Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Kunspoppies!

  Ontmoet vir Vlada die Russiese poppie en Frida Kahlo die Kunstenaar!


 Kunspoppies of "Art Dolls" in Engels is baie in op die oomblik. Wat hulle so gewild maak is die feit dat jy jou eie kreatiwiteit kan gebruik. Ek het die twee poppies gehekel sonder 'n patroon en maar aangepas en geskep soos ek aangaan. 

My oorspronklike idee was om 'n poppie te hekel wat Frida Kahlo voorstel.  Die poppie het te rond uitgekom en  die Russiese poppie is gebore.

Die manteltjie is gehekel  met 'n fyn katoen en 2mm hekelpen en bestaan uit klein 'Granny Squares'. 

Ek het hulle afgeneem op my foon om te wys hoe klein hulle in werklikheid is. 
Daar was een vierkantjie te veel en dit het toe sommer 'n hoofbedekseltjie geword! 





Daarna het ek  begin met die tweede poppie. Ek het die lyfie bietjie langer en smaller  gehekel en 'n rompie gedeelte aan die onderkant gehekel wat ook terselftertyd help dat die poppie maklik regop staan. 

Borduurwerk is reg rondom die rompgedeelte gedoen. Die stolatjie is ook met 'n fyn katoen gehekel maar ek het 'n 3 mm hekelpen gebruik omdat ek wou hê dit moet gaterig en sag om die skouers pas. 

Die swart vlegsels is opgeneem en bo-op die kop vasgewerk. Daarna het ek klein fyn rooi blommetjies gehekel en dit bo oor vasgewerk. Die immer bekende donker wenkbroue van Frida is met borduurgare gedoen asook die res van die gesiggie. 













Hier het die twee vir my model gespeel!







Die twee  kan nou heerlik saam met my hier op my lessenaar kuier. Hulle is so kleurvol dat mens nie anders kan as om te glimlag wanneer jy na hulle kyk nie! 

Ek is mal oor die tweetjies!

Hoop dit inspireer julle ook om vir julle 'n kunspoppie of twee of drie te hekel! 

Lekker speel en lekker hekel almal!

Hekelgroete


No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica