Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekelsteek: "Broomstick" Hekelsteek.


Die Broomstick steek word deesdae oral gesien op die net en in die tydskrifte. Dit is 'n pragtige steek om te leer en die eindresultaat is 'n pragtige kantagtige patroon. 

Ek het verskeie navrae gekry en almal wil weet hoe word die steek gewerk. Ek is vanoggend by die huis en het besluit om vir julle 'n tutoriaal te doen. Ek het probeer om die fotos so duidelik as moontlik te neem en alhoewel die son maar baie skaars is hier in die Kaap vanoggend hoop ek dat dit tog duidelik genoeg is sodat julle sommer in 'n japtrap ook hierdie steek sal kan baasraak!

Materiaal benodig: 

In hierdie tutoriaal het ek Vinnis Nikkim gebruik met 'n 5mm hekelpen. Jy kan enige dikte draad gebruik met 'n hekelpen grootte wat geskik is vir die draad. Normaalweg gebruik ek of 'n 3.75mm of 4mm hekelpen wanneer ek met 'n dubbeldraad hekel, maar in hierdie geval het ek 'n nommer groter gegaan omdat ek wil hê die eindproduk moet lossies wees en dit moet goed drappeer wat die ideale voorkoms sal wees vir 'n serp.  

Vir die optel van die lusse benodig jy ook 'n groooooot nommer breipen. Ek gebruik hier 'n 20mm maar jy kan enige groot nommer gebruik. Die grootte van die breipen bepaal die lengte van die lusse wanneer die steek gewerk word.

'n Verdere puntjie is ook dat ek die patroon afwissel met 2 rye kortbene en dan 1 ry Broomstick, weer 2 rye kortbene en 1ry Broomstick. Daar is verskillende kombinasies om die Broomstick te gebruik. Ek gebruik ook veelvoude van 5 in hierdie patroon maar daar is patrone waar veelvoude van 4 byvoorbeeld gebruik kan word. Die beginsel van die patroon is dat sou jy in veelvoude van 5 werk beteken dit jy werk 5 lusse af op 'n keer en in veelvoude van 4 word 4 lusse afgewerk. Binne in elke groepie van 4 of 5 lusse wat van die breipen verwyder word moet daar 'n aantal kortbene gewerk word. Sou ek 4 lusse verwyder moet ek dit vervang met 4 kortbene. Dit klink nog Grieks op hierdie stadium maar kom ek wys julle wat ek bedoel. 
  
Goed kom ons begin! 

Begin met 26 kettingsteke en werk 2 rye kortbene. Die heel eerste kortbeen word in die 2e kettingsteek vanaf pen gewerk wat beteken daar sal 25 kortbene in elke rye wees. Onthou ons werk in veelvoude van 5.

Wanneer die 2e kortbeen ry voltooi is verwyder die hekelpen en steek die breipen deur die lus soos aangedui op die foto. Indien jy regshandig is soos ek dan sal jy van links na regs werk. Indien jy linkshandig is sal jy van regs na links werk. 








Neem die hekelpen en steek deur die volgende kortbeen, slaan die draad om die pen en trek die lus deur na vorentoe. 

Trek die lus lank genoeg uit sodat dit om die breipen gehaak kan word en trek dan die draad stywer. Moet nie die draad te styf  trek nie. Werk lossies want wanneer die hekelpen met die volgende stap deur die lusse gesteek moet word moet daar genoeg spasie wees sodat dit gerieflik die 5 lusse sal kan afhaak. 
Herhaal die stappe soos reeds verduidelik. 

Steek die hekelpen in die volgende kortbeen, haak die draad en trek deur na vorentoe. 



Plaas die lus om die breipen.







Herhaal totdat daar deur al die kortbene gewerk is. Daar is 25 lusse op die breipen.


Steek die hekelpen deur die eerste 5 lusse op breipen en sorg dat die werkende draad aan die agterkant lê. Slaan  die draad om hekelpen en trek dit deur die 5 lusse.


Sodra dit deurgetrek is slaan die draad weer om maak 'n kettingsteek. Dit trek die 5 lusse tesame. 

Die 5 lusse is nou gereed om van die breipen verwyder te word.


Werk nou 5 kortbene in die 5 lus- spasie soos die foto illustreer.

Haak nou die volgende 5 lusse bymekaar op die breipen. 


Jy sal merk dat die werkende draad nie nou aan die agterkant lê nie maar meer na vore trek. Slaan die draad om en trek deur die 5 lusse. 



Daar is nou 2 lusse op die pen. Die heel laaste lus van die laaste kortbeen wat gewerk is plus die lus wat so pas deur die 5 lusse op die pen getrek is. 










Slaan die draad om pen en trek deur albei lusse. 

Hierdie steek tel ook as die eerste kortbeen. Werk nou nog 4 kortbene in dieselfde spasie.


Herhaal die stappe totdat alle lusse in groepe van 5 afgewerk is. Maak 1ks en draai werk om. 

Werk nou weer 2 rye kortbene en maak seker dat daar weer 25 kortbene in elke ry is. 

Na elke tweede ry word die hekelpen verwyder en die breipen word dan weer gebruik om die volgende ry lusse op te tel.  











Die eindresultaat is 'n pragtige kantagtige patroon wat lieflik vertoon. 


Die agterkant van die patroon.


Die voorkant van die patroon.
En dit is dan die "Broomstick" patroon. 

Geniet dit en lekker hekel almal! 

Hekelgroete!

9 comments:

  1. Dankie Monica, ek gaan dit beslis probeer. dis baie mooi!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Plesier Hendrina! Dankie vir die boodskap. :)

      Delete
  2. Baie dankie, Dit lyk pragtig gaan dit beslis probeer!

    ReplyDelete
  3. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Klippies in my skoen! Bly jy vind my aanwysings maklik. :)

      Delete
    2. Hi Monica

      Dankie vir die duidelike tutoriaal, ek het glad nie gesukkel om die stappe te volg en self 'n blokkie te hekel nie.

      Groete
      Lianda

      Delete
  4. Hi Monica

    Dankie vir hierdie wonderlike tutoriaal, so maklik verstaanbaar :-)

    Mooi dag
    Lianda

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Lianda,

      Baie dankie vir die terugvoer. Jy moet lekker hekel en wonderlike dag ook vir jou!

      Monica :)

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica