Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Sirkelblom Granny


Weereens 'n maklike blokkie om te hekel. Vir hierdie tutoriaal het ek 4 kleure gebruik en het dit  deurgaans in dieselfde volgorde gehou. Dit sal ook baie mooi lyk indien elke blommetjie in 'n ander kleur gehekel word en die res van die blokkie in een kleur. Deur 4 blokkies te heg en dan 'n rand om te hekel kan groter blokke gevorm word en hierdie groter blokke kan dan weer vier vier aanmekaar gehekel word. Dit sal ook 'n lekker projek wees vir  'n kombers. Vir aanwysings hoe om die blokkies te heg sien die tutoriaal: Vashekel van blokkies: Ouma se manier. 

Materiaal gebruik: Elle Family Knit in die volgende kleure: Kleur A: Gold; Kleur B: Claret; Kleur C: Olive Green; Kleur D: Fog. 4mm Hekelpen. 

Goed kom ons begin.




Hekel 5ks met Kleur A en gs om 'n ring te vorm.

Ry 1: 2ks, werk nou nog 11lb in ring en gs in 2e ks. Heg af.












Ry 2:
 Heg Kleur B in enige lb en maak 3ks, werk nou in dieselfde lb nog 'n lb, 2ks, * werk in vlg lb 2lb saam afgewerk en maak 2ks,* herh van * tot * totdat daar 12 saam afgewerkte lb is, gs in 3e ks en heg af.

[Die aanwysings vir saamafgewerkte langbene word hier onder net na die patroon van blokkie verduidelik.]






Ry 3: Heg Kleur C in enige 2ks sp en werk beginhoekgroep soos volg: [3ks,2lb,2ks,3lb];  *1ks, 1hlb in vlg 2ks sp, 1ks, 1hlb in vlg 2ks sp, 1ks, werk nou in die vlg sp 'n hoekgroep soos volg: [3lb,2ks,3lb];* herh van * tot * nog 2 keer, werk  1ks, 1hlb in vlg 2ks sp, 1ks, 1hlb in vlg 2ks sp, 1ks, gs in 3e ks. Heg af.











Ry 4: Heg Kleur D in enige hoekspasie en werk beginhoekgroep, * 1ks, 3lb in vlg ks sp, 1ks, slaan 1 spasie oor en werk in vlg spasie 3lb, 1ks, werk vlg hoekgroep, * herh van * tot * nog 2 keer,  1ks, 3lb in vlg ks sp, 1ks, slaan 1 spasie oor en werk in vlg spasie 3lb, 1ks, gs in 3e ks. Heg af.







Die fotos onder dui die stappe vir die saamafgewerkte langbene aan. 



Slaan draad om pen en werk deur steek, haak draad en trek deur na voor en effens op, Daar is 3 lusse op pen, slaan draad weer om pen en werk deur die eerste 2 lusse op pen. Daar bly 2 lusse oor op pen.




Slaan draad om pen en werk deur dieselfde plek waar eerste steek gemaak is, haak draad en trek deur na voor en effens op. Daar is nou 4 lusse op pen.




Slaan draad om pen en werk deur eerste 2 lusse op pen. Daar is nou 3 lusse op pen.


Slaan draad om pen en trek deur oorblywende 3 lusse op pen. Daar is 1 lus op pen en dit voltooi 2 saamafgewerkte langbene.












Lekker dag almal en lekker hekel!

Uitnodiging aan alle Hekel Idees Lesers!

Kom kuier saam met die lesers van Hekel Idees.

Nou kan jy ook wys hoe jy hekel! 

Hiermee nooi ek alle lesers  uit om as kuiergas van die maand hier op Hekel Idees te verskyn. 


Daar sal aan elkeen wat belangstel die geleentheid gebied word om te wys hoe hulle hekelwerk lyk.  Of jy nou al jare lank hekel of eers onlangs begin het skryf in en wys vir ons jou hekelwerk. Fotos van hekelwerk asook  meer oor jou as persoon sal saam met die fotos verskyn. Dit sal alles per e-pos gedoen word. 

Nadat ek die aansoek ontvang het sal ek jou kontak met al die besonderhede. Daar sal 'n paar vragies wees wat jy moet beantwoord en ek sal ook goeie duidelike fotos verlang vir  die artikel. Die persoon wat eerste inskryf word die eerste kuiergas. Die persoon wat tweede inskryf word dan die tweede kuiergas ens. Afhangende van die hoeveelheid aansoeke kan daar meer as een kuiergas per maand op Hekel Idees verskyn. 

Stel jy belang? Al wat jy moet doen is om my te kontak en te vertel dat jy graag sal wil deelneem. Dit is nie nodig om met die aansoek 'n foto te stuur nie. Kontak my net en laat jou naam en e-pos adres en noem dat jy as kuiergas wil deelneem. Heel bo aan die blad is daar 'n afdeling 'Kontak My'. Klik daarop en dit sal jou deurneem na die plek waar jy vir my 'n boodskap kan stuur. Daar kan ook 'n privaat boodskap deurgestuur word op Facebook indien verkies. 

Belangrik! Moet  asseblief nie vergeet om 'n e-pos adres tesame met jou aansoek aan te stuur nie.  

Moenie wag nie! Jy kan die volgende gas wees hier op Hekel Idees! 

Hoop om sommer gou van julle te hoor!

Hekel groete

Tutoriaal: Leer hoe om die Hoek tot Hoek Kombers te hekel!


 Begin in een hoek en eindig weer met 'n hoek! 

Hierdie patroon is 'n wonderlike patroon om te gebruik vir komberse, blokkies en sjaals. Dit hekel verbasend vinnig en is boonop baie makliker as wat dit voorkom. Dit word vanaf die een hoek na die ander hoek gehekel in rye. Vir hierdie tutoriaal maak ek 'n vierkantige blokkie om te wys hoe die patroon werk en  ek is seker sodra jy jou blokkie voltooi het sal jy verstaan hoe dit vergroot kan word na enige grootte. Jy kan 'n vierkant doen, 'n reghoek of 'n driehoek en alles sal duideliker word soos  jy hekel. Een ding is verseker en dit is dat hierdie patroon  beslis 'n wenner sal wees vir daardie lekker hekel aande wanneer jy nie wil konsentreer met 'n ingewikkelde patroon nie. Dit is 'n patroon vir sommer net lekker kuier, klets en hekel!


Materiaal gebruik: Pure Gold Chunky 
5mm Hekelpen




Ry 1: Begin met 6ks, 1lb in 4e ks vanaf pen, werk nou 1 lb in elk van vlg 2 oorblywende ks, draai [daar is 1 blokkie in hierdie ry]












Ry 2: 6ks, 1lb in 4e ks vanaf pen, 1lb in elk van vlg 2 ks, vou nou die blokkie op sodat dit langs die eerste ry se blokkie lê en werk 'n gs in die ks sp soos aangedui op foto,








 werk 3ks en 3lb in dieselfde sp, draai



In die foto links kan drie blokkies gesien word. Onder links lê die eerste blokkie wat gewerk is in die eerste ry. Die tweede ry se blokkies lê afsonderlik een aan die regterkant van eerste blokkie en een aan bokant. 
         








Ry 3: 6ks, 1lb in 4e ks vanaf pen, 1lb in elk van vlg 2ks, gs in vlg ks sp,









3ks en 3lb in dieselfde sp, gs in vlg ks sp,














werk nou 3ks,









en werk dan 3 lb in dieselfde sp, draai [daar is 3 blokkies in hierdie ry]













Deur na die foto links te kyk kan jy sien hoe die rye in die skuinste lê. Die begin is die heel onderste punt en met elke nuwe ry is daar een ekstra blokkie.

Goed kom ons begin met ry 4.

Ry 4: 6ks,




1lb in 4e ks vanaf pen, 1lb in elk van vlg 2ks, gs in vlg ks sp,











3ks en 3lb in dieselfde sp, gs in vlg ks sp, 3ks en 3lb in dieselfde sp, gs in vlg ks sp,


3ks en 3lb in dieselfde sp, draai [daar is 4 blokkies in hierdie ry]


Hierdie stappe word eenvoudig herhaal. Daar sal met elke nuwe ry 1 ekstra blokkie wees. Hekel totdat die verlangde lengte bereik is en dan begin ons verminder. Ek het 6 rye gehekel en toe begin verminder. 





Wanneer jy met 'n nuwe kleur wil begin doen dit aan die einde van 'n ry. Wanneer jy by die heel laaste langbeen van 'n ry kom werk die langbeen tot 2 lusse op pen is en trek dan die nuwe kleur deur die 2 lusse.

Die nuwe kleur is geheg en daar kan nou voortgegaan word om die ry te voltooi.





Indien jy 'n sjaal wil hekel dan sal dit nie nodig wees om te verminder nie. Dit beteken jy gaan slegs die stappe soos bo volg totdat dit die verlangde grootte is.

Indien jy 'n vierkant wil hekel gaan jy aan albei kante tegelykertyd begin verminder. Dit beteken jy gaan dan glad nie meer 'n ry begin met 6 ks nie maar elke keer terug glipsteek tot by die volgende kettingsteek spasie.

Indien jy 'n reghoek wil hekel vir byvoorbeeld 'n kombers gaan jy slegs aan die een kant, die breedte van kombers begin verminder maar nog steeds aan die ander kant vermeerder tot die verlangde lengte bereik is en dan kan daar aan albei kante verminder word.

Die stappe om te verminder is dan soos volg:

Vermindering van rye:






Gs terug tot in die vlg ks sp, * werk in dieselfde sp 3ks en 3lb, gs in vlg ks sp en herhaal van * tot in die heel laaste ks sp, draai.


Deur elke keer terug te glipsteek stop die vermeerdering.




Dit word herhaal vir elke verminderings ry totdat daar weer net een blokkie is in die ry. Heg af. 









Opsomming van patroon: 

Die kombers word groter deur  altyd 6ks  te maak aan die begin van 'n nuwe ry. Elke 6ks wat gemaak word beteken daar word met elke ry een ekstra blokkie bygevoeg. Sodra die verlangde breedte of lengte van projek bereik word moet daar nie meer 6ks gemaak word aan die begin van 'n nuwe ry nie. Dan begin elke ry  deur terug te glipsteek tot in die volgende kettingsteek spasie, met ander woorde deur te glipsteek tot by die volgende blokkie. Dan word 3 kettingsteke en 3 langbene in daardie selfde kettingsteek spasie gemaak om die eerste blokkie van 'n ry te  voltooi.


Foto aan linkerkant:

Blokkie gehekel in veelkleurige draad.

Foto aan linkerkant:

My eerste groot blok voltooi. Ek het besluit om my kombers te hekel in blokke. Ek weet nog nie presies hoe ek dit aanmekaar gaan sit nie en speel nog met 'n paar idees. Hierdie blok is lekker groot 45x45cm en dit is regtig verbasend hoe vinnig hierdie patroon hekel. 





Lekker hekel almal!
Hekel groete



My Hekelwerk in Rooi Rose



Die tydskrif  Rooi Rose  het my genader  en gevra  om 'n paar  fotos van my hekelwerk te publiseer asook een van my patrone. Die artikel kan gesien word in die nuutste uitgawe van Rooi Rose. Dit is dan met groot trots en ook dankbaarheid dat ek dit met almal deel.
















Baie dankie Rooi Rose! 

Tutoriaal: Leer hoe om die 'African Flower' te hekel.


Die African Flower is een van die gewildste seshoek motiewe in die hekel gemeenskap. Sover my kennis strek is die ontwerpers van die patroon Lounette Fourie en Anita Rossouw. Ek het hierdie tutoriaal saamgestel vir almal wat graag wil leer hoe om hierdie pragtige blommetjie blokkie te doen. 










Kleur A: Begin met 6ks en gs in 1e ks om ring te vorm.










Ry 1: 4ks, werk nou in ring die vlg: [2lb,1ks] herh nog 4 keer, werk dan 1lb en gs in die 3e ks. Heg af.















Ry 2: Heg Kleur B in vlg 1ks sp, 3ks, werk nou in dieselfde sp 1lb,1ks,2lb; werk dan in elke oorblywende 1ks sp die vlg: [2lb,1ks,2lb]  en gs in die 3e ks.












Ry 3: Glipsteek oor die vlg lb tot binne in die vlg 1ks sp, 3ks, werk in dieselfde sp nog 6lb, werk nou in die vlg 1ks sp en elke oorblywende sp 7lb, gs in 3e ks, Knip draad en heg Kleur C.












Ry 4: 1ks, 1kb in elk van vlg 6lb,  1lb gewerk oor die 3e ry en in die 2e ry se sp tussen 2 groepe, * 1kb in elk van vlg 7lb, 1lb in sp tussen 2 groepe; * herh van * tot *  nog 4 keer, gs in 1e ks. Knip draad en heg Kleur D.











Ry 5: 3ks, 1lb in elk van vlg 2kb, * werk in vlg kb [1lb,1ks,1lb]; 1lb in elk van vlg 3kb, 1lb in vlg lb [dit is die langbeen wat oor 2 vorige rye gewerk is]; 1lb in elk van vlg 3kb, * herh van * tot * nog 4 keer, werk in vlg kb [1lb,1ks,1lb]; 1lb in elk van vlg 3kb, 1lb in vlg lb, gs in 3e ks. Heg af.  




Koop Hekeldraad en Kwilt Materiaal Aanlyn by Mezomode.

Paneel
Aanlyn winkels word al hoe gewilder! Dit is nie altyd moontlik om by wol, materiaal of kunswinkels uit te kom  wanneer mens heeldag werk nie en dit is soveel makliker en  geriefliker om voor die rekenaar te gaan sit  in die aand of op 'n Sondag middag en jou inkopies rustig aanlyn te doen. 

                       

Laat ek julle bekend stel aan 'n nuwe besigheid in Pretoria wat behoort aan Annette van Rensburg met die naam Mezomode wat bedryf word vanuit haar woning. Sy verkoop verskeie produkte aanlyn en vir diegene wat van kwiltwerk hou en ook alle hekelaars is dit beslis die moeite werk om te gaan loer wat alles beskikbaar is.                          

Jelly Roll


Daar is die mooiste kwilt materiale! Ek kyk na materiaal vanuit die oog van 'n passievolle hekelaar. Kwilt materiaal is wonderlik om te gebruik as 'n voering vir jou gehekelde handsak. Hekel die voorkant van 'n kussing en maak 'n mini kwilt vir die agterkant. Die kombinasie van hekelwerk en kwiltwerk kan wonderlike nuwe ontwerpe meebring. Gee jou verbeelding vrye teuels. Gebruik die kleure van 'n "Jellyroll" as inspirasie en kies jou hekeldraad se kleure daarvolgens.





Die volle reeks van Vinnis Colours kan hier aanlyn aangekoop word en indien jy nog nie daarmee gehekel het nie mis jy beslis uit. Die kleure van hierdie natuurlike draad is absoluut fantasties.

Twee voorbeelde uit die Vinnis Colours reeks: 


Serina 
Nikkim

Het julle al gehoor van 'Spaghetti Yarn'?  Dit is die heel nuutste inding! 




Elle se Pure Gold sal ook binnekort beskikbaar wees asook hekelpenne en nog meer! 

Vir al die lesers van Hekel Idees is daar 'n bekendstellings aanbod met afslag op enige aankope wat gemaak word vanaf 15 Julie tot 31 Augustus! 


Spandeer tussen R10,00 tot  R250,00 en ontvang 2.5% afslag
Spandeer tussen R300,00 tot R550,00 en ontvang 5% afslag
Spandeer tussen R600,00 tot R1000,00 plus en ontvang 10% afslag

Die afslag geld slegs vir eenmalige aankope en sluit posgeld en verpakking uit. 

Afslag Kode: MBHE01 

Baie belangrik! Gebruik die bogenoemde  kode om in aanmerking te kom vir die afslag.



Gaan loer gerus in by Mezomode! Beslis die moeite werd! Die pryse is reeds fantasties en dan kry julle nog afslag ook!