Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Kuiergas #9: Louisa van Taak

Goeiedag almal!

Ons kuiergas vandag is Louisa van Taak.

Kyk  net hoe mooi is  haar  versameling! Kom ons laat haar toe om ons meer oor haarself te vertel.   


 
Ek is ‘n oud-Suidwester wat nou al omtrent vir 22 jaar in die Vrystaat bly. Ek is ‘n grasweduwee, het twee getroude dogters en twee lieflike kleinkinders. Dan is ek ook nog “ma” vir twee honde , twee katte en ‘n erg bedorwe African Grey.

 
Ek was die jongste van drie kinders en om hierdie woelige dogtertjie besig te hou terwyl die ander kinders by die skool is, het my ma my leer hekel. Mensig, dit beteken dat ek al vir meer as ‘n halwe eeu aan die hekel is! 




Ek het basies in die hippie-era grootgeword en van kleins-af het hulle kleredrag my geweldig gefasineer. Toe ek ouer was het ek vir my toppies en baadjies soos hulle sin met oumablokkies , vlinders en blomme op gehekel – weet nie wat die ander jongeres daarvan gedink het nie! (Jammer ek het nie fotos van daardie tyd nie…)


Ek het al met enige iets onder die son gehekel – wol, gare, tou, naaimasjiengare (vir baie fyn blommetjies) en dan ook met draad vir ‘n armband van draad en krale wat ‘n vriendin wou he.

In die winter hekel ek meestal komberse, serpe ens  en wanneer die hitte ons slaan, hou ek my besig met kleiner hekelartikels. Ek is ook baie lief om iets anders as die gewone te hekel – dit laat my vriende altyd wonder  “wat’s  volgende?”



Met die dat manlief in die buiteland werk en my kinders al reeds uit die huis is, is my tyd my eie.  Ek kan hekel van vroeg tot laat en dan nog deurnag ook as ek sou wou!

In die verlede (soos ons nou nog se^, “in die ou tyd”) is hekel geassosieer met ou tannies wat doilies hekel. Enige handwerk is deesdae weer hoogmode en hekel is die inding. Alles word deesdae gehekel:  klere, gordyne, komberse, geskenke, matte, noem enige iets en iemand  iewers het dit al probeer hekel.

Ek hou van enige kleur, maar menige keer vang ek myself dat ek weereens besig is met skakerings van blou en pers!


Hekel is een van my stokperdjies. Ek hekel gewoonlik vir myself, maar op die ou einde gee ek dit gewoonlik vir familie of vriende.


Ek het bietjie gaan oplees oor die oorsprong van hekel, maar eintlik is baie min bekend. Daar is wel op ‘n sekere manier met die vingers in die 16-1700s “gehekel”.  In die 1800s was hekel ‘n goedkoper manier om kant te vervaardig. Die arm en middelklas het gehekel, want net die ryk mense kon regte kant bekostig!Koningen Victoria het  hekel weer gewild gemaak toe sy vir die Britse soldate serpe gehekel het in die oorlog. Siestog, sy het toe ‘n groter hap afgebyt as wat sy kon kou en het toe net agt serpe gehekel , vir die res van die soldate het sy toe maar sjokolade gestuur!







Dit was baie lekker om hier by julle te kuier.


Hekelgroete  uit die Vrystaat. 

Louisa.



'n Groot dankie vir jou Louisa! Dit was heerlik om jou te ontmoet en dankie vir die lekker gesels en vir die wys van jou pragtige handewerk! 

Ek dink almal sal saamstem dat Louisa beslis 'n pragtige versameling hekelwerk het. Pragtige unieke items. Ek hou veral van die spinnekopweb in die boom. [Ek hoop dit is 'n rubber spinnekop wat daar sit!] Nog 'n paar persoonlike gunstelinge is die pragtige ontwerpe wat in die draadringe geplaas is, en daar is ook heelwat van die komberse wat beslis volpunte kry in my boek. Die pienk toppie is gehekel met die Elle Premier Katoen wat Louisa gewen het in die Mezomode kompetisie so 'n rukkie terug hier by Hekel Idees.   

En op hierdie laat Sondag middag groet ek eers weer.

Pragtige week vir julle almal!

Hekelgroete

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica