Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Kuiergas #3: Maryke Symington.

Baie welkom aan Maryke Symington wat vandag hier by Hekel Idees kuier. 

Monica:  Vertel ons asseblief wie jy is en  waar jy bly.

Maryke: My naam is Maryke Symington & ek bly in Kempton Park in Gauteng.

Monica:  Hoe lank hekel jy al?

Maryke: Ek het verlede jaar November besluit om die takie aan te pak.

Monica:  Wie het jou geleer hekel?

Maryke: My skoonsus het my die basiese gewys waarna ek 'n boekie wat ek in die Idees Tydskrif gekry het raadpleeg. Daar is ook 'n tannie in ons kerk wat my help wanneer ek vashaak. My tyd vir hekel is maar min so ek vergeet gou!



Monica:  Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel?

Maryke: Nee gits, op die oomblik hekel ek met gewone wol.

Monica:  Watter items is jou gunsteling artikels om te hekel?

Maryke: Ek is mal oor goedjies wat mens as geskenkies kan gee. My ringe is vir my baie spesiaal. Ek sal graag uiteindelik my hand aan beertjies (of so iets) vir minderbevoorregte kinders wil waag.

Monica:  Hoeveel tyd kry jy om te hekel?
Maryke: Glad nie baie nie. Ek hekel gewoonlik wanneer ek iewers moet wag & soms voor die TV (alhoewel TV kyk ook soos koekies in die kinderhuis is!)

Monica: Ek hoor jou Maryke. Ek kyk nie TV nie ek luister TV!  Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?

Maryke: Ek neem vir myself dat ougoed sentimenteel is & ek's nogal erg sentimenteel. Ek sal hoop dat met die wêreld wat so verander om te hekel mense sal laat verlang na hulle oumas / ma's ... Verder is hekel terapeuties (eintlik enige craft of  enige iets wat jy met jou hande doen)

Monica:  Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?

Maryke: Ek is LIEF vir lekker HELDER & BALDADIGE kleure. My skeppings moet SKREE van blygeit!

Monica: Ek stem saam. Ek is glad nie bang vir kleur nie.  Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?

Maryke: Op die oomblik is dit net 'n stokperdjie. Of ek ooit items sal verkoop ... ek weet nie ...

Monica:  Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel? Vertel ons meer.

Maryke: Ek maak kaartjies, papier, seep & kerse. Ek doen ook kalligrafie alhoewel ek dit vir eers opsy geskuif het. Mens se lewe verander erg wanneer die kinders kom & my kinders is op die oomblik my eerste prioriteit. Tyd vir kreatief wees begin nou weer 'n moontlikheid raak & ek gryp elke kans wat ek kry met albei hande aan.
Ek beplan eersdaags kreatiewe klassies vir mammas en/of kinders. Ek het reeds begin met 'n kits4kids reeks (ek is op Facebook) waar ek crafts in 'n pakkie opmaak met aanwysings & verkoop. So kan Mamma/Pappa tyd saam met hulle kind spandeer & die kind leer terselfdertyd 'n craft aan. Ek moet my blad opdateer want ek kry nie baie tyd nie. Ek het ongelukkig net soggens (4 ure) om huis skoon te maak (ek is 'n tuisbly mamma sonder hulp), ek help my man met sy besigheidsboeke, sorg vir die koskaste & probeer ook om so nou & dan 'n koppie koffie/tee by 'n vriendin te drink. Monica, dankie vir die geleentheid om deel te wees van Hekel Idees. Jy't my al soveel gehelp. My volgende uitdaging is die "granny squares".

Monica: Ek glo ook daaraan dat kreatiwiteit iets is wat van kleins af beoefen moet word en wanneer 'n gesin saam kreatief raak bou dit intieme en hegte bande. Dit is die saamwees en dinge saam doen wat so belangrik is.  Jou Kits4Kids klink na 'n baie lekker projek en ek wens jou alle voorspoed toe. 

Sodra jy die Granny Square onder die knie het sal daar geen keer wees nie. Die immer gewilde Granny Square is ouwêrelds en tydloos en die gebruik daarvan is eindeloos. 

Dit was lekker om met jou te gesels Maryke. Baie dankie! 

Lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica