Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Leer om te Wiggel-Waggel



Wiggel-Waggel Hekel



Wat is Wiggel-Waggel hekel? Dit is sommer die naam wat ek dit gedoop het omdat ek nie seker is wat dit in Afrikaans genoem word nie. In Engels het dit  verskeie name soos "Wiggly Crochet", "Wiggle Crochet" en selfs "Ruffle Crochet Technique". Hoe dit ookal sy ek het dit Wiggel-Waggel hekel gedoop omdat dit die manier beskryf  waarop te werk gegaan word om hierdie soort hekelwerk te doen. 

Die tegniek is die samevoeging van 2 verskillende hekeltegnieke en word dan ook in 2 stappe voltooi. Die eerste stap is om die basis of agtergrond te hekel waarop die Wiggel-Waggel dan gewerk kan word. 

Die agtergrond is niks anders as filet hekelwerk nie. 



Die blokkies word ook uitgewerk op presies dieselfde manier as wat met filet hekel gedoen word. Die diagram bo het 9 x 9 blokkies. Ons neem die aantal blokkies wat horisontaal geplaas is en vermenigvuldig met 3 en tel dan nog 5 steke by die somtotaal. 

Dus 9 x 3 + 5 = 32  Daar word dus begin met 32 kettingsteke.


Omdat die Wiggel-Waggel tegniek bo oor die Filetwerk gehekel word kan die filet glad nie vanaf die voorkant gesien word nie. Dit werk beter as 'n dunner wol of gare gebruik word vir die filet agtergrond want dit veroorsaak dat die kartels beter en digter vertoon. Werk dus met 2 verskillende dikte wol. In hierdie tutoriaal word 4 draad wol gebruik vir die Filetwerk en 'n  Dubbeldraad vir die Wiggel-Waggel patroon.

Hierdie tegniek is uitstekend vir allerlei projekte wat vra vir 'n digte drie-dimensionele voorkoms. 

Die Filetwerk: Gebruik 'n 4 draad wol en 3mm hekelpen en hekel soos volg:  

Begin met 32 kettingsteke

Ry 1: 1lb in 8e ks vanaf pen, 2ks, * slaan vlg 2ks oor en werk 1lb in vlg ks, 2ks * herh van * tot * nog    6 keer en werk 1lb in die laaste ks, draai

Ry 2:  5ks, * 1lb in vlg lb, 2ks,* herh van * tot * nog  7 keer, 1lb in 3e ks, draai.

Herhaal ry 2 nog 7 keer [Daar is 9 blokkies horisontaal en 9 vertikaal]

Dit voltooi die filetwerk. Nou kan ons begin Wiggel-Waggel bo op die filetwerk. Gebruik dubbeldraad en 4 mm hekelpen en heg draad om die stam van een van die middelste blokkie se  langbene, Ons werk van die middel na die buitekant.



Kyk na die diagram aan linkerkant. Die swart kolletjie in die middel dui aan waar die draad geheg word in die begin. Die pyltjies dui die rigting aan waarin gewerk word.

Ter illustrasie het ek al die lyne met 'n ander kleur gemerk. Ek het egter net 3 kleure gebruik vir die patroon. Die buitenste rand word gehekel nadat die Wiggel Waggel tegniek voltooi is.

Let asseblief daarop dat die buitenste rand blokkies met die rooi kolletjies oop gelos moet word sodat die randjie later daarom gehekel kan word.

Alles sal wel duideliker word soos wat jy hekel.

Indien jy regshandig is sal jy anti-kloksgewys werk en andersom indien jy linkshandig is.



Heg die draad, werk 2ks en werk dan 4lb om die stam van die 1e lb.

Beweeg om na die aansluitende stam van vlge lb en werk 5lb om die stam.

Die werk word die hele tyd gedraai sodat die stam waaroor gewerk word horisontaal lê.


Hier is die middelste blokkie voltooi. Daar is om al 4 die stamme van die langbene gewerk. Glipsteek in die 1e lb en heg af.




.

Heg die volgende kleur om 'n langbeen en werk 2ks en 4lb om dieselfde stam en om elke stam daarna word 5lb gewerk.
Werk dwars oor 'n stam, draai werk sodat die volgende stam weer in posisie lê om gewerk te word. Bly heen en weer beweeg. Eers op met die stam van langbeen,  dan dwars oor die volgende stam van 'n langbeen, dan weer  af oor die volgende stam van langbeen. So dit is: Op, dwars, af, dwars, op, dwars, af, dwars, op, dwars, af, dwars ens. ens. al die tyd in dieselfde rigting tot jy weer by die begin uitkom.





Hier kan gesien word hoe die werk vertoon aan die agterkant. Kan julle sien hoe die steke op, dwars en af  lê?




En dit is hoe die ry aan die bokant lyk.

Voltooi nou elke ry blokkies tot die einde. Om op te som. Die middelste blokkie was ry 1. Die tweede ry blokkies is ry 2 ens.



Ek het Oranje in die middelste blokkie. Dan 2 rye met die gekleurde draad en al die ander rye is met die een kleur groen gedoen.


Die agterkant na al die stamme gewerk is. Let op dat die heel laaste blokkie nie gewerk is nie. Ons gaan nou die randjie omhekel.












Heg draad in 'n hoek en werk in dies sp soos volg: [2ks, 2lb, 2ks, 3lb]; werk nou in elke spasie van 'n blokkie 2lb en in die oorblywende 3 hoeke werk [3lb, 2ks, 3lb], gs in die 1e lb en heg af.

Hierdie blokkies is so lekker pofferig en sag mens wil net heeltyd aan hulle vat!





Hoop julle gaan lekker Wiggel Waggel!










No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica