Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel vir Valentynsdag.


 Hekel 'n mooi koevert hierdie Valentynsdag vir jou geliefde. 
 


Hi almal!

Kersfees is al weer vergete en nou lê Valentynsdag al weer en loer om die draai. Spring sommer dadelik aan die werk en hekel hierdie jaar 'n mooi koevert vir jou kaartjie. 

Hierdie gehekelde koevert is 'n idee van Millie en haar blog se naam is Ruby & Custard.  Met die eerste oogopslag was ek verlief op die koevert idee van haar en het haar gekontak en gevra vir toestemming om haar patroon te gebruik. Sy was baie vriendelik en het  dadelik ingestem. Ek is natuurlik baie bly want ek wou dit baie graag met julle deel.  Julle kan gerus gaan kyk hoe lyk haar koevert! 

Materiaal gebruik:

  • Enige dubbeldraad. Ek het Vinnis Bambi gebruik wat amper die voorkoms van handgemaakte papier gee. Die rooi draad is Elle Family Knit en die blou draad is Vinnis Nikkim. 
  • Gebruik 'n 4mm hekelpen. 
  • Stukkie filt materiaal 
  • Dekoratiewe item/s soos byvoorbeeld 'n knopie of blommetjie.
  • Klein stukkie materiaal om op te skryf. Millie het op haar koevert geborduur en indien jy dit eerder wil doen is die stukkie materiaal nie nodig nie.

Afkortings gebruik: kb = kortbeen; ks = kettingsteek; gs = glipsteek


Begin met 21ks.

Ry 1: 1 kb in die 2e ks vanaf pen, werk nou nog 19kb,1ks en draai.

Ry 2: 1kb in 1e kb, werk nog 19kb, 1ks en draai

Herhaal ry 2 totdat 17 rye voltooi is, draai.






Volgende ry: 2kb in 1e kb [hoek]; 1kb in elk van vlg 18kb, 2kb in laaste kb [hoek]; werk nou oor die lengte van eerste sykant 15kb, 2kb in vlg hoek, 18kb oor die lengte van die onderkant; 2kb in vlg hoek en 15kb oor die lengte van die tweede sykant, gs in 1e kb.







Volgende ry:  Hierdie ry word gewerk deur met wit, rooi en blou af te wissel. Werk die 1e kb in wit in dieselfde steek waar die gs gemaak is, werk dan vlg kb met rooi en vlg kb met blou. Herh die kleure in dieselfde volgorde en werk 'n ry kortbene reg rondom, gs in 1e kb en heg af.







Die meegaande fotos wys hoe kleure verander word.  

























Gebruik 'n A4 grootte papier en maak 'n patroon vir die koevert. Meet jou blokkie se maattes. My blokkie is 13cm x 10 cm dus moet die binnekant van my koevert 13cm x 10cm wees. 



Indien verkies kan jy 'n gekoopte koevert neem dit oopmaak en dit dan gebruik as patroon. Hekel dan jou blokkie sodat dit presies dieselfde grootte is. 

Sodra jy tevrede is met jou patroon, speld vas op filt en knip sorgvuldig uit. 





Versier die bokant van jou koevert deur gebruik te maak van borduurstekies, knope ens. Plaas dit dan bo op die filt en speld in posisie vas. 

Gebruik 'n skerp naald en werk die blokkie aan filt vas met oorhandsteek. 










Vou die onderkante na mekaar toe en werk vas. My koevert word met klein rygstekies bymekaar gehou en 'n groot kruisie wat 'n 'soentjie' voorstel in die middel gewerk. 

Die koevert is nou gereed en kort net 'n liefdes briefie of kaartjie en dalk is daar ook nog plek vir 'n sjokoladetjie! 




En daarmee groet ek eers weer tot volgende keer!

Lekker hekel!

Kuiergas #8: Margo Mullineux

Ons kuier vandag by Margo Mullineux!



Vertel ons asseblief wie jy is en vanwaar.


Margo: Ek is oorspronlik van Vereening , daar gebore en groot geword. Ons is nou 17 jaar in Kaapstad en woon in Milnerton. Ek is 34 jaar getroud met Mike en ons het 2 twee seuns Michael en Kevin en ‘n drie jarige  blou-oog kleindogter  Jemma.


Ons is almal saam in familie besigheid wat nou gespruit het na 3 en vir ons baie besig hou. Ek hanteer die administratiewe sy van die besighede en die drie mans spook sake uit in die fabrieke.

Hoe lank hekel jy al? 


Margo: Ek het altyd plat op die vloer gesit en groot-oog gekyk hoe my Ouma se vlytige vingers hekel. Sy het my die basiese hekel geleer en vandaar het ek verder uit boeke geleer. So, ek hekel van ongeveer die ouderdom van 13 jaar.


Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag  hekel?

Margo:  Tridalia is my gunsteling hekel gare en dan hekel ek ook graag met Elle wol.

Enige gunsteling items om te hekel?


Margo: Hierdie dae is kombers hekel my absolute gunsteling. Dit gee my so ‘n warm gevoel van prestasie en sukses wanneer die kombers klaar is en ek dink dat die groot item met ‘n enkele steek begin het.


Hoeveel tyd kry jy om te hekel?

Margo:  My hekel tyd is bitter beperk en ek wens ek kon meer tyd hieraan spandeer. Op hierdie stadium hekel ek elke aand vir so twee of drie ure……. Dit is soos terapie na ‘n dag se stress en harde werk.

Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?

Margo:  Hekel werk is lankal nie meer die stywe doilies wat in Ouma se huis gepryk het nie. Vandag is dit ‘n groot mode “moet hê” item vir oud en jonk. Hekel werk het ‘n tekstuur en karakter wat geen itiem wat uit ‘n fabiek kom, kan namaak nie.


Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?

Margo:  Wit met een of twee kontrasterende kleure is my gunsteling. Ek hou van die netjiese skoon voorkoms van die eind produk.

Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?

Margo:  Hekel is my een van my gunsteling stokperdies en tot dusver het ek nog nie enige items verkoop nie. Dit vind altyd 'n paadjie na 'n familie lid se huis. Maar ek sal graag wil verkoop. 

Dit was lekker om Margo te leer ken en  haar pragtige hekelwerk te bewonder. Baie dankie dat jy dit met ons gedeel het Margo! 

Tot volgende keer lesers!
Hekelgroete