Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Vashekel van blokkies: Ouma se manier.



Vir hierdie tutoriaal het ek 6 Ouma blokkies gehekel  en gaan vir julle wys hoe om dit aanmekaar te hekel sodat dit die patroon van groepies behou wat so eie is aan hierdie tradisionele blokkies. 

Geel is die kleur wat ek gaan gebruik en ek begin deur  nog 'n gewone  ry om die heel eerste blokkie te hekel presies soos wat 'n Ouma blokkie gehekel word met 3lb in elke 2ks spasie en die hoeke op presies dieselfde manier.  Voltooi die rondte en heg af. 
 Begin deur die draad te heg in enige hoekspasie van die tweede blokkie. Werk die eerste 3ks en 2lb in die hoek, maak nou 1ks en glipsteek dan in die eerste blokkie se hoekspasie. 

Merk ek steek die hekelpen van die agterkant van werk na voor wanneer ek 'n glipsteek maak. 






Werk weer 1ks en beweeg terug na die tweede blokkie. 
Voltooi die hoek in die tweede blokkie deur 3 lb te werk.
Maak weer 1ks en glipsteek in die volgende spasie van die eerste blokkie. 
Maak 1ks en werk 3lb in volgende spasie van die tweede blokkie. 
Maak weer 1ks en glipsteek in die volgende spasie van die eerste blokkie. 
Werk 1ks en werk nou weer 3lb in die volgende sp van tweede blokkie. 
Herhaal deur heen en weer te beweeg tussen die blokkies. Daar word elke keer slegs 'n glipsteek in 'n spasie gemaak in die eerste blokkie en die langbene word in die tweede blokkie se spasies gewerk met 1ks tussen-in. 

Wanneer jy by die hoek kom voltooi die eerste 3lb in hoek, werk 1ks, gs in die hoekspasie van die eerste blokkie, 1ks en werk dan die volgende 3lb weer in die hoekie. 


Hier kan duidelik gesien word hoe die twee hoeke reg teen mekaar lê. 

Herhaal deur op bogenoemde manier die rondte te voltooi, gs in die 3e ks en heg af. Twee blokkies is nou aanmekaar gehekel.  

Werk van regs na links.

Neem nou die derde blokkie en begin weereens in 'n hoekspasies. Werk 3ks, 2lb en 1ks, gs in die hoekspasie van ooreenstemmende blokkie, 1ks en werk weer 3lb terug in hoekie.  
Herhaal op dieselfde manier soos met vorige blokkies en wanneer jy by die hoekie kom glipsteek in die ooreenstemmende hoekspasie van die aangrensende blokkie.  Voltooi die rondte, gs in die 3e ks en Heg af.











Neem nou die vierde blokkie en begin weer net soos voorheen en werk tot by die volgende hoek.

Jy sal merk dat daar nou twee aangrensende sye is  wat vasgehekel moet word. Alle stappe is dieselfde as met die vorige blokkies behalwe die tweede hoekspasie word nie in die aangrensende blokkie met 'n glipsteek gewerk nie maar wel in die teenoorgestelde hoekie. 




Op die foto links is daar 'n swart kolletjie wat die plek aandui waar die vierde blokkie in die hoek met 'n glipsteek gewerk word. Dus is al die stappe  dieselfde behalwe die glipsteek waar die blokkies mekaar ontmoet is in die middel. 

Dit voltooi hierdie tutoriaal. Daar is natuurlik ook baie ander maniere om blokkies aanmekaar te hekel. Ek sal elke manier op sy eie behandel in die toekoms en mettertyd al die verskillende maniere vir julle wys. 

Lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica