Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Monica Se Terapie Kombersie



Goeie dag almal!

In hierdie gejaagde lewe met al die negatiewe dinge waarmee ons daagliks te doen kry het ek gaan soek vir idees spesifiek vir 'n terapie kombersie maar kon nie enige iets kry wat ek wou toepas of wat vir my gegee het waarna ek soek nie. 

Daar is wel baie oor "mood blankets". Dit is 'n wonderlike idee maar dit is nie wat ek wil doen nie.  Vir die van julle wat nie weet wat 'n "mood blanket" is nie. Kortliks beteken dit jy kies vir jou kleure wat jy koppel aan 'n spesifieke emosie vir die dag en hekel dan 'n blokkie of 'n ry wat die dag verteenwoordig. Jy kan elke dag of weekliks hekel. Die keuse is joune.  Maar soos ek reeds gesê het dit was nie presies waarna ek gesoek het nie. 

Ek het toe begin oplees oor kleur terapie en notas begin maak en het uiteindelik op 'n idee besluit wat ek wil gebruik en so is my Terapie kombersie gebore. Die rede hoekom ek my kombersie eerder 'n Terapie kombersie noem is omdat ek nie enige negatiewe konnektasies wil heg aan enige kleur nie. Met die "mood blanket" kies jy byvoorbeeld bruin vir die dag wanneer jy af voel. Dit verteenwoordig dus 'n negatiewe emosie. 

Ek wil nie na kleure kyk en enige negatiewe gevoelens daarom bou nie. Vir my is kleur wonderlik en ek wil dit eerder gebruik in die vorm van terapie. Kleur moet my beter laat voel.  Dit moet my opbou. Ek wil lekker voel wanneer ek daarna kyk. Maak nie saak watse kleur dit is nie. Dit moet  'n plekkie in my hart vul wat my goed laat voel en wat my omstandighede net so bietjie mooier en beter kan maak deur daarna te kyk.

Kleur is wonderlik en moet geniet word en daarmee bedoel ek alle kleure. Selfs swart sien ek as 'n kleur waarmee ek alle negatiewe dinge kan begrawe. Gooi swart bo oor iets en dit bedek dit totaal en al. Ek kyk na die positiewe kant van kleur en wil dit dan ook so gebruik vir hierdie projek.

Ek het besluit om kleurterapie, meditasie en hekel te kombineer. 

Ek sal klein blokkies hekel wat net sal bestaan uit halwe langbene omdat ek  'n soliede blokkie wil hê. Dit sal ook net 'n paar minute neem met 7 rye en 'n randjie. Ek beoog om dan ook sommige van die blokkies te versier met mooi knope en borduurwerk ens. Omdat my lewe baie gejaagd is wil ek myself nie koppel aan 'n spesifieke hoeveelheid blokkies per dag of week nie. Daar is dae wanneer dit moeilik is om by alles uit te kom en op daardie dae mag ek dalk glad nie by 'n blokkie uitkom nie maar op dae wanneer ek tyd het kan ek dalk deur twee of drie meditasies werk wat sal beteken ek kan drie blokkies op daardie dag hekel. Dit hang alles van omstandighede af. Hierdie is my terapie en dus maak ek my eie reels wanneer dit kom by my menswees. Die belangrikste is dat ek met elke blokkie 'n tydjie sal kry om terug te keer na myself.


Hoe gaan ek die kleure gebruik?

Ek sal mediteer terwyl ek 'n blokkie hekel deur die betekenis te lees en dit dan te herhaal terwyl ek my blokkie sit en hekel. Ek sal dit doen deur stil te word, die woorde oordink en daarmee saam ook kalmte en vrede in my gemoed bring. En terwyl my kombersie groei sal ek ook groei in krag en menswees. Aan die einde van my reenboog terapie kombersie sal ek die pot goud vind. 'n Groot pot vol  meditasies wat gevul is met wonderlike positiewe en kleurvolle affirmasies en wanneer die storms kom kan ek my toevou in my eie terapie kombersie en onthou dat elke blokkie en elke kleur daar is om my te herrinner aan die dinge waarvoor ek dankbaar is. 

Hier is 'n lys met kleure en die betekenis wat ek aan elkeen toegeken het. 


Kleur
Betekenis
Blou
Vreedsaam en Rustig. Omvou jouself met kalmte.
Groen
Vrede en Balans. Wees dankbaar vir gesondheid.
Rooi
Passievol en Opbeurend. Onthou jy is in beheer. Neem terug jou krag.
Pink
Gee onvoorwaardelike liefde. Sê dankie vir jou vrouwees
Pers
Kreatiwiteit. Daar is net een jy. Jy is uniek en kosbaar.
Goud
Jy verdien geluk en sukses. Sê dankie vir wat jy het.
Silwer
Gee van jouself met ‘n opregte hart en met ‘n glimlag.
Bruin
Jy is veilig in die warmte van jou huis, familie en vriende.
Oranje
Wees optimisties en entoesiasties. Leef voluit en glimlag.
Geel
Die son skyn oor ons almal. Laat dit jou dag ophelder. Kweek selfvertroue.
Magenta
Spandeer tyd aan jou eie menswees. Dit bring balans terug in jou lewe.
Wit/Ivoor
Elke dag is ‘n nuwe begin. Moenie in die verlede leef nie.
Indigo
Laat intuisie jou lei. Wees wys en opreg in alles wat jy doen en sê.
Olyfgroen
Nuwe groei, hoop en vrede vir jou.
Koraal
Wees lief vir jouself. Jy verdien liefde net soveel soos enige ander mens.
Perel
Laat jou liggie skyn sodat al die donker skaduwees kan  verdwyn.
Swart
Begrawe alle negatiewe gedagtes en emosies.



Hier is my kleure wat ek gekies het:


Ek gebruik Pure Gold en Family Knit dubbeldraad omdat ek sekere kleure wil gebruik en 'n 4mm hekelpen.
Enige skakering van 'n spesifieke kleur kan gebruik word. Vir rooi het ek byvoorbeeld 'n donker skakering gebruik en vir blou 'n sagte Aqua kleur.

Enige patroon kan natuurlik gebruik word. Ek deel met julle die patroon vir die blokkie wat ek gaan gebruik.

Terapie Kombersie Blokkie:

1e ry: Begin met 12ks, hlb in 3e ks vanaf pen, 1hlb in elk van vlg 9ks, 2ks, draai,
2e - 6e ry: 10hlb, 2ks, draai
7e ry: 10hlb, 3ks, draai

Hekel nou 'n randjie om die blokkie sodat die blokkies aanmekaar gehekel kan word soos jy vorder.

Randjie:
In die eerste hoek werk [1lb, 2ks, 2lb] en in elke ander hoek werk [2lb, 2ks, 2lb]
Hekel tussen die hoeke 1ks, slaan 1 steek oor, lb in vlg steek, herhaal totdat daar 4 langbene tussen elke hoek gehekel is. Kyk na die illustrasie vir meer duidelikheid. 


Die blommetjie is gedoen met glipsteke wat ek aan die bokant van blokkie gehekel het. Hier volg 'n paar fotos ter verduideliking om te wys hoe dit gedoen word. Die hekelpen is aan die bokant van werk en die werkende draad aan die agterkant. Trek draad deur na die voorkant en werk 'n glipsteek. Steek pen dan weer deur na agter, haak die draad en trek deur die lus op pen. Herhaal die stappe. Dit is 'n vinnige en maklike manier om hekelwerk te versier.





Ek sal julle van tyd tot tyd op hoogte hou van hoe my kombersie vorder en indien julle graag wil saamhekel laat weet my. 

Pragtige dag vir julle en lekker hekel almal!

5 comments:

  1. mickey@skv.co.za18 August 2014 at 18:24

    Sien uit om saam te hekel, as ek vasdraai, sal my oulike vriendin, met vlytige vingers my vinnig help, dankie Sonia vir die voorstel ☺♥

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Mickey! So bly om te hoor jy gaan saamhekel! Geniet dit en lekker hekel hoor. :)

      Delete
  2. mickey@skv.co.za18 August 2014 at 18:25

    Hi Monica, sien uit na alle nuwe uitdagings ♥

    ReplyDelete
  3. Hello Monica. My klein-niggie het vir my jou link gestuur en ek geniet dit baie. Ek het 3 agter-kleinkinders vir wie ek brei en hekel asook mussies vir
    welsyns organisasies. Ek is op soek na die fantiestiese patroon wat jy n rukkie gelede geplaas het. Dis die een waar jy die draad oor n potlood draai en dan hekel jy in die lus. Kan jy dit weer plaas asb. of my laat weet waar om dit te kry. Dis rerig besonders en ek het dit nog nooit vantevore gesien nie. Ek belowe om dit af te laai.. Hekel groete. Dorea

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Dorea, Die patroon waarna jy soek is die Broomstick Hekelsteek. Gaan kyk onder Tutoriale en ook Hekelsteke. Jy sal dit daar kry. :)

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica