Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Drasak vir Hekelgoed.


Ek het hierdie sak vandag uiteindelik voltooi en ek moet sê ek is baie in my noppies. Ek wou 'n lekker groot sak hekel waarin ek my kombers waarmee ek besig is kan rondkarwei en dit is groot genoeg om die ekstra wol plus die kombers te hou. 

Wat hierdie sak so lekker maak is die feit dat dit in enige grootte gehekel kan word want die onderkant word eerste gedoen en daarna word die sig-sag gedeelte apart voltooi om reg rondom die bodem van die sak te pas. Maar kom ek wys julle hoe om hierdie sak te hekel. 

Materiaal gebruik: Elle Pure Gold Dubbeldraad en 'n 3mm hekelpen. Ek het die 3mm pen gebruik om te verhoed dat die hekelwerk te los is. Die sak is nog steeds sag maar die steke is lekker kompak en lê mooi naby aan mekaar. 

Die Bodem:

Ry 1: Begin met 'n 5ks en gs om ring te vorm, 3ks, werk nou nog 13lb in sirkel, gs in 3e ks. [14lb]

Ry 2: 3ks, 1lb in dieselfde st, 2lb in elke lb tot einde van ry, gs in 3e ks. [28lb]

Ry 3: 3ks, 1lb in dieselfde st, 1lb in vlg lb, 2lb in vlg lb [daar word dus vermeerder deur 2lb in 'n lb te werk], herh dus deur soos volg te werk: *1lb, vermeerder in vlg lb,* herh van * tot * tot einde van rondte en eindig met 1lb, gs in 3e ks.


Ry 4: 3ks, 1lb in dieselfde st, *1lb in elk van vlg 2lb, vermeerder in vlg lb,* herh tot einde van ry en eindig met 1lb in elk van vlg 2lb, gs in 3e ks.


Ry 5: 3ks, 1lb in dieselfde st, *1lb in elk van vlg 3lb, vermeerder in vlg lb, * herh tot einde van ry en eindig met 1lb in elk van vlg 3lb, gs in 3e ks.

Ry 6: 3ks, 1lb in dieselfde st, *1lb in elk van vlg 4lb, vermeerder in vlg lb, * herh tot einde van ry en eindig met 1lb in elk van vlg 4lb, gs in 3e ks. 

Die bodem kan nou verder vergroot word deur elke keer een steek by te tel tussen elke vermeerdering. Dit beteken in ry 7 sal daar 5lb wees tussen elke vermeerdering. In die 8e ry sal daar 6lb wees, in die 9e ry 7lb ens. ens. Ek het my sak se bodem bly vermeerder tot ek 14lb tussen elke vermeerdering gehad het.  

Wanneer jy tevrede is met die grootte van die bodem stop jy met die vermeerderings en werk 'n paar rye deur 1lb in elke lb te werk. Die sak sal dan geleidelik begin opwaarts trek omdat daar nie meer vermeerder word nie. Ek het 9 rye gehekel en toe afgeheg. 




Ek het begin met 39ks en begin hekel. Verander kleure na keuse en hekel die strook totdat dit die lengte bereik om reg rondom die bodem gedeelte te pas. 



Gebruik 'n wolnaald en werk die twee dele nou aanmekaar vas met 'n oorhandsteek deur die sig-sag strook om die bodem te plaas sodat die verkeerde kant van strook en binnekant van bodem na jou toe wys.




Nadat die bodem en sig-sag gedeelte aanmekaar vasgewerk is kan die boonste gedeelte van die sak nou gehekel word.

Begin deur die draad te heg in enige van die rye, maak 3ks en 1lb in dieselfde plek en werk dan 2lb in elke ry wat duidelik gesien kan word in die foto. Vir elke sig-sag ry is daar 2lb in die sykant gewerk. 





Hekel nog 2 rye deur 1lb in elke lb te werk en heg af. 


Nou kan die bo-rand gehekel word. 


Groen ry: Heg draad in enige lb. 5ks, 1lb in dieselfde lb, *slaan vlg 2 lb oor en werk in vlg lb [1lb, 2ks, 1lb]; * herh van * tot * tot einde van ry en gs in 3e ks. Heg af.







Laaste ry: Heg draad in enige 2ks sp, werk 3ks en 5lb in dieselfde sp, *1kb in vlg 2ks sp, 6lb in vlg 2ks sp; * Herh van * tot * tot einde van ry en gs in 3e ks. Heg af. 



Dit voltooi die sak en nou moet die handvatsels en blomme gehekel word.
Besluit hoe lank die handvatsels moet wees en begin met 'n aantal kettingsteke. Ek het 110ks gebruik en werk dan 4 rye halwe langbene en heg af. 

Om die bande te versterk en te verhoed dat dit uitrek werk nou 'n ry glipsteke reg rondom die band. 


Hier kan die ry glipsteke gesien word soos dit aan die onderkant van die band sal vertoon. 
Werk die glipsteke reg rondom die band.  


Hekel dan 4 Ierse rosies of enige ander versierings kan gebruik word. Ek het besluit om die Ierse rosies met gekleurde knope te gebruik vir my sak. 















En tadaaa! Hier is my sak.




Van bo af gesien. En die kombers met al die wolletjies is ingepak en staan gereed, net reg om gebruik te word!  












Ek hou so baie van die sak ek is sommer lus en maak nog een wat kleiner is en wat ek kan gebruik vir daardie kleiner projekte! 









Lekker hekel julle!


3 comments:

  1. Hallo-eks besig met die bodem,vermeerder soos in die patron gese word,maar dit lyk of my bodem nie wil rond bly nie-dit lyk asof hy voue maak...doen ek iets verkeerd?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Anonymous! Dit behoort nie voue te maak nie. Indien dit voue maak beteken dit jy vermeerder te veel steke met elke ry. Maak net seker jy vermeerder soos aangedui.

      Delete
    2. Baie dankie dat jy reply het!!ekt weer mooi deur jou patron gelees--ek gaan nou maar eers uittrek *sug* en dan sal ek weer probeer.ek dink ook daars te veel langbene by myne gewees..dankie groete Jeanne

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica