Sunday, May 19, 2013

Hekel 'n 'funky' koffiebeker jassie!


©Monica Buys

 
Ons hekel 'n 'funky' kleurvolle koffiebeker jassie vandag. Nuut vars en oorspronklik. Daar is baie koffiebeker jassie patrone beskikbaar maar ek wou iets ontwerp wat anders is as die gewone en het toe hierdie ontwerp uitgedink  en ek hoop julle sal net so baie daarvan hou om dit te maak as wat dit vir my was om dit  saam te stel. 

Dit het meet en pas gekos om die ontwerp te laat werk maar ek dink my patroon is aanpasbaar genoeg om te gebruik vir enige grootte koffiebeker. 

 Ek hoop julle hou daarvan!

Ons gaan begin met die bodem.

Ek het Vinnis Colours Nikkim gebruik wat 100% katoen is en 'n 4mm hekelpen maar enige dubbeldraad sal werk.

Die bodem.


Die bodem word begin deur 'n sirkel te hekel wat plat moet wees aan die onderkant en dan knus om die beker vou.


So word die sirkel gehekel:

Begin met 4ks, gs om 'n ring te vorm. 

Ry 1: 1ks, 8hlb in ring,   gs in 1e hlb; [plaas nou 'n merker in hierdie laaste steek]


Oor die merker en die manier wat ek my merker plaas in elke rondte: 

Diegene van julle wat alreeds sirkels gehekel het sal weet dat daar gedurig 'n onooglike lasmerk wys waar daar elke keer in 'n rondte 'n glipsteek gemaak word en jy begin die nuwe ry met 2ks.  Wel, ek probeer maar altyd om die tegnieke van hekel te verbeter en die manier wat ek dit doen   is om die glipsteek te merk, slegs 1ks te maak en dan die glipsteek te ignoreer aan die einde van die rondte. Deur in die eerste volgende st te gs verbloem dit die lasplek waar die volgende ry begin is. 





Ry 2:  1ks,  werk nou 2hlb in dieselfde st en daarna ook 2hlb in elke hlb tot einde van ry. [altesaam 16hlb wat gewerk word]; haal merker uit en slaan die gs oor, gs nou in die 1e hlb en plaas die merker terug in die gs sodat jy presies weet watter steek dit is wat jy moet oorslaan.

Ry 3: 1ks, 2hlb in dieselfde st, 2hlb in elke hlb tot einde van ry [32hlb], verwyder merker, slaan gs oor, gs in 1 ehlb, plaas merker terug

Ry 4: 1ks, 2hlb in dieselfde st, * 1 hlb in elk van vlg 3hlb, 2hlb in vlg hlb, * herh vanaf * tot * tot einde van ry [dit beteken jy gaan in die vlg 3hlb net 1hlb werk maar na elke 3e hlb gaan jy in die 4e een 2hlb werk]; eindig deur weer die merker te verwyder, slaan gs oor, gs in 1e hlb

My beker se bodem het net 3 rye nodig gehad. Indien jou bodem nog groter is as ry 4  kan jy nog 'n ry of 2 ekstra hekel deur ry 4 te herhaal maar vermeerder met elke ry net die aantal steke wat tussen die vermeerderings lê. Dit beteken ry 5 sal lees 1hlb in elk van vlg 4hlb, 2hlb in vlg hlb en ry 6 sal lees 1hlb in elk van vlg 5hlb, 2hlb in vlg hlb. Verder doen jy alles presies dieselfde totdat die  sirkel dieselfde grootte is as  van die  onderkant van die beker.

Nou gaan ons ophou vermeerder sodat die jassie kan begin vou om die beker. So doen ons dit:

Vlg ry en elke ry hierna totdat hierdie  deel van die jassie voltooi is: 1ks, 1hlb in dieselfde st, 1 hlb in elke hlb tot einde van ry, gs in 1e kb..

Die merker word altyd op dieselfde manier verskuif soos voorheen wat beteken dat jou aantal steke vanaf hierdie ry dieselfde bly. Ek het gehekel tot by ry 3 en het dus 32hlb wat ek nou gaan herhaal totdat ek die verlange lengte bereik het.

Hekel totdat dit die onderste deel van die koffiebeker se oor bereik, heg af  en werk dan die rand soos volg:

Randjie:

Heg die volgende kleur in enige hlb, *  2ks, 2lb [langbene] in dieselfde st, slaan vlg 2hlb oor en gs in vlg hlb,* herhaal vanaf * tot * tot einde van rondte en gs terug waar begin is. Heg af.






Boonste deel van jassie:

Begin met 5ks, 1hlb in 3e ks vanaf pen, werk nog 2hlb, 2ks, draai

Vlg ry: 1hlb in 1e hlb, 1hlb in elk van vlg 2hlb,  2ks draai

Herhaal hierdie laaste ry totdat die bandjie lank genoeg sodat dit rondom die beker kan pas vanaf die oor se een kant tot by die ander kant van die oor. Maak 4ks, vou die bandjie in die rondte sodat dit 'n sirkel vorm en  gs nou in die teenoorstaande hoek van die begin van die bandjie, 1ks en werk nou 'n ry kb om hierdie boonste rand en wanneer jy by die 4ks kom werk 4kb bo oor en gs in die 1e kb. Heg af.

Heg vlg kleur aan die onderste rand en herhaal dieselfde randjie wat gebruik is vir die onderste deel maar in plaas van om in hlb te werk moet daar nou in die sykante van rye gewerk word. Sorg net dat die steke eweredig uitmekaar lê. Heg af.


Blommetjies:  Gebruik 'n 4 draad vir die blommetjie met 'n 3.25mm hekelpen. Vir hierdie tutoriaal is  Elle Premier 4 ply katoen in 3 verskillende kleure gebruik.


Begin met 6ks, gs om ring te vorm



Werk in ring soos volg: kb in ring, * 1ks, 2lb, 1ks, kb terug in ring, * herh vanaf * tot * nog 5 keer, gs in 1e kb. Heg af.



Werk nou alle los drade weg met 'n wolnaald.

Gebruik silwer ringetjies en haak die blommetjies vas aan hekelwerk soos op die fotos geillustreer word.





Hekel ook 'n kettingsteek band van sowat 100ks en ryg dit deur aan die boonste deel sodat dit stewig vasgetrek kan word om beker met 'n strikkie wat bokant die oor sit.
©Monica Buys

Jou beker se jassie is kant en klaar! 

Geniet dit :)
Groete en lekker hekel!

Tuesday, May 14, 2013

Gratis Patroon: Rosekant Blokkie

'n Splinternuwe patroon wat ek so pas klaar geskryf het vir al die liewe lesers van Hekel Idees. 

Dankie vir julle ondersteuning! 





Lekker hekel! :)

Saturday, May 11, 2013

Tutoriaal: Gehekelde Strepe: Ouma Se Manier






Wat jy alles gaan leer in hierdie tutoriaal!


Hoe om hekelwerk te begin sonder 'n lang kettingsteek ry. Begin dadelik met 'n ry kortbene!

Hoe om die Ouma Blokkie patroon te hekel in lang rye in plaas van 'n vierkantige blokkie.

Die patroon word gewerk oor 'n veelvoud van 3 steke plus 1 ekstra steek.

Bo en onderste rye vertoon dieselfde
Vir hierdie tutoriaal gaan ons begin werk met 'n 25kb beginstrook-ry en ons gaan dit doen sonder om eers 'n lang kettingsteek strook te hekel.


Deur dadelik met 'n ry kortbene te begin gee dit die begin van jou werk meer elastisiteit en die bo en onderkant van jou werk vertoon presies dieselfde en voorkom ook terselftertyd dat werk skeeftrek. Hierdie tegniek is ook uitstekend om te gebruik as 'n basisry met die maak van kledingstukke.



Instruksies vir die 25kb beginstrook is dan soos volg:


Begin soos normaal deur 'n glipknoop te maak op hekelpen.

Maak 1ks, steek hekelpen deur 1e ks en trek draad deur, [2 lusse op pen] slaan draad om pen en trek deur slegs die 1e lus op pen. 


Die foto regs wys hoe die steek vertoon. Daar is nog steeds 2 lusse op die pen. 






Slaan die draad weer om pen en trek nou deur albei lusse. 



Dit voltooi die eerste kortbeen soos gesien kan word in die foto aan regterkant. 



In die volgende stap is dit baie belangrik om die hekelpen deur die korrekte lusse te steek. Let mooi op deur die foto te bestudeer. Die pyltjie wat van die hekelpen na die spasie wys is die plek waar die hekelpen deurgesteek moet word. Tilt jou werk en kyk na die onderkant, Jy sal merk daar is twee lussies wat vorm aan die onderkant. Die swart kolletjie op die voorste lus kan duidelik gesien word op die foto. Daar is nog 'n lus wat net agter hierdie voorste lus gesien kan word en word met die kort pyltjie aangedui. 



Steek die hekelpen in die spasie sodat die 2 lusse knus om die hekelpen gesien kan word. Slaan draad om pen en trek deur. 


Slaan draad om pen en trek deur die eerste lus. 

Slaan draad om pen en trek deur albei lusse. Dit voltooi die 2e kb.


Steek pen deur 2 lusse soos reeds bespreek, slaan draad om en trek deur,

Slaan draad om en werk deur 1 lus.

Slaan draad om en werk deur 2 lusse.

Dit voltooi die 3e kb.



Herhaal hierdie stappe totdat jy die verlangde aantal kortbene gewerk het. 


Op die foto regs kan gesien word hoe die twee lusse aan die onderkant 'n netjiese rand vorm. 

Indien jy sukkel met hierdie eerste kortbeen ry, begin  met 26ks, kb in 2e ks vanaf pen, werk nou nog 24 kb, 3ks en draai. Volg dan die patroon vanaf ry 2.

Basisry is dan soos volg:

Ry 1: Werk 'n 24kb beginstrook, 3ks draai

Ry 2: 1lb in 1e kb, slaan 2kb oor, werk 'n 3langbeen groep in vlg kb,[langbeengroep beteken 3lb in dieselfde st[afkorting=3lbgr]; * slaan vlg 2kb oor, 3lbgr in vlg kb,* herh vanaf * tot * tot 7 groepe voltooi is, slaan vlg 2kb oor en werk dan 2lb in laaste st, 3ks draai

Ry 3:  3lbgr in vlg spasie, [spasie tussen die 1e 2lb en  3lbgr]; werk nog 7 groepe in elke sp, [8gr in ry]; 1lb in bo-punt van 3ks, 3ks, draai

Ry 4: 1lb in vlg spasie, werk weer 7 3lbgr, 2lb in 3ks sp aan einde van ry, 3ks, draai

Indien jy wil kleure verander: Werk ry 4 tot by die laaste 2lb en voltooi die 1e lb, werk dan die 2e lb tot 2 lusse oor is op pen en trek dan die nuwe kleur deur, knoop die twee kleure dan aan die agterkant en maak dan 3ks en draai. Die los drade kan later met 'n wolnaald weggewerk word.

Herhaal rye 3 en 4 deurgaans en verander kleure volgens keuse. Hierdie is 'n baie lekker patroon wat maklik  is en ideaal vir  'n lekker knus  oor die skoot-kombers. 

Lekker hekel almal!



Thursday, May 9, 2013

Tutoriaal: Hoe om reguit rye in langbene te hekel sonder gate!

 Reguit langbeen rye sonder opsigtelike gate aan die begin van rye. 


Sukkel jy om jou sye reguit te hou wanneer jy langbene in rye hekel? 

Is daar onooglike en opsigtelike gate aan die begin van jou rye?


Indien enige van hierdie vrae jou al hoofbrekens besorg het hoef jy nie verder daarmee te sukkel nie. Kom ek wys jou my manier om die sye reguit en sonder gate hekel.


Ons het geleer dat drie kettingsteke 'n langbeen vervang en moet gemaak word wanneer ons met 'n nuwe langbeen ry begin,maar wanneer jy dan draai en jou volgende steek in die tweede langbeen maak veroorsaak dit dat jou eerste en tweede langbeen nie netjies langs mekaar staan nie. Daar vorm 'n baie opsigtelike spasie wat regtig nie mooi vertoon nie.


Hier is 'n toets-strook wat ek so gehekel het. Let wel dit is nie verkeerd nie en dit is hoe ons geleer is om dit te doen en meeste patrone en tutoriale sal dit ook so beskryf en illustreer. 

Soos ek reeds genoem het is dit korrek wanneer jy dit so doen, maar korrek beteken nie altyd dit kan nie verbeter word nie.

Ek het so deur my hekeljare 'n beter manier gekry om dit te doen. Dit word nerens so aangedui nie en dit is my eie manier. Jy kan dit ook so doen of hou by die manier wat jy geleer is. Ek verkies egter my manier omdat dit nie so 'n opsigtelike spasie maak aan die begin van rondtes nie en my tegniek verleen hom daaraan toe dat my sye ook netjieser vertoon. Dit is my mening en julle mag maar verskil of dalk weet jy van 'n ander manier om dit te doen. Hoe dit ookal sy, ek wil net graag my manier met almal deel.





Hier is my demonstrasie strook wat ek stap vir stap met julle sal deurgaan




 
Begin met 13ks

Ry1: 1lb in die 4e ks vanaf pen, 1lb in elk van die vlg 10 oorblywende ks, draai sonder om enige kettingsteke te maak







Ry2:gs in 1e lb,









 2ks, 1lb in elk van vlg 9lb,
















Werk nou die heel laaste lb in die 2e ks en nie in die bo-punt van die 3ks nie, draai sonder om enige kettingsteke te maak









Ry 3 is die laaste stap en stel die res van die steke in plek. Van hier af word al die rye op hierdie manier gedoen.

Ry 3: gs in 1e lb,[soos voorheen verduidelik] 2ks, 1lb in elk van vlg 9lb, werk nou  die heel laaste langbeen in die heel eerste ks van die draai-kettingsteek en nie in die bo-punt van die draai-kettingsteke nie.




Wanneer ek hierdie laaste steek maak trek ek my langbeen draadjie so effens langer as normaal. Die uiteinde is 'n netjies syrand en geen opsigtelike gate nie.



In die boonste foto kan die verskillende tegnieke duidelik gesien word. Die strook aan die linkerkant is volgens my eie tegniek gehekel en die strook aan die regterkant is volgens hekelboeke se aanwysings gedoen.

Dit voltooi my aanwysings! Hoop dit los menige probleme op vir julle. 

Lekker hekel!

Tuesday, May 7, 2013

Gehekelde Blommetjie vir Kaartjie


Hier is die patroon vir hierdie gehekelde blom wat op die kaartjie verskyn in my vorige artikel.

Gebruik Hekelgare no. 8 en hekelpen 1,5mm.

Ry 1: Begin met 'n garesirkel, 3ks, 15lb in sirkel, gs in 3eks

Ry 2: 3ks, * slaan vlg lb oor, in vlg lb werk [1lb,3ks,1lb]*; herh vanaf * tot * nog 6 keer, slaan vlg lb oor, 1lb in 3ks basis, 3ks, gs in bo-punt van begin 3ks  [8 spasies]

Ry 3: gs in vlg lb, *werk in 3ks sp die vlg [1hlb,3lb,1hlb]; gs in vlg lb;* herh vanaf * tot *  nog 7 keer en Heg af. 

Lekker hekel!

Monday, May 6, 2013

Hekel Idee: Handgemaakte Kaartjie met Gehekelde Blom

'n Handgemaakte kaartjie is altyd 'n wenner. 

 



Gebruik papier in kleur van jou keuse. Ek het wit papier gebruik met 'n dikte van 240gsm.

Sny in verlengde grootte. My kaartjie is 21cm x 15,5cm wat in die helfde gevou 'n kaartjie gee van 10,5cm 15,5cm.



Nadat jy die grootte uitgesny het, vou die kaartjie in die helfde en stryk die vou plat met 'n beenvou. 'n Kredietkaart werk ook goed genoeg indien jy nie 'n beenvou het nie.




Sny uit dekoratiewe papier 'n grootte wat effens kleiner is as die kaartjie. Ek het 'scrapbook' papier gebruik. 

 
Ons gaan nou borduursteke maak rondom die papier maar moet eers gaatjies in die papier maak.'n Goeie idee is om die papier te werk met 'n ongerygde naaldwerk masjien. Dit help om die gaatjies eweredig te hou en die gaatjies loop dan ook sommer in 'n mooi reguit lyn. Baie makliker om dan te borduur!




Gebruik enige hekel katoendraad in 'n nommer 8 om kruis stekies om al vier die randte te werk.

Hekel 'n blommetjie met dieselfde katoen wat gebruik is vir die borduur stekies en werk 'n knopie aan die binnekant.

Gebruik 'double sided tape' om alles in plek te hou. 

So maklik soos dit! 'n Handgemaakte kaartjie vir iemand spesiaal.  



Hekel groete!