs mekaar.

Gebruik altyd 'n stomp naald vir die vaswerk van hekelwerk. Dit is noodsaaklik want 'n skerp naald kan die gare of wol split en baie onnet vertoon. 

Ryg die draad deur die naald en begin werk deur onder deur die boonste twee lusse van die blokkie aan die linkerkant te steek.





Voltooi die steek en beweeg dan met die naald oor na die blokkie aan die regter kant.






In die foto links kan duidelik gesien word hoe die naald van bo af deur die boonste twee lusse gesteek word.

Herhaal deur die bogenoemde stappe te volg.

Wees versigtig om nie die gare of wol te styf te trek nie, maar wel stewig genoeg dat dit nie gesien kan word nie.
Rugkant
Voorkant 














Die eindresultaat: 'n Netjies las wat moeilik is om raak te sien!

Daar is natuurlik nog vele ander maniere maar hierdie bly vir my die beste manier. Nou kan jy aan die werk spring en ook jou blokkies aanmekaar begin vaswerk. 

Lekker hekel almal en sterkte met die vaswerkery. Dit is 'n tydsame proses maar dink net hoe trots jy gaan wees om jou handewerk te wys.

Lekker hekel en mooi bly almal!