Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel 'n Vader Kersfees vir die Kersboom.


Kan julle glo Kersfees lê al weer en loer om die draai. Hier is 'n Kersfees vader ornament wat die Kersboom sal verfraai. Dit is ongeveer 10cm hoog en is gehekel met 'n 4draad katoen. Vir 'n kleiner ornament gebruik 'n hekelgare no 5 en 2mm hekelpen. Hekel sommer 'n hele klompie om die Kersboom te versier met jou eie gehekelde handewerk.  


Materiaal gebruik: Elle Premier Katoen 4 draad en 3 mm hekelpen.

Begin met Rooi draad en werk 5 ks. Glipsteek om ring te vorm.

Ry 1: 1ks, werk nou 11hlb [halwe langbene] in die ring.

Ry 2: werk 2hlb in elk van die 11hlb [22hlb] [Plaas 'n merker in die 1e hlb van rondte en verskuif met elke nuwe ry om aan te dui waar die begin van elke ry is]

Ry 3: *1hlb in vlg hlb, 2hlb in vlg hlb * herh van * tot * tot einde van rondte

Ry 4: werk 1hlb in elke hlb tot einde van rondte. Glipsteek in die 1e hlb en heg af.
Ry 5: Heg Wit draad in dies hlb. Werk 1ks en 1hlb in elke hlb reg rondom, maar steek hekelpen slegs deur die voorste lusse van die steke. Glipsteek in 1e ks en heg af.

Ry 6: Heg Rooi draad in enige hlb.  2ks, 1hlb in dies steek, *1hlb in elk van vlg 2 hlb, 2hlb in vlg hlb* herh van * tot * tot einde van rondte.



Ry 7: 1hlb in 2e ks, [plaas merker om begin van rdte aan te dui]; 1hlb in elke hlb tot einde van ry.

Ry 8: 1hlb in elke hlb [onthou om merker te skuif]

Ry 9 en 10: Herh ry 8

Ry 11: 1hlb in elk van vlg 5 hlb, * slaan vlg hlb oor, 1hllb in elk van vlg 5hlb, * herh van * tot * tot einde van rdte. [Die rondte sal eindig met slegs 2hlb nadat 'n hlb oorgeslaan is]

Ry 12: 1hlb in elk van vlg 3hlb, * slaan vlg hlb oor, 1hlb in elk van vlg 3hlb * herh van * tot * tot einde van rdte. [Die rondte sal eindig met slegs 1hlb nadat 'n hlb oorgeslaan is] Heg af.

Ry 13:   Heg Wit draad in 1e hlb, 2ks, 1hlb in elk van vlg 2 hlb, * slaan vlg hlb oor, 1hlb in elk van vlg 3hlb,* herh van * tot * tot einde van rdte. [Die werk sal vinnig na mekaar toe trek. Dit is die nek gedeelte]

Ry 14: 2ks, 1hlb in dies st, *1hlb in elk van vlg 2hlb, 2hlb in vlg hlb; * herh van * tot * tot einde van rdte [Daar is in hierdie rondte weer vermeerder]

Ry 15, 16 en 17: 1hlb in elke hlb.

Ry 18: 1hlb in elk van vlg 2hlb, *slaan vlg hlb oor, 1hlb in elk van vlg 2hlb,* herh van * tot * tot einde van rdte. Heg af. Laat genoeg draad vir die saamtrek en vaswerk van bokant van kop gedeelte alvorens die draad geknip word. 




Gebruik watteersel en vul die binnekant totdat dit lekker styf gestop is. Gebruik 'n wolnaald en werk die bokant van kop gedeelte toe. deur die gare eers deur die steke te ryg en dan saam te trek. 







Hoedjie: 

Begin met Rooi draad en werk 30 ks,  1lb in 4e ks vanaf pen, 1lb in elke ks tot end [28lb]. Heg af.

Vlg ry: Heg Wit draad en werk 1hlb in elk lb tot einde van ry. Heg af. 

Vlg ry: Heg Rooi draad in 1e hlb, 3ks, * werk vlg 2lb tesame,* herh tot end en eindig met 1lb in laaste hlb, 3ks, draai

Vlg ry: Werk vlg 2lb tesame, herh tot end en eindig met 1lb in laaste lb, 3ks, draai

Werk nou 2 rye deur 1lb in elke lb te werk. Heg af. Vou hoedjie om en werk naat toe. 

Borduur ogies deur 'n swart borduur draad te gebruik en maak Franse knopies. 

Gebruik watteersel vir die baard en werk die mondjie bo oor die watteersel met 'n stukkie rooi borduur draad. 

Trek die hoedjie oor die kop en werk in posisie vas. Gebruik 'n stukkie lint vir die band om die lyfie en borduur 'n gespe bo oor die band of gebruik 'n vierkantige knoop. 

Borduur 2 regaf lyne om die arms voor te stel.

Werk 'n tosseltjie of klokkie aan die punt van die hoedjie vas. 

En hier is ons Kersfeesvadertjie. Gereed om sy plekkie aan die boom te kry. 

Ek hoop julle geniet dit ook om hierdie ornamentjies vir julle boom te maak.


Lekker hekel almal!


Hekel groete

2 comments:

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica