Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Hoe om die onderkant van eerste ry en bo-kant van laaste ry presies dieselfde te laat vertoon.


Het jy al blokkies gehekel wat begin met 'n strook kettingsteke en dan wanneer dit by die  aanmekaar las gedeelte kom besorg dit jou hoofbrekens want die onderkant van die blokkie en die bokant lyk nie dieselfde nie? 


Al die blokkies se laaste rye het die 'V' en dit is dus maklik om byvoorbeeld met die glipsteek tegniek hierdie twee kante aanmekaar te hekel deur elke keer deur die buitenste lussie te steek nie waar nie?










Maar sodra jy die onderkante wil las kom jy agter dat daar net een lus is waar deur gewerk kan word en alhoewel jy dan nie 'n ander keuse het nie word dit dan so gedoen.

Maar die verskil is tog duidelik sigbaar aan die voorkant van die werk. Daar is egter 'n manier om te keer dat hierdie frustrasie nooit weer in die vervolg plaasvind nie. 
Dit is wat ek met julle wil deel vandag. 




Normaalweg word daar die instruksie gegee om te begin met 'n aantal kettingsteke. Dan lees die patroon byvoorbeeld soos volg: 
1lb in die 4e ks vanaf pen. Die foto links wys ook hoe dit gewoonlik gedoen word. Maar wanneer ons dit so doen beteken dit daar is net een lus wat aan die onderkant van die werk gaan wys.  

Draai die kettingsteke om en merk dat daar net agter elke 'V' 'n lussie is wat amper soos 'n knoppie lyk.  In plaas van om die pen in die 4e ks te steek en dan in elke vlg kettingsteek te werk moet jy in hierdie agterste lussies werk. 

Dus sodra jy die kettingsteek strook met jou aantal kettingsteke gemaak het, tilt die strook om en werk deur hierdie agterste lussies.


Wanneer die patroon dus lees: Werk 1lb in die 4e ks vanaf pen dan werk jy die 1e lb in die 4e lus aan agterkant en daarna deur elke volgende lus.



Die eindresultaat is dat albei kante, bo en onder  presies dieselfde lyk. 

Die strook aan die linkerkant is soos gewoonlik gewerk  en daar kan duidelik gesien word dat daar net een lus is wat aan die onderkant wys. Die strook aan die regterkant lyk aan die onderkant presies soos aan die bokant.

Al vier hierdie blokkies  is met die glipsteek metode aanmekaar gehekel maar vertoon totaal en al verskillende omdat die linkerkantste blokkies se eerste ry in die lusse aan die voorkant van die kettingsteek strook gewerk is.

Die blokkies aan die regterkant is begin deur die kettingsteek strook om te draai en deur die agterste lussies te werk. Die glipsteke kan glad nie eens gesien word aan die regterkant van die werk nie. 

Dit is net soveel netjieser. 



Ek hoop julle vind die tutoriaal handig en kan dit toepas volgende keer wanneer julle van hierdie soort blokkies wil hekel. 

Lekker dag almal!



1 comment:

  1. Monica baie dankie ek het toevallig op die blad afgekom en is so dankbaar vir die raad. Ek vrees dit eintlik wanneer ek iets aanmekaar moet werk omdat dit so onnet lyk!.

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica