Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.
Showing posts with label sig-sag patroon. Show all posts
Showing posts with label sig-sag patroon. Show all posts

Tutoriaal: Hoe om 'n sig-sag patroon te hekel.

Wou jy nog altyd geleer het hoe om die sig-sag patroon te doen? Hier is maklike stap vir stap aanwysings.


Die aantal steke word soos volg uitgewerk. Elke herhaling van die patroon bestaan uit 18 steke. Dus sorg dat die aantal kettingsteke waarmee jy begin daarin deelbaar is. Tel nou nog 3 steke by. Die 3 ekstra steke word gemaak vir die draaisteek wat die eerste langbeen vervang. Vir hierdie tutoriaal gaan ons 2 herhalings doen wat beteken 18+18+3=39. Ons begin dus met 39 kettingsteke.

Hoe word 'n langbeen gemaak? Indien jy nie weet nie, volg hierdie stappe:



Slaan die draad om die pen en druk pen deur steek, haak die wol en trek deur die steek en effens na bo [3 lusse op pen]


Slaan die draad weer om die pen en trek deur slegs 2 lusse [2 lusse bly oor op pen]


Slaan die draad weer om die pen en trek deur die 2 oorblywende lusse op pen [1 lus bly oor]

Geluk! Jy het so pas 'n langbeen gemaak. :)








Goed, kom ons begin met die sig-sag patroon!

Maak 39 kettingsteke

Ry 1: Werk nou 1 langbeen in die 4e ks vanaf pen,maak 1 langbeen in elk van die volgende 6 kettingsteke. 

 
Nou gaan jy verminder in die volgende 2 kettingsteke. Om te verminder moet 2 langbene gemaak word wat saam afgewerk is. Die stappe wanneer 2 langbene saam afgewerk word is soos volg: 

Hoe word 2 langbene saam afgewerk?


Verminder
* Slaan draad om pen, steek hekelpen deur volgende kettingsteek, haak wol en trek deur steek na bo, [3 lusse], slaan draad om pen en trek deur 2 lusse, slaan draad om pen, steek pen in volgende kettingsteek, haak wol en trek deur steek na bo, [4 lusse], slaan draad om pen en trek deur 2 lusse, slaan draad om pen en trek deur oorblywende 3 lusse tesame. * Herhaal hierdie stap vanaf * tot * oor die volgende 2 kettingsteke. Jy het nou 2 verminderings gedoen.Die foto illustreer hoe die 2 saamgewerkte langbene lyk.   

Werk oor die volgende 6 kettingsteke 1 langbeen in elke kettingsteek. Jy sal merk dat die eerste kurwe van jou patroon nou duidelik begin wys en met 'n hoekie na onder trek en dan weer na bo loop.
Vermeerder

Hoe word in die volgende 2 langbene vermeerder?


Nadat jy die 6 langbene voltooi het moet ons nou in die volgende 2 steke weer vermeerder. Vermeerder beteken ons moet 2 langbene in dieselfde steek doen so in die volgende 2 kettingsteke gaan jy nou 2 langbene in elkeen maak.

Werk nou weer 6 langbene in die volgende 6 kettingsteke.

Doen dan weer 2 verminderings deur die stappe soos bo  te volg in die volgende 4 kettingsteke. Nadat jy dit voltooi het bly daar nou nog 7 kettingsteke oor tot die einde van die ry. Werk 6 langbene en in die heel laaste kettingsteek werk jy 2 langbene, 3 kettingsteke en draai.


Maak die eerste langbeen van elke ry in die heel eerste gaatjie soos aangedui op die foto. Werk dan 6 langbene, 2 verminderings, 6 langbene, 2 vermeerderings, 6 langbene,2 verminderings, 6 langbene, 2 langbene in laaste steek, 3ks en draai

Hierdie stappe kan nou net herhaal word. Die sig-sag patroon is nou in plek!


Die illustrasie links wys hoe die patroon loop. Onthou daar is altyd 2 langbene aan die begin en einde van die ry.Verder moet jy net onthou om na elke 6 langbene te verminder of vermeerder. Verminder oor 4 langbene en vermeerder oor 2 langbene. 

Klink dit nog steeds Grieks? Kyk na die illustrasie bo. Elke onderpunt van 'n beentjie wat ek geteken het tel 1 steek. Waar die ry begin lyk dit soos 'n V met twee sirkels aan die bo-punt.'n Sirkel met 'n been en 'n kort strepie net onderkant die sirkel stel 'n langbeen voor.  Dit beteken daar is 2 langbene in dieselfde steek gemaak. Dan sien jy 6 langbene. Volgende is die V omgedraai met vier punte onder maar slegs 2 sirkels bo. Dit beteken daar is 2 langbene saam gewerk. 

Hoop dit is duidelik genoeg! :)


 

 

 

 

 

Hoe word kleure verander?

Wanneer jy die heel laaste langbeen maak word die heel laaste stap met die nuwe kleur gedoen. Met ander woorde jy werk die langbeen tot 2 lusse oorbly op pen en trek dan die nuwe kleur deur, 3 ks en draai.

En dit is dan die sig-sag patroon! :)

Wonderlike hekelgroete vir almal!