Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Totsiens 2013!

En so kom ons aan die einde van jaar 2013 en wat 'n jaar was dit nie! 


Eerstens wil ek net so bietjie agtergrond gee oor myself en vertel hoe ek tot hier gekom het. 

Ek is 'n ou blogger en my heel eerste blog wat ek begin het was op 31 Oktober 2008, 'n Engelse blog. Op daardie stadium het ek geredeneer dat Engels so 'n universele taal is dat ek in Engels sal moet blog. Dit was my proefblog as daar so iets is. *giggel* en hier het ek geblog oor 'Art Journals' soos die naam van die blog ook aandui "Ansota's Art Journal"

Ansota is ook die uwe en is die naam wat ek  gebruik as my kunstenaars naam. Nie dat ek enigsins daarmee wil voorgee dat ek 'n uitmuntende kunstenaar is nie, maar ek het 'n kunstenaars hart. Ansota is ook afgelei van my doopname. Anna Sophia Taute. Neem die eerste twee letters van my name en van en dit spel Ansota. Hier het ek deur die jare ge-eksperimenteer met verskillende mediums soos akriel, waterverf, mixed media en nog baie meer. Ek het ook probeer om die Suid Afrikaanse mense en veral vroue te betrek om ook te begin met Kuns Joernale maar sonder enige sukses. Ek blog nie meer daar nie maar vir die van julle wat belangstel om te gaan kyk plaas ek die link. 

Joernale is baie na aan my hart, veral geillustreerde joernale, waterverf en siels joernale waarin selfondersoek en groei van menswees en my psige ondersoek word, maar dit is 'n onderwerp waaroor ek vir ure kan gesels en hierdie is nie die plek daarvoor nie. Laat ek terugkom na Hekel Idees! 

Op die 10e Augustus 2012 het ek besluit om 'n Afrikaanse webblad te begin. Op daardie stadium het ek die behoefte gehad om in my eie taal te blog. My idee was om sommer net 'n Afrikaanse blog te begin waar ek my hekelgoedjies en idees kon wys. Ek wou sommer net my idees deel vandaar die naam Hekel Idees. Tot en met die einde van 2012 het ek net 4 'posts' opgesit en op daardie stadium was daar nie veel reaksie nie. 

Ek het rustig voort gehekel en patrone ontwerp en allerhande goedjies gehekel vir myself. My droom was nog altyd om 'n boek uit te bring met al my hekel patrone maar omdat ek voltyds werk skerts ek altyd dat dit maar sal moet wag totdat ek op pensioen gaan eendag. [Op daardie stadium het ek al my patrone in Engels geskryf.]

Ek bied al vir jare hekel klasse aan by The Crafters Inn in Somerset Wes. My klasse is altyd vol bespreek en oud en jonk hekel  ywerig saam. Daar was al hoe meer navrae van vroue wat wou weet waar hulle Afrikaanse patrone in die hande kon kry.  Ek het besluit om 'n Facebook blad oop te maak sodat ek meer mense kan bereik en het toe ook hierdie Teemussie patroon wat toe nog in Engels geskryf is gratis weggegee.

My patrone het verander van Engels na Afrikaans  en omdat ek dit lief om ander te leer het ek ook begin om tutoriale saam te stel. Dit het maar so sukkel-sukkel gegaan in die begin. Fotos is geneem met my Blackberry foon en indien die son nie skyn nie kon ek nie enige goeie fotos geneem kry nie. Party van die tutoriale is gedoen met 'n foon in die een hand en 'n hekelpen in die ander hand.

Groot was my verbasing toe Afirkaanse vroue skielik van oral oor begin om my te kontak.  Die getalle het begin groei en dit het my laat besef dat daar beslis 'n leemte is en dat Afrikaanse patrone en tutoriale waardeer word en daar 'n groot gemis is daarvoor. 

Die een ding het tot die ander gelei. Dit help nie ek plaas net my idees nie. Vroue wil weet hoe om dit self te doen dus het ek met tutoriale begin. 'n Afdeling vir beginners is geskep en so het my blog gegroei tot waar dit vandag is. Ek wil ook net byvoeg dat ek dit alles gedoen het so op my eie na-ure. 

Ek wou ook graag blootstelling gee vir ander vroue wat hekel en Kuiergas van die maand is toe daaruit gebore. En het ons kuiergaste ons nie geinspireer met hulle pragtige hekelwerk nie! 'n Groot dankie aan elkeen van julle wat 'n bydrae gelewer het. 

En so op die vooraand van 2014 wil ek dankie sê vir 'n ieder en 'n elk hier by Hekel Idees. Dankie vir julle ondersteuning die afgelope jaar. Vir al die eposse van oral oor. Dankie dat julle my pad saam met my loop.

Ek hoop om in 2014 vir julle sommer baie hekel inspirasie te gee. Ek kan nie belowe hoe gereeld dit sal wees nie omdat die lewe  onvoorspelbaar is maar ek kan wel sê dat ek my bes sal doen en probeer om vir julle gereeld hekel patrone, inspirasie, tutoriale, hekel stories en nog baie meer te gee.  Daar is nog soveel wat ek graag met julle wil deel in 2014.

En op 'n laaste noot!

Ek het die afgelope week skoon gemaak, kaste reggepak en alles georden hier in die huis sodat ek 2014 skoon en nuut kan begin. 

 'n Paar fotos van al my WIPs wat saam met my nie Nuwe Jaar ingaan! 

Ripple Kombers

Strepe in helder kleure: Kombers in wording.

African Flower Patroon: Begin van 'n kombers vir die Woonkamer.

Blokkies vir Yarn Indaba.

Indien julle nog nie begin hekel het nie. Daar is nog genoeg tyd! Gaan lees hier wat jy kan doen om ook deel te wees van die projek! 

En laastens moes ek net my woestynplant tuintjie met julle deel. Ek het die 3 plantjies gekoop en hulle in hierdie  vaas geplant. My keramiek akkedissie bly tog te lekker hier! 


Tot volgende jaar almal!
'n Wonderlike en Voorspoedige 2014!
Hekel groete

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica