Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tunisiese Hekelwerk en Aanwysings!

Wat is Tunisiese Hekelwerk?



'n Loper op my tafel wat bestaan uit 4 blokke. Gewerk in 
Tunisiese steek. Materiaal gebruik: 100% Suiwer wol en 
Mohair. Die randte is met 'n ry langbene omgehekel met 'n
draad wat lang haartjies het.  
Tunisiese hekelwerk het baie name soos onder andere Afgaanse Hekel, Tricot Steek, Skotse Breiwerk, Treinspoor Breiwerk en Hekelpen Breiwerk. Die Engelse name hiervoor is Afghan Stitch, Tricot Crochet, Scotch Knitting, Railroad Knitting en Hook Knitting. Die Tunisiese hekelpen is  'n kruis tussen 'n breinaald en hekelpen. Die punt is gevorm presies soos die van 'n hekelpen maar dit het 'n lang steel van ongeveer 30cm soos die van 'n breinaald. Omdat die Tunisiese hekelpen so lank is word dit ook op 'n ander manier vasgehou as 'n gewone hekelpen.  


Tunisiese hekelwerk word van regs na links gewerk wanneer steke opgetel word en dan word dit weer van links na regs afgewerk tot net een lus oorbly. Een ry word in 2 stappe gedoen wat bestaan uit 'n optel en terugwerk ry. Daar word ook begin met 'n aantal kettingsteke wat die basis vorm vir die eerste ry.  Die werk word ook nie omgedraai na die voltooing van 'n ry soos in gewone hekelwerk nie. Dit is baie terapeuties en verbasend maklik om nie eens te praat van vinnig nie. 

Hou die pen so vas.
Die meeste van ons hekel-terme en afkortings is ook van toepassing op Tunisiese hekelwerk. Verder kry jy ook die gewone hekel steke soos kortbene, halwe langbene, langbene ens wat gebruik word in die werk. Daar is egter nog baie Tunisiese steke wat deur die jare ontwikkel is.  Enige  afkortings of patroon steke word gewoonlik verduidelik in spesifieke Tunisiese patrone dus gaan ek nie elkeen hier noem nie. .    

Tunisiese hekelwerk het 'n geweefde voorkoms. Die tekstuur van die hekelwerk is dig en stewig en rek ook nie uit nie. Dit is ideaal vir komberse, gedetailleerde winter kledingstukke, kussings en vatlappies wanneer jy 'n digte weefstof benodig maar kan ook aangepas word deur 'n dun draad met 'n groot pen te gebruik vir 'n los en sagte serp wat pragtig drappeer. Dit is beslis 'n wonderlike hekelvorm wat baie onderskat word. 



Die grootte van die Tunisiese hekelpen kan  tot 5 nommers groter  wees as wat op die woletiket aangedui word.  Eksperimenteer met verskillende nommers totdat die verlangde spanning verkry word. Ek persoonlik gebruik 'n 5,5mm - 6mm Tunisiese Hekelpen wanneer ek met 'n dubbeldraad werk en 'n 4mm - 5mm wanneer ek 'n vierdraad gebruik.


Stap vir stap tutoriaal!

 Tunisiese Hekelwerk: 2 Verskillende Steke. 

Materiaal gebruik:  

Elle Charity Dubbeldraad in 2 Kleure
6mm Tunisiese Hekelpen

Hekel hierdie monsterlappie en leer  2  Tunisiese steke.


Begin deur  21 kettingsteke te maak. Dit vorm die basisry. Hekel die kettingsteke met 'n  los spanning. Te stywe kettingsteke veroorsaak dat die eerste en laaste rye se spanning verskil. 

Plek waar lussie lê 
Die monsterlappie bestaan uit 20 steke. Die 1 ekstra kettingsteek wat gemaak is word nie getel nie en word altyd getel as 'n randsteek. Draai nou die kettingsteek strook tussen die vingers om sodat die gedeelte wat 'n 'V' vorm na onder wys. Merk dat daar nou aan die  bokant  lussies is wat so effens na bo wys op elke kettingsteek. Die eerste ry word in hierdie lussies gewerk. Wanneer die steek so gewerk word veroorsaak dit dat daar 'n baie mooi effens elastisiese en netjies afgewerkte rand aan die onderkant van die werk gemaak word. 


Die Tunisiese Steek [Tst]

Basis ry:  [Die basis ry word gebruik as begin vir enige van die Tunisiese steke] 

Eerste steek van terugwerk ry
word deur slegs
1 lus gewerk aan die begin
van enige ry
  • Optel : Druk die pen deur eerste lus van voor na agter, slaan draad om pen en trek deur na bo, *druk pen deur die volgende lus, slaan draad om pen en trek deur na bo * herhaal vanaf * tot * al lusse opgetel is. Daar is 20 lusse opgetel en op die pen sal 21 lusse wees. [1 Ekstra wat die randsteek is]
  • Terugwerk: Slaan draad om pen en werk deur eerste lus, *slaan draad om pen en werk deur 2 lusse * herhaal vanaf * tot * tot einde van ry. Slegs 1 lus, die randsteek bly oor. 


Ry 1: 
 Optel en terugwerk tel as 1 ry: 
Steek deur laaste 2 lusse.
Druk onder deur hierdie
regaf lus van regs na links
  • Optel : Druk die pen onderdeur die regaf lus wat voor die werk lê , slaan draad om pen en trek deur na bo, druk die pen nou deur die volgende regaf lus, slaan draad om pen en trek deur na bo. Herhaal hierdie stappe totdat al die lusse in die ry opgetel is. Die heel laaste steek van 'n ry word deur 2 lusse gemaak wat gesien kan word op die foto regs.  Daar is 20 lusse opgetel en op die pen sal 21 lusse wees. [1 Ekstra wat die randsteek is]
  • Plek waar pen deur gedruk
    word in laaste steek.
  • Terugwerk : slaan draad om pen, werk deur slegs die eerste lus op pen, * slaan draad om pen, werk deur 2 lusse op pen,* herhaal vanaf * tot * tot al die lusse afgewerk is en slegs die randsteek oor is op pen. 

Tunisiese Steek 
 Herhaal Ry 1 en oefen die steek deur so paar ekstra rye te werk. Moenie afheg nie. Oefen nou die volgende steek. 




Tunisiese Breisteek [Tbst]

Tunisiese steek onderste rye en breisteek boonste 3 rye.


Ons gaan nie nou begin met 'n nuwe monsterblokkie nie en gaan dus nie weer die basisry werk nie. Begin die volgende ry dadelik deur die Reksteek te werk soos volg: 





Optel en terugwerk tel as 1 ry: 

Plek waar breisteek gedoen word. 


  • Optel Die lang regaf lus waardeur die Tunisiese steek wat so pas geoefen is gemaak is het ook 'n regaf lus wat aan die agterkant van die werk lê. Hou die pen effens skuins en druk nou tussen die voorste en agterste lus regdeur na die agterkant van die werk, slaan draad om pen en trek deur na voor en op. Herhaal die stappe totdat alle steke so gewerk is en wanneer jy by die heel laaste steek kom word dit weer presies gemaak soos met die vorige Tunisiese steek. 
  • Terugwerk: Word presies soos die Tunisiese steek afgewerk






Tunisiese Steek in 2 Kleure

Optel en terugwerk tel as 1 ry: 
    Hier kan mooi gesien word
    waar pen deur lus gesteek
    word!













Optel : Moet nog nie kleur verander nie en herhaal die optel ry van die Tunisiese steek. Wanneer jy nou die heel eerste lus met terugwerk moet doen trek nuwe kleur [gewys in rooi] deur en voltooi die terugwerk ry met nuwe kleur. Die volgende ry wat 'n optel ry is word ook gedoen met die tweede kleur [nog steeds die rooi] Verander terug na die eerste kleur en voltooi weer die volgende twee stappe in daardie kleur. Dit beteken dat twee stappe op 'n keer herhaal word met een kleur dan die ander. Die effek is pragtig!




Probeer dit nou ook met die breisteek. Herhaal kleure net soos met die tunisiese steek en hierdie keer kry ons rooi en groen rye.







 Speel en eksperimenteer lekker!

3 comments:

  1. Baie dankie, dis pragtig verduidelik! Hoop om een dag genoeg moed bymekaar te skraap vir die tegniek.

    ReplyDelete
  2. More, waar in die Kaap kan ek n lekker dik, soos n nr 10 tunisiese hekelpen koop?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Lynette. The Crafters Inn, Somerset Wes het Tunisiese hekelpenne in alle groottes. :)

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica