Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel vir Valentynsdag.


 Hekel 'n mooi koevert hierdie Valentynsdag vir jou geliefde. 
 


Hi almal!

Kersfees is al weer vergete en nou lê Valentynsdag al weer en loer om die draai. Spring sommer dadelik aan die werk en hekel hierdie jaar 'n mooi koevert vir jou kaartjie. 

Hierdie gehekelde koevert is 'n idee van Millie en haar blog se naam is Ruby & Custard.  Met die eerste oogopslag was ek verlief op die koevert idee van haar en het haar gekontak en gevra vir toestemming om haar patroon te gebruik. Sy was baie vriendelik en het  dadelik ingestem. Ek is natuurlik baie bly want ek wou dit baie graag met julle deel.  Julle kan gerus gaan kyk hoe lyk haar koevert! 

Materiaal gebruik:

  • Enige dubbeldraad. Ek het Vinnis Bambi gebruik wat amper die voorkoms van handgemaakte papier gee. Die rooi draad is Elle Family Knit en die blou draad is Vinnis Nikkim. 
  • Gebruik 'n 4mm hekelpen. 
  • Stukkie filt materiaal 
  • Dekoratiewe item/s soos byvoorbeeld 'n knopie of blommetjie.
  • Klein stukkie materiaal om op te skryf. Millie het op haar koevert geborduur en indien jy dit eerder wil doen is die stukkie materiaal nie nodig nie.

Afkortings gebruik: kb = kortbeen; ks = kettingsteek; gs = glipsteek


Begin met 21ks.

Ry 1: 1 kb in die 2e ks vanaf pen, werk nou nog 19kb,1ks en draai.

Ry 2: 1kb in 1e kb, werk nog 19kb, 1ks en draai

Herhaal ry 2 totdat 17 rye voltooi is, draai.






Volgende ry: 2kb in 1e kb [hoek]; 1kb in elk van vlg 18kb, 2kb in laaste kb [hoek]; werk nou oor die lengte van eerste sykant 15kb, 2kb in vlg hoek, 18kb oor die lengte van die onderkant; 2kb in vlg hoek en 15kb oor die lengte van die tweede sykant, gs in 1e kb.







Volgende ry:  Hierdie ry word gewerk deur met wit, rooi en blou af te wissel. Werk die 1e kb in wit in dieselfde steek waar die gs gemaak is, werk dan vlg kb met rooi en vlg kb met blou. Herh die kleure in dieselfde volgorde en werk 'n ry kortbene reg rondom, gs in 1e kb en heg af.







Die meegaande fotos wys hoe kleure verander word.  

























Gebruik 'n A4 grootte papier en maak 'n patroon vir die koevert. Meet jou blokkie se maattes. My blokkie is 13cm x 10 cm dus moet die binnekant van my koevert 13cm x 10cm wees. 



Indien verkies kan jy 'n gekoopte koevert neem dit oopmaak en dit dan gebruik as patroon. Hekel dan jou blokkie sodat dit presies dieselfde grootte is. 

Sodra jy tevrede is met jou patroon, speld vas op filt en knip sorgvuldig uit. 





Versier die bokant van jou koevert deur gebruik te maak van borduurstekies, knope ens. Plaas dit dan bo op die filt en speld in posisie vas. 

Gebruik 'n skerp naald en werk die blokkie aan filt vas met oorhandsteek. 










Vou die onderkante na mekaar toe en werk vas. My koevert word met klein rygstekies bymekaar gehou en 'n groot kruisie wat 'n 'soentjie' voorstel in die middel gewerk. 

Die koevert is nou gereed en kort net 'n liefdes briefie of kaartjie en dalk is daar ook nog plek vir 'n sjokoladetjie! 




En daarmee groet ek eers weer tot volgende keer!

Lekker hekel!

1 comment:

  1. Ik vind dit zo mooi! Dank je wel voor het patroon.

    lieve groet uit Nederland,
    Betsy
    Wolatelier DiAn

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica