Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Patroon Steke: Die Gehekelde Mossteek.


Die mossteek is 'n pragtige en maklike steek om te hekel. Dit is effe kompak en vertoon dieselfde aan albei kante van werk.  Die 2 steke wat gebruik word hier is die glipsteek [gs] en die halwe langbeen [hlb] 

Die patroon werk in veelvoude van 2.

Vir hierdie tutoriaal begin ons dus met 20 kettingsteke.

Ry 1: Werk 'n gs in die 3e ks vanaf pen,  *1hlb in vlg st, gs in vlg st* herh tot end.





[Jy moet weer eindig met 'n hlb want jy het in die 3e ks vanaf pen begin werk en dit beteken die eerste hlb word  verteenwoordig met die 2ks wat reg aan die begin van die ry lê]




Ry 2: Jy gaan nou  'n hlb in elke gs van die vorige ry werk en waar jy 'n hlb in ry 1 gemaak het werk jy nou 'n gs. Hierdie ry gaan dus eindig met 'n gs en sal soos volg lees: 1ks, gs in 1e hlb,  *hlb in gs, gs in hlb* herh tot end. [Onthou om 'n gs in die heel laaste draai ks te maak]



Hier kan gesien word hoe die patroon vertoon na die 2e ry voltooi is. 





Ry 3: 1ks,  hlb in 1e steek, * gs, in hlb, hlb in vlg gs* herh tot end. [Hierdie ry begin en eindig weer met 'n hlb]


Let op waar die hekelpen ingesteek moet word. Dit kan verwarrend wees veral vir die beginner. Daar is 'n skuins lussie wat voor die steek lê. Dit kan maklik aangesien word as die steek maar tilt die ry effe na die voorkant en jy sal merk dat die steke effe na die agterkant toe lê. 




Merk die 'v' lussies wat gesien kan word wanneer die werk getilt word. Dit is die steke waardeur gewerk moet word. 






Ry 4: Ons het 'n hlb in die laaste steek gewerk dus moet ons nou weer begin met 'n gs in die 1e st. Werk altyd die draai kettingsteek, dus voordat jy met enige ry begin werk eers 1ks en begin dan om die ry te hekel vanaf die eerste steek tot by die laaste steek.

[Hier dui die naald die presiese plek aan waar die volgende steek gewerk moet word. Dus net agter die skuins lussie en onderdeur die 'v' wat net aan die agterkant daarvan lê .]










Volg net die stappe soos bo verduidelik. Een ry sal begin en eindig met 'n gs en die volgende ry sal begin en eindig met 'n hlb. Jy werk altyd 1gs in 'n hlb en 1hlb in 'n gs. 









Die agterkant en voorkant van werk vertoon dieselfde.  








En dit is dan die Gehekelde Mossteek. 
Lekker hekel almal!

2 comments:

  1. Hallo Monica. Ek geniet jou blad baie en kry baie wenke wat vir 'n beginner soos ek, baie werd is. Die mossteek vertoon lekker dig. Vir watter artikel sal dit die beste werk?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Riana, Dit kan regtig waar vir enige artikel gebruik word maar matte, vatlappies, baadjies, borslappies vir babas, komberse ens. sal baie mooi te vertoon.

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica