Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hoe om hekelblokkies aanmekaar te werk.

Dit gebeur met almal van ons. Ons leer hoe om te hekel en begin ywerig om die een blokkie na die ander te hekel. Kort voor lank is daar 'n hopie blokkies en dan skielik besef jy dat jy nie 'n idee het hoe om hulle bymekaar te kry nie. Wonder jy ook hoe om al jou blokkies aan mekaar vas te werk? Jy hoef nie verder te wonder nie want dit is eintlik vreeslik maklik.

Daar is verskeie maniere om te werk te gaan. Jy kan die blokkies met rugkante teen mekaar sit en dan 'n ry kortbeentjies deur albei blokkies werk. Met ander woorde doen een kortbeentjie wat deur albei blokkies se ooreenstemmende steke gelyk gedoen word. Hierdie manier veroorsaak dat 'n riffie geskep word en dit kan mooi en dekoratief lyk maar daar is tye wanneer jy die las so onopsigtelik as moontlik wil hou.  En dit is wat ek vandag vir julle wil wys. 

Onsigbare aanmekaar werk van gehekelde blokkies

Plaas die blokkies plat langs mekaar.

Gebruik altyd 'n stomp naald vir die vaswerk van hekelwerk. Dit is noodsaaklik want 'n skerp naald kan die gare of wol split en baie onnet vertoon. 

Ryg die draad deur die naald en begin werk deur onder deur die boonste twee lusse van die blokkie aan die linkerkant te steek.





Voltooi die steek en beweeg dan met die naald oor na die blokkie aan die regter kant.






In die foto links kan duidelik gesien word hoe die naald van bo af deur die boonste twee lusse gesteek word.

Herhaal deur die bogenoemde stappe te volg.

Wees versigtig om nie die gare of wol te styf te trek nie, maar wel stewig genoeg dat dit nie gesien kan word nie.
Rugkant
Voorkant 














Die eindresultaat: 'n Netjies las wat moeilik is om raak te sien!

Daar is natuurlik nog vele ander maniere maar hierdie bly vir my die beste manier. Nou kan jy aan die werk spring en ook jou blokkies aanmekaar begin vaswerk. 

Lekker hekel almal en sterkte met die vaswerkery. Dit is 'n tydsame proses maar dink net hoe trots jy gaan wees om jou handewerk te wys.

Lekker hekel en mooi bly almal!


 



3 comments:

  1. Hallo Monica, baie dankie vir jou handige wenke. Ek verlustig my in jou mooi hekelwerk, dis baie netjies gedoen. Jy kan regtig trots voel daarop!
    Hou so aan!
    Linda

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Linda!

      Baie dankie vir jou kuiertjie en die mooie boodskap wat jy hier vir my gelos het. Ek waardeer dit baie!

      Mooi bly,
      Monica

      Delete
  2. Baie, baie netjies. Baie dankie.

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica