Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Totsiens 2013!

En so kom ons aan die einde van jaar 2013 en wat 'n jaar was dit nie! 


Eerstens wil ek net so bietjie agtergrond gee oor myself en vertel hoe ek tot hier gekom het. 

Ek is 'n ou blogger en my heel eerste blog wat ek begin het was op 31 Oktober 2008, 'n Engelse blog. Op daardie stadium het ek geredeneer dat Engels so 'n universele taal is dat ek in Engels sal moet blog. Dit was my proefblog as daar so iets is. *giggel* en hier het ek geblog oor 'Art Journals' soos die naam van die blog ook aandui "Ansota's Art Journal"

Ansota is ook die uwe en is die naam wat ek  gebruik as my kunstenaars naam. Nie dat ek enigsins daarmee wil voorgee dat ek 'n uitmuntende kunstenaar is nie, maar ek het 'n kunstenaars hart. Ansota is ook afgelei van my doopname. Anna Sophia Taute. Neem die eerste twee letters van my name en van en dit spel Ansota. Hier het ek deur die jare ge-eksperimenteer met verskillende mediums soos akriel, waterverf, mixed media en nog baie meer. Ek het ook probeer om die Suid Afrikaanse mense en veral vroue te betrek om ook te begin met Kuns Joernale maar sonder enige sukses. Ek blog nie meer daar nie maar vir die van julle wat belangstel om te gaan kyk plaas ek die link. 

Joernale is baie na aan my hart, veral geillustreerde joernale, waterverf en siels joernale waarin selfondersoek en groei van menswees en my psige ondersoek word, maar dit is 'n onderwerp waaroor ek vir ure kan gesels en hierdie is nie die plek daarvoor nie. Laat ek terugkom na Hekel Idees! 

Op die 10e Augustus 2012 het ek besluit om 'n Afrikaanse webblad te begin. Op daardie stadium het ek die behoefte gehad om in my eie taal te blog. My idee was om sommer net 'n Afrikaanse blog te begin waar ek my hekelgoedjies en idees kon wys. Ek wou sommer net my idees deel vandaar die naam Hekel Idees. Tot en met die einde van 2012 het ek net 4 'posts' opgesit en op daardie stadium was daar nie veel reaksie nie. 

Ek het rustig voort gehekel en patrone ontwerp en allerhande goedjies gehekel vir myself. My droom was nog altyd om 'n boek uit te bring met al my hekel patrone maar omdat ek voltyds werk skerts ek altyd dat dit maar sal moet wag totdat ek op pensioen gaan eendag. [Op daardie stadium het ek al my patrone in Engels geskryf.]

Ek bied al vir jare hekel klasse aan by The Crafters Inn in Somerset Wes. My klasse is altyd vol bespreek en oud en jonk hekel  ywerig saam. Daar was al hoe meer navrae van vroue wat wou weet waar hulle Afrikaanse patrone in die hande kon kry.  Ek het besluit om 'n Facebook blad oop te maak sodat ek meer mense kan bereik en het toe ook hierdie Teemussie patroon wat toe nog in Engels geskryf is gratis weggegee.

My patrone het verander van Engels na Afrikaans  en omdat ek dit lief om ander te leer het ek ook begin om tutoriale saam te stel. Dit het maar so sukkel-sukkel gegaan in die begin. Fotos is geneem met my Blackberry foon en indien die son nie skyn nie kon ek nie enige goeie fotos geneem kry nie. Party van die tutoriale is gedoen met 'n foon in die een hand en 'n hekelpen in die ander hand.

Groot was my verbasing toe Afirkaanse vroue skielik van oral oor begin om my te kontak.  Die getalle het begin groei en dit het my laat besef dat daar beslis 'n leemte is en dat Afrikaanse patrone en tutoriale waardeer word en daar 'n groot gemis is daarvoor. 

Die een ding het tot die ander gelei. Dit help nie ek plaas net my idees nie. Vroue wil weet hoe om dit self te doen dus het ek met tutoriale begin. 'n Afdeling vir beginners is geskep en so het my blog gegroei tot waar dit vandag is. Ek wil ook net byvoeg dat ek dit alles gedoen het so op my eie na-ure. 

Ek wou ook graag blootstelling gee vir ander vroue wat hekel en Kuiergas van die maand is toe daaruit gebore. En het ons kuiergaste ons nie geinspireer met hulle pragtige hekelwerk nie! 'n Groot dankie aan elkeen van julle wat 'n bydrae gelewer het. 

En so op die vooraand van 2014 wil ek dankie sê vir 'n ieder en 'n elk hier by Hekel Idees. Dankie vir julle ondersteuning die afgelope jaar. Vir al die eposse van oral oor. Dankie dat julle my pad saam met my loop.

Ek hoop om in 2014 vir julle sommer baie hekel inspirasie te gee. Ek kan nie belowe hoe gereeld dit sal wees nie omdat die lewe  onvoorspelbaar is maar ek kan wel sê dat ek my bes sal doen en probeer om vir julle gereeld hekel patrone, inspirasie, tutoriale, hekel stories en nog baie meer te gee.  Daar is nog soveel wat ek graag met julle wil deel in 2014.

En op 'n laaste noot!

Ek het die afgelope week skoon gemaak, kaste reggepak en alles georden hier in die huis sodat ek 2014 skoon en nuut kan begin. 

 'n Paar fotos van al my WIPs wat saam met my nie Nuwe Jaar ingaan! 

Ripple Kombers

Strepe in helder kleure: Kombers in wording.

African Flower Patroon: Begin van 'n kombers vir die Woonkamer.

Blokkies vir Yarn Indaba.

Indien julle nog nie begin hekel het nie. Daar is nog genoeg tyd! Gaan lees hier wat jy kan doen om ook deel te wees van die projek! 

En laastens moes ek net my woestynplant tuintjie met julle deel. Ek het die 3 plantjies gekoop en hulle in hierdie  vaas geplant. My keramiek akkedissie bly tog te lekker hier! 


Tot volgende jaar almal!
'n Wonderlike en Voorspoedige 2014!
Hekel groete

Wenner van Elle Premier Katoen en 'n Knitpro Hekelpen!

Goeiemore liewe lesers,

'n Hartlike en groot dankie aan almal wat ingeskryf het. Dankie vir al die ondersteuning en boodskappies wat ek daagliks van julle ontvang. Dit word opreg waardeer. 

Ek wil sommer ook net vir julle verduidelik hoe ek te werk gegaan het om die wenner te kies. Daar was altesaam 29 inskrywings. 

Ek het 'n genommerde lys gemaak van al die inskrywings wat ontvang is. Daarna het ek Random Org se 'online number generator' gebruik om 'n nommer tussen 1 en 29 te kies. Ek het die uitslag  'gecopy' en hier onder 'gepaste' sodat julle kan sien hoe dit gedoen is. 

Tyd om die wenner aan te kondig!


 Die  gelukkig persoon wat Elle Premier Katoen en 'n Knitpro hekelpen wen is ........    

Drumrolllllll ........

Ta..da..!!! 



True Random Number Service

Do you own an iOS or Android device? Check out our new app!

Random Integer Generator

Here are your random numbers:
12
Timestamp: 2013-12-08 08:20:29 UTC

En nommer 12 is ........ !!!


Baie baie geluk Louisa! 

Kontak my asseblief deur die kontak vorm in te vul sodat ek jou besonderhede kan kry. Alternatiewelik kan jy vir my 'n privaat boodskap stuur op Facebook. 

En 'n groot dankie aan Annette van Rensburg van Mezomode wat die prys borg! 

Mooi dag almal!


Kuiergas #7: Sonia Horn

'n Hartlike welkom aan Sonia Horn by wie ons vandag kuier!

1.   Vertel ons asseblief wie en van waar jy is Sonia?
 
Wat ‘n voorreg om ‘n gas op Hekel Idees te wees.  My naam is Sonia Horn, ek is ‘n tuisteskepper en die afgelope 7 jaar bly ek op die mooie Vredendal.  Spore het ek getrap op De Doorns, waar ek gebore is.  Rawsonville, waar ek grootgeword  en skoolgegaan het van Sub. A tot Matriek.  Gewerk op Worcester.  Getroud en gewerk by destydse “Volkskas” op Robertson.  Weens my man se werk terug na Worcester, asook Kuilsrivier en Vredendal.

Vanjaar is ek en my man Koos (so terloops – hy is die beste ontknoper en wol oproller), my beste vriend en maat, 29 jaar getroud.  Ons is die trotse ouers van 2 pragtige dogters.  Alida 23, is ‘n derde jaar verpleegstudent.  Marisa 21, werk by ‘n plaaslike rekenaarwinkel.


2.  Hoe lank hekel jy al?
Om groot te word in ‘n familie waar almal om jou brei en hekel is voorwaar ‘n goeie leerskool.  Ons is 2 meisiekinders en ons ma kon alles doen, brei, hekel, naaldwerk, koskook, blomme rangskik, alles wat jy met jou 2 hande kon doen, behalwe teken en musiek maak.  Sy het altyd vir ons gese, as jy nie iets probeer nie, gaan jy nie weet of jy dit kan doen nie en as dit die moeite werd is om dit te maak, doen dit goed en deeglik.  Ons tannies kon almal brei en hekel en as ons gekuier het was almal doenig met ‘n handwerk. 

Ons ouma het ons eerste breipenne, sulke kort dikketjies, vir ons gegee toe ons nog baie klein was.  Dus het ek eers leer brei en toe geleer hekel.  Vir my was dit dieselfde, net met ander penne,  ek was so 3 – 4 jaar oud.  Ons spot altyd dat ons kon brei en hekel voor ons behoorlik kon loop of praat en dat ons ma dit vir ons geleer het terwyl sy ons gevoer het.  So ek hekel al vir 47 jaar – wow, kan dit self nie glo nie.
  
3. Wie het jou geleer hekel?
 
My ma het  my en my suster geleer.  Ons het die “granny square” blokkie goed onder die knie gehad.  In ons huis is geglo dat ‘n kind moet werk vir ‘n sakgeldjie.  Ons het ‘n half sent gekry vir ‘n blokkie.  Julle moet onthou dit was in die vroee 1960’s toe daar nog half sente was en ‘n pakkie aartappelskyfies en ‘n botteltjie koeldrank amper niks gekos het nie.  Maar moenie dink ons kon gou ‘n blokkie afgejaag het nie – o nee.  My ma het ‘n gidsblokkie gehad en as jou blokkie nie pas nie, sal jy dit uittrek en netjies oor hekel.  Geen wol is weggegooi nie.  Daar is ‘n hele paar komberse se blokkies gehekel.

Vandag trek ek baie maklik ‘n projek uit wat nie reg werk nie en geen knoeiery nie want al weet ‘n ander nie daarvan nie, ek weet....
 
4. Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel? 


Enige iets, wol, hekelgare of tou.

Soos die gier my pak hekel ek winter en somer met wol.  Maar omdat Vredendal so warm kan word in die somer hou ek daarvan om doilies of vatlappe met hekelgare te hekel.

In my werksak is daar altyd ‘n pakkie “wet-wipes” en ‘n houertjie met babapoeier wat wondere kan verrig in ons warm omgewing.



5. Watter items is jou gunsteling artikels om te hekel?

Komberse.  Enige soort.

6. Hoeveel tyd kry jy om te hekel?

My man gaan soggens  7 uur uit die huis en dan is ek vir die res van die dag alleen tot hy vanmiddag na 17hoo by die huis kom.  Na ek klaar is met die skottelgoed, wasgoed en huis het ek die heeldag vir myself.  Met ‘n lekker koppie koffie sit ek graag voor die televisie en hekel en so word komberse gebore.


Ons het groot geword net toe die televisie uitgekom het.  Voordat ons kon televisie kyk moes al die skottelgoed skoon wees en ons huiswerk klaar.  Dan kon ons gaan sit en televisie kyk het, maar met iets in die hand.  So is die gewoonte aangekweek om altyd met iets besig te wees.


Ons vriende ken my ook dat ek altyd besig is met iets in die hand.  Gewoonlik is ek besig met so 3 artikels op ‘n slag, om die aandag afleibaarheid hok te slaan.  Een is altyd iets wat ek vinnig kan gryp as ek saam met my man rondry oppad na sy roete besoeke of as ons by vriende gaan kuier. Die ander 2 is gewoonlik groter items wat ek maar liefs binneshuis moet doen.

En ek kan met trots se dat ek nerens ‘n UFO het nie, maar net die 3 WIP. 

7. Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?

Die media is ‘n groot oorsaak en dit is wonderlik om te sien hoe mense weer begin hekel en brei. Mense wat hulle neuse opgetrek het sit nou self met ‘n hekelding in die hand.  Dit is verblydend om te sien hoeveel jong mense belangstel om te hekel. 


In die winkels is die mooiste gehekelde klere en dit spoor ook mense aan om vir hulle self iets aanmekaar te slaan.

En as jy graag wil hekel en daar is niemand om jou te leer nie, kan jy vandag met behulp van die internet en tydskrifte wat daarin spesialiseer leer hekel en brei. Waar ‘n wil is is ‘n weg.

Dan moet ons nie die helende eienskap van hekel onderskat nie.  Enige probleem en sorge word vergete as jy jouself besig hou met hekelwerk.  Ledigheid is nie verniet die duiwel se oorkussing nie. 

8. Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?

Dit hang af van die artikel wat ek maak.  Soms hou ek van net een kleur en soms gryp ek elke kleur wat ek in die hande kan kry. 

9. Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?

Hekel is beslis my stokperdie en as ek so gelukkig is om iets te maak wat ‘n ander persoon wil koop, dan verkoop ek dit graag.  Ek hekel wel vatlappe en doilies vir die uitsluitlike doel om dit te verkoop.  Dan gee ek ook graag van die goed wat ek hekel weg vir my vriendinne...  of mense wat my hart raak. Ek glo daarin om nie net te verkoop nie, maar ook om te deel.

10. Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel? Vertel ons meer.

1. Drie jaar terug het ‘n paar vriendinne bymekaar gekom en ons kuier waar moontlik elke Dinsdag  bymekaar, vanaf 10h00 tot laat,  met ons hekel- en breiwerk.  Ons noem onsself die “Vonkel Vroue”, maar nie “7de Laan” se matrone se Vonkel Vroue nie.  By ons groepie mag daar glad nie van ander mense gepraat of geskinder word nie, ons mag net hekel en brei.  Ons leer mekaar wel ook ander handwerkies soos om met krale te werk, Mosaiek, boksies ens. ens.  Mens kan nie glo hoe heerlik dit is om so saam te kuier nie en die wonderlike band wat daar tussen ons gevorm het nie. Elke week kuier ons by ‘n ander vriendin se huis.  Dan kuier ons ook gereeld by die kwekery.  Ons gaan eet ‘n vinnige ontbyt by die plaaslike Spur of Wimpy en dit met ons brei- en hekelwerk.  Dit is ongelooflik watter reaksie ons kry van mense wat kom navraag doen oor wat ons maak.

Ons is besig met ‘n “Memory Blanket” waar ons vir mekaar blokkies gee, of dit nou lap, gehekel of gebrei is.  En dit is te wonderlik om te sien hoe kreatief elkeen is.

2.  Julie die jaar het ‘n vriendin ‘n gesels groepie hier op Vredendal begin en ons kom elke Woensdag oggend by ‘n plaaslike koffiewinkel  “Manuela Coffee Shop” bymekaar vir ‘n uur.  Die uur is nou stadig besig om ‘n lang uur te word want ons kuier so heerlik.   Die groepie het ook ‘n Facebook blad waar  ek een van die admin is. Ons Kan! Hekel en Brei – Vredendal.  Kom kyk gerus.

3.  Dan leer ek ook graag mense hekel.   Al wat hulle moet saambring is 2 bolle “double knit” wol en ‘n no 4 hekelpen.  In die privaatheid van my huis en met ‘n lekker koppie tee of koffie.  Ek verkies om hulle te laat begin met ‘n “granny square” blokkie en dit is so lekker om te sien hoe die stywe vingers ontspan en hulle rustig raak sodra hulle sien die blokkie begin vorm aanneem.  En hoe trots hulle is op die kombersies wat hulle maak.

Met trots kan ek se dat beide my meisiekinders kan hekel en nie skaam is om voor hulle vriende te hekel nie.



‘n Kamera is ‘n wonderlike ding en ek is so spyt dat ek nie al jare gelede ‘n behoorlike ene gehad het sodat ek alles wat ek al gemaak het kon afneem nie.  Op Facebook het ek ‘n groep begin met die naam “My Maaksels”  waar ek deesdae al die goed wat ek gemaak het, opsit.  Dit is ongelukkig ‘n geslote groep maar ek “add” almal wat belangstel om daar te kom inloer.   Dit is vir my lekker om met ander te deel.  Wanneer die goed wat ek maak  iemand anders kan inspireer is dit wonderlik..  en ek gee ook glad nie om as ander mense goed wil maak wat ek gemaak het nie.  Dit is eintlik ‘n groot kompliment! 

Monica: Baie dankie Sonia! Ons het heerlik by jou gekuier  en dit is voorwaar n fees vir die oë om te sien wat jy alles met 'n bolletjie wol en hekelpen kan doen! Ek dink almal sal saamstem dat Sonia voorwaar baie vlytig is met die hekelpen en pragtige hekelwerk doen!

Tot volgende keer dan almal!

Hekel groete!
 

Kompetisie: Wen Elle Premier Katoen 4 draad asook 'n Knit Pro Hekelpen!


'n Gelukkige leser van Hekel Idees kan  5 x 50g Elle Premier Katoen draad asook 'n Knit Pro hekelnaald wen!

Om deel te neem aan  die kompetisie moet jy ingeskryf wees op Hekel Idees se blog of Facebook blad. 

Die vraag wat jy moet beantwoord om die prys te wen is die volgende:

Besoek Annette se webwerf om te sien hoeveel kos 1 x  50g Vinnis Bambi. Gee die antwoord hier onder in die kommentaar boks of alternatiewerlik kan dit op Facebook gedoen word.  


Die sluitingsdatum is 7 Desember 2013 en die wenner sal dan op 8 Desember 2013 aangekondig word.

Shop 868, Potgieter Park Building, 870 Meyer Street, Wonderboom South
Contact: Annette Van Rensburg Tel: 079 574 1220
Annette se blog adres:    http://mezomode.blogspot.com/ 
Annette se webwerf adres:  http://www.mezomode.co.za/




[Wenprys geborg deur Annette van Rensburg.]