Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

10 Steek Tunisiese Blokkie


Dagsê almal!

Hier is 'n lekker blokkie vir die van julle wat daarvan hou om Tunisiese hekelwerk te doen. Wat hierdie blokkie so besonders maak is dat daar met net 10 steke op 'n slag gewerk word. Die kombers groei blokkie vir blokkie en omdat 10 steke nie baie plek opneem nie doen ek dit sommer met 'n gewone hekelpen. Jy het nie eens 'n Tunisiese hekelpen nodig nie! 

Ek het verlede week 'n Facebook groepie begin met die naam "want ons hekel terapie komberse" nadat ek baie goeie terugvoer ontvang het oor die terapie kombersie projek waarmee ek besig is. Gedurende die week het dit duidelik geword dat daar ook 'n behoefte is vir brei blokkies want hekel is nie almal se sterk punt nie en omdat ek graag sal wil hê almal wat wil moet kan  deel hieraan het ek hierdie week gaan sit en hierdie patroon uitgewerk vir hierdie Tunisiese blokkie en deel ook dan 'n patroon vir 'n gebreide blokkie wat Sonia Horn goedgunstelik vir my gegee het om te deel met almal. Baie dankie Sonia. Die link na die dokument vir die gebreide blokkie kan gekry word hier: Eerste deel van Blokkie en die Tweede deel van Blokkie

En hiermee dan my 10 Steek Tunisiese Blokkie Patroon! 



Goed noudat jy weet hoe om die Tunisiese Steek te doen kan ons begin.

Begin met 10ks en werk die basis ry. [Daar sal 11 lusse op die pen wees]

Voltooi nou 8 rye. Moenie afheg nie maar knip die draad en trek die lus langer sodat jy later weer die nuwe kleur kan heg om verder te hekel. Indien verkies kan jy eers een lang strook hekel wat beteken jy gaan jou nuwe kleur nou heg en die volgende blokkie van 8 rye hekel. Ek is regshandig en werk my blokkies van links na regs. Dit beteken nadat ek my eerste blokkie voltooi het moet die tweede blokkie aan die regterkant vasgehekel word soos op die fotos gesien kan word. 

Die rooi blokkie aan die linkerkant is voltooi en nou gaan ek begin met my tweede blokkie in groen. Ek begin met 10ks en tel my lusse op soos normaalweg.

Nou moet daar deur die eerste blokkie gewerk word. Druk die hekelpen deur in die steek waar  die speld aandui. 





Slaan draad om pen en trek dit deur die eerste blokkie sowel as die eerste lus op pen. 








So ......










Slaan draad om pen en werk deur 2 lusse soos normaal. 

Werk alle lusse nou weer twee-twee af tot 1 lus oor is op pen. 










Nou moet die lusse weer opgetel word en sodra al 10 lusse opgetel is moet die volgende hegting gedoen word. 







Druk pen weer deur, slaan draad om pen en trek deur die eerste lus op pen. 

Werk weer twee-twee lusse af soos gewoonlik. 










Baie belangrik! 

Maak seker dat die heel laaste steek nie per ongeluk gemis word nie. Hier wys die speld waar hierdie heel laaste lus lê.







Hier is die heel laaste lus gewerk. Julle kan sien dit is die lus wat reg teen die kant lê.












Hier is die hegting in die 3e ry.

En die voltooide hegtingsteek. 











Herhaal totdat 8 rye voltooi is. Knip draad en begin dan met volgende blokkie wat aan die regterkant van die groen blokkie aangehekel sal word. Besluit self hoe jy jou kombers wil laat groei. Jy kan van links na regs in stroke werk en dan weer bo-op die rooi blokkie begin en die volgende strook van links na regs werk of jy kan eers 'n lang regop strook werk en dan weer 'n strook aan die regterkant op laat beweeg. 

Ek hoop julle geniet hierdie manier van hekel ook net soveel soos ek. Ek gebruik 'n gewone 4mm hekelpen en 'n dubbeldraad wol. Dit werk heerlik en is erg terapeuties hoor! 

Mooi dag vir almal!
Hekelgroete

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica