Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Kleur Inspirasie #1


Besorg dit jou hoofbrekens wanneer dit kom by die kies van kleure vir 'n nuwe projek? 

Het jy 'n gunsteling kleur maar weet nie hoe om ander kleure daarby te gebruik nie? 



Hierdie is die eerste artikel wat handel oor kleur en in die toekoms beplan ek om verskillende kleurkombinasies te bespreek. 




Ons word elke dag omring met kleur en daar is soveel wat by ons verby gaan sonder dat ons enige aandag daaraan gee. Om kleure bymekaar te sit is 'n kuns op sy eie en kan 'n projek maak of breek. Jy kan die mooiste hekelpatroon gebruik maar die verkeerde kleure gebruik en dit sal nie naastenby soveel impak hê nie.

Tekstiel ontwerp is 'n wonderlike bron vir kleur inspirasie. Het jy 'n gunsteling bloes of kledingstuk? Indien jy nie het nie kan jy deur tydskrifte blaai of dalk is daar 'n kleurvolle toppie in die winkel en die kleure wat saam gebruik word, is vir jou te pragtig. Besoek 'n materiaal winkel en kyk na die kleurkombinasies wat gebruik word. Die etikette op gebruiksware maak ook gebruik van kleurkombinasies.  Daar is oral kleur om ons! Gebruik dit as vertrekpunt en hou dit in gedagte wanneer jy jou volgende projek beplan. 

In die foto bo wys ek hoe ek my kleure gekies het vir hierdie kleurvolle blokkie. Dit is dieselfde patroon wat ek gebruik het vir die Mohair en Pure Gold blokkie wat julle hier kan kry. Ek het hierdie blokkie gehekel met Elle Premier Katoen 4 draad en 'n 3mm hekelpen. 

Links is my gunsteling toppie. Ek is mal oor die kleure en kry ook baie komplimente wanneer ek dit dra. Ek het vyf kleure gekies vanaf die ontwerp. Daar is 'n diep pers, turkoois, koningsblou, diep oranje en ougoud. Die blokkie is beslis na my mening treffend! Die kleure gesels met mekaar en komplimenteer mekaar vreeslik mooi! 

Wat dink julle? Die kleure is vir my asemrowend!

Ek hoop julle gaan lekker speel met kleurkombinasies en mag dit vir  julle die kies van kleure so effens makliker maak.!

Lekker hekel almal!

2 comments:

  1. Hi Monica daar is soveel mooi kleure om te kies en inspirasie om ons. My probleem is dat ek gewoonlik te veel kleure gebruik en nie vooraf weet of ek al die blokkies se kern dieselfde moet maak/ almal se buiterandte eenvormig moet hou ens nie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Zelda, Dit is so dat daar soveel kleure is dat dit mens soon deurmekaar kan maak. Ek dink dat wanneer jy 'n projek begin is daar 'n paar punte waarna jy kan kyk. Eenvormige blokkies skep 'n rustiger en kalmer effek en wanneer jy rondspeel met kleure is dit vir die oog meer uitdagend. Indien jy iets wil hekel wat dus 'funky' of kleurvol is met baie kleure kan jy rondspeel na hartelus.

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica