Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel Tutoriaal: Krapsteek.

In opvolg van die Kamma Tartan Vadoekie wys ek vandag vir julle hoe om die krapsteek te hekel. Die krapsteek is 'n pragtige steek om te gebruik vir die afronding van items soos vadoekies, kombersies, some van baadjies, moue, krae ens. Dit gee 'n voorkoms van gedraaide koord en lyk net so pragtig om die rand van 'n gehekelde mandjie of selfs 'n babakombersie. 



Die krapsteek is eintlik  'n kortbeen wat in die teenoorgestelde rigting gehekel word. Wanneer 'n gewone kortbeen gehekel word, word die pen in die volgende steek aan die linkerkant gesteek en dan gewerk. Daar word normaal weg na die linkerkant toe gewerk indien jy regshandig is.  Wanneer 'n krapsteek gehekel word, word die pen in die volgende steek aan die regterkant gesteek en dan gewerk. Dit beteken jy werk jou krapsteek na die regterkant toe.  Maar kom ek wys julle hoe maklik dit is! 


Heg die draad in enige steek en werk 1ks, steek dan die pen in die steek wat aan die regterkant lê ....

slaan die draad om die pen


en trek deur die steek na vore [daar is 2 lusse op die pen]


slaan draad weer om hekelpen



en trek deur albei lusse. Dit voltooi die eerste krapsteek. 



steek pen in die volgende steek wat aan die regterkant lê 

haak die lus en trek deur na vore [2 lusse op die pen], slaan draad weer om pen


en trek deur albei lusse.


Herhaal die stappe. Indien jy regshandig is en gewoonlik na die linkerkant beweeg wanneer jy hekel beteken dit dat jy nou na die regterkant beweeg. Indien jy linkshandig is werk dit net anders om. Linkshandiges sal na die linkerkant toe beweeg.  
 

Vadoekies lyk pragtig afgerond met so 'n krapstekie om die buitenste rand.
Pragtige dag almal en lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica