Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekelsteke: Springmielie Steek



 Die Springmielie Steek [spmst]




Vir die doeleindes van hierdie tutoriaal begin deur 13 ks/e te maak. Werk dan 1lb in die 4e ks vanaf pen. Werk 1lb in elke ks tot einde en draai. In die volgende ry gaan ons nou Springmielie steke werk. 

Gaan soos volg te werk: 

4ks, slaan die 1e en 2e langbene oor en werk 5lb in die volgende lb




Nadat die 5e langbeen voltooi is, verwyder die pen uit die werkende lus. Steek vanaf die voorkant deur die 1e langbeen en haak die werkende lus weer om die pen. 




Trek die werkende lus nou deur die 1e langbeen. Die 1e en 5e langbeen word na mekaar toe getrek en die steke wat tussen-in lê 'pop' na die voorkant van die werk. Slaan die draad om pen en trek deur lus om die spmst  af te sluit.  Dit voltooi die eerste Springmielie steek. 

Maak nog 2ks, slaan volgende 2lb oor en werk weer 5 langbene in die volgende langbeen. Verwyder pen, steek deur 1e langbeen, haak die werkende lus van die 5e langbeen en trek deur die 1e langbeen. 













Slaan draad om pen en trek deur om sodoende die springmielie steek af te sluit. Dit voltooi die 2e springmielie steek.













Maak 2ks, slaan volgende 2 langbene oor en werk weer 5lb in volgende langbeen. Herhaal die stappe presies soos voorheen.  

Nadat die 3e spmst voltooi is werk 1ks, slaan 1lb oor en werk 1lb in die 3e ks en draai.




Werk 3ks, 1lb in vlg sp, 1lb in spmst, 2lb in vlg sp, 1lb in vlg spmst, 2lb in vlg sp, 1lb in vlg spmst, 1lb in vlg sp, 1lb in 3e ks en draai.
 


Werk 4ks, slaan 1e en 2e st oor, spmst in vlg lb, 2ks, slaan vlg 2lb oor, spmst in vlg lb, 2ks, slaan vlg 2lb oor, spmst in vlg lb, 1ks, 1lb in 3e ks, draai. 




Herhaal nou net weer al die stappe soos voorheen. 





Wat gebeur wanneer jy in elke ry springmielie steke wil werk? Ons weet nou die steke 'pop' na die voorkant maar sou ons dit in elke ry doen sal dit nie werk nie. In daardie geval moet ons die springmielie 'pop' na die agterkant toe.

Gaan dan soos volg te werk: 

Voltooi die 5 langbene in steek soos voorheen. 

Maar steek nou die pen van die agterkant af deur die 1e langbeen, haak die werkende lus en trek deur.  
Die steke trek saam en 'pop' na die agterkant toe. Hier is die eerste spmst van voor gedoen en die 2e spmst is van agter gedoen. Die verskil kan duidelik gesien word. 

Dit word gewoonlik genoem 'n Springmielie steek agter of afkorting spmsta en die steek van voor is springmielie steek voor of spmstv. 





Daar is baie verskillende patroon variasies waar die Springmielie steek effens mag verskil afhangende van die steke wat gebruik word maar daar is gewoonlik instruksies by 'n patroon ingesluit om die stappe te verduidelik. 


No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica