Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tunisiese Hekel: Driehoek Serp



Hier in die Kaap het ons 'n heerlike somers week gehad. Die son het geskyn en vir die eerste keer in maande het mense rondgeloop met kaal arms. Kort kort het jy aanmerkings gehoor soos "Die somer is hier." Maar helaas was dit van korte duur want gister het die wolkies ingestroom van die see se kant af en lekker kom nestel hier teen die berg. Vroeg vanoggend toe ek opstaan was dit duidelik dat Winterman nog nie klaar gekuier het nie.  Verwarmers is weer aangeskakel en die armpies is weer toegemaak want buite waai die windjie yskoud en die wolkies gooi ons papnat hier onder. Ek het amper begin dink dat hierdie Tunisiese serp van my dalk eers volgende winter gedra sal word! ;)

Vir die van julle wat ook hou van Tunisiese hekel het ek die patroon saamgestel. Indien jy nog nie Tunisiese hekel probeer het nie wil ek ook sommer byvoeg. Dit is 'n heerlike en vinnig handwerk tegniek en inderdaad terapeuties. Doen jouself die guns en probeer dit! Ek het 'n hele afdeling oor die basiese tegnieke daarvan wat hier gevind kan word. 

Materiaal gebruik:

Lollipop Lambslook Aran en 'n nommer 7 Tunisiese hekelpen.  Lollipop Lambslook is 'n akriel draad maar dit lyk en voel nes wol. Dit is heerlik sag en die serp is snoesig en warm. 










Begin met 4ks,




Ry 1: In 3e ks trek 'n lus deur, 1ks, in vlg ks trek 'n lus deur, 1ks. [3 steke op pen]








Terugwerk ry: Werk steke af soos volg: * slaan draad om pen en trek deur 2 lusse,* herh nog 1 keer. [1lus oor op pen] 

Normaalweg moet daar met Tunisiese hekelwerk in die terugwerk ry  eers deur die eerste lus 'n ks gemaak word en daarna moet twee-twee lusse afgewerk word tot die einde maar hier word dit nie so gedoen nie. Hier word daar dadelik vanaf die begin twee-twee lusse saam afgewerk tot een lus op pen oorbly.




Ry 2: 1ks, steek pen deur die eerste vertikale balk, slaan draad om pen en trek lus deur [basiese tunisiese steek [afkorting =  btst]  Deur elke keer deur die eerste balk te werk word een steek vermeerder aan die begin van 'n ry]; werk nou 1ks, * btst in vlg st, 1ks,* herh nog 1 keer.
Terugwerk ry: Werk steke af op presies dieselfde manier as ry 1 deur twee lusse op 'n slag af te werk.









Ry 3:  1ks, 1btst in 1e lus, 1ks, *1btst in vlg lus, 1ks,* herh van * tot * tot einde van ry. 

Terugwerk ry: Volg instruksies soos vir ry 1.









Herhaal ry 3 totdat daar 60 steke op pen is. 

Nou moet daar verminder word in elke ry totdat daar weer 3 steke oor is op pen. 







Om te verminder word die 1e balk oorgeslaan en die 2e en 3e balk word saam gewerk. 


Steek die pen dus deur die 2e en 3e balk, slaan die draad om pen en trek lus deur albei.










Hier kan gesien word hoe die 2e en 3e balk saam gewerk is. 









'n Maklike en heerlike serp patroon.

Lekker hekel almal!












6 comments:

  1. Ek hou van tunisiese hekel maar het dit baie lank laas gedoen. Baie dankie vir die oulike patroon, dis defnitief op my lys van projekte.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Gipsy! Baie dankie vir jou boodskappie. Dit is 'n lekker patroon om te doen. Ek is seker jy sal dit geniet. :)

      Delete
  2. Monica

    Waar is die Lollipop gare beskikbaar?

    Ek gaan beslis begin hekel vi die winter!!

    Groete Magde

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek weet nie waar dit oral beskikbaar is nie Magde. Jy moet maar rondvra by die wolwinkels in jou omgewing. Ek het myne gekoop by The Crafters Inn in Somerset Wes.

      Delete
  3. Baie dankie!!! Ek het onlangs begin met Tunisiese werk & geniet dit, maar maklik verstaanbare patrone is min. Gaan hierdie defnislis probeer. Tx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Maritha,

      Tunisiese hekelpatrone is baie skaars en wanneer jy op iets afkom is dit gewoonlik in Grieks geskryf. Hoop jy geniet die patroon! :)

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica