Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Kuiergas #2 Anneke Wiese.


Ons gesels vandag met Anneke Wiese. Sy is oorspronklik van Beaufort -Wes in die Karoo maar nou reeds 23 jaar woonagtig in die Kaap. Sy het in Januarie 2013 verhuis na Paternoster vanaf Seepunt. Anneke is al 14 jaar getroud met Tobie Wiese en het drie pragtige dogters ouderdomme 11, 12 en 'n  laatlammetjie van 3 jaar oud.  Sy erken openlik dat sy verslaaf is aan hekel en 'n vriendin het nou die dag vir haar gesê dat sou haar kinders lank genoeg langs haar stil sit sal sy hulle toehekel. Katte en tjoklits is ook op haar lysie van goed waarvan sy baie hou! :) 

Monica:  Hoe lank hekel jy al?
Anneke: Ek hekel al sedert 2003.  Ek wou oorspronklik leer hekel om mooi blommetjies onderaan my girls se broeksome vas te werk. So ek hekel al vir 10 jaar.
Monica:  Wie het jou geleer?
AnnekeNiemand wat ek ken, kon hekel nie. Toe het ek by Leserskring vir my 'n hekelboek gekoop en sommer so uit die boek geleer. Meeste van die artikels in die boek was met tou gehekel. Ek het 'n vreeslike klomp bakkies/mandjies met tou gehekel. En alles net kortbene en langbene. Niks ingewikkeld nie.  Al my vriende het daardie jaar mooi mandjies present gekry.

Toe het ek vir lank nie gehekel nie.  Ek het weer in 2010 na die laatlam se koms weer weggetrek en nog nie weer opgehou nie. 
Ek wou vreeslik graag granny squares hekel, maar kon nie eintlik patrone lees nie.  'N onderwyseres by die kinders se skool het vir my gewys hoe om 'n granny square te hekel.  Toe is dit net granny squares waar jy kyk.  Die kinders se lessenaarstoele se sitplekke word met gehekelde blokkies oorgetrek; en dis granny square handsakkies en serpe. 
Toe ontdek ek 'n paar hekelblaaie op facebook en hekelblogs op die internet. Soos julle weet is die idees eindeloos en as ek 'n lys moet maak van alles wat ek nog wil hekel en behekel, sal die lys se papier reg om die wêreld kan strek. 
Nou leer ek almal om my hoe om te hekel.  Ek het bv. in Seepunt vir my huishulp geleer hekel.  En selfs vir haar 'n bestelling gekry vir serpe vir 'n boetiek in Langebaan.  Sy het sommer gou-gou vir haar R1200 losgehekel.  Ek was baie trots op haar.

Monica:  Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel?
Anneke: In die begin, was dit enige wol wat voorkom. Ek hou nog steeds baie daarvan om met tou te hekel. Premiere katoen is ook lekker. En deesdae is die T-shirt "wol" my gunsteling.Ek het laaswinter die idee gekry om ons huisie by die see se eetkamerstoele met groot granny squares van t-shirt lap oor te trek.  Toe kon mens nog nie die klaargeknipte balle koop nie.  Ek het self die stroke geknip.  Ure se knip en baie blase op die vingers!  En t-shirt materiaal is ook glad nie meer goedkoop nie!

Monica:  Watter items is jou gunsteling artikels om te hekel?
AnnekeOp hierdie stadium beslis die matte en mandjies wat ek met die T-shirt hekel.  Dit maak lieflike presente as jy jou vriendinne se kleurskema ken. Ek hou daarvan om dekor artikels te hekel. Dis so 'n maklike manier om 'n vertrek te versier.  Een mat en een mandjie in 'n mooi kleur en die hele vertrek lyk mooi.


Monica:  Hoeveel tyd kry jy om te hekel?
Anneke: Deur die dag nie veel nie.  Soms sneak ek vroegoggend 'n half uur in as ek weet ek gaan 'n besige dag met die kids en die huis hê.   Saans na aandete en skottelgoed is my hekeltyd.  En as ons toddler gaan slaap kry ek kans om 'n nuwe patroon of twee te leer. En naweke gaan my hekelwerk ook saam beach toe.  Dis ook vir my heerlik om in die mouter te sit en hekel wanneer ons iewers heen ry.  Hoe verder ons ry, hoe beter!  

Monica:  Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?
Anneke: Vir my was dit 'n "veilige" tydverdryf toe Anya nog klein was. Ek kon saam met haar op die vloer sit terwyl sy kruip en geen gevaar van iets wat in haar oog kan steek of mors nie. Dis 'n relatiewe goedkoop stokperdjie wat mens lekker saam met jou kan ronddra. Mense hekel nou "uit die boks" so dis glad nie meer outyds nie.  Dis ook baie kalmerend en terapeuties. En die idees vir artikels wat jy kan hekel is eindeloos. Die internet is propvol idees en gratis patrone. Die internet maak dit ook maklik.  Jy kan oombliklik vir google of jou gunsteling blog of facebook hekelblad vra vir raad as jy vashaak met 'n moeilike patroon. Dis ook 'n lekker sosiale stokperdjie.  Jy kan saam met vriendinne hekel en dis ook lekker om vir ander mense en veral kinders te leer hoe om te hekel, aangesien hulle dit nie meer in die skole leer nie. Ek het al heelwat vriendinne gemaak deur die fb hekelblaaie.  As iemand op die blad hier in die omgewing is, laat weet hulle my en dan kry ons mekaar vir koffie en hekel.

Anneke se matte
Monica:  Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?
Anneke: My gunstelingkleure vir ons huisie by die see is turkoois en pienk.  Ek hou ook van wit, maar dis glad nie prakties met 'n spul kinders in die huis nie. Verder is ek mal oor bont ook!




Monica:  Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?
Anneke: Hekel is heel eerste my stokperdjie.  Ek is totaal en al verslaaf! Ek verkoop ook items. Dis altyd lekker om 'n ekstra geldjie in te kry sodat jy net meer wolle kan koop! Hahaha! En daar is regtig nie plek in ons klein huisie vir alles wat ek hekel nie!  Daar is van my hekelwerk te koop by Mondvol Padstal. Hulle is tussen Paternoster en Vredenburg.  En ek kry ook bestellings by vriende en by die kinders se maats se Ma's. Ek het ook al verkoop by die Weskusmark in Vredenburg, maar ek kan nie elke Vrydag middag daar gaan sit en my man opsaal met ons 3 dogters nie.  Dan wil ek ook nog begin om aanlyn te verkoop.

Monica:  Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel? Vertel ons meer.
Stoel in die Vroue Keur.
AnnekeAs jy enigsins van jou hekelwerk wil verkoop, moenie skaam wees om met jou hekelwerk te spog nie. Dra dit oral saam met jou. Die Ma's by die netbal weet al ek het meestal een of ander gehekelde toppie, trui of romp aan. En hulle kom loer altyd wat ek nou weer hekel. En ek sit altyd foto's van my hekelwerk op my facebook blad en deel dit ook af en toe met van die hekelblaaie. Ek en 'n vriendin se hekelwerk was al in die Vrouekeur in 2012. Ons was vreeslik opgewonde daaroor en het nogal navrae en 'n paar bestellings gekry na die artikel. 
My heel eerste doily mat wat ek met die t-shirt gehekel het, verskyn ook op die blog van die vrou wat die patroon geskryf het, omdat ek die foto met haar gedeel het. En sy het intussen sommer 'n paar van my ander matte ook opgesit. 
Ek leer ook sommer met bbm en emails vir my suster se dogter nuwe steke en patrone. Fantasties met vandag se tegnologie ne! Sy was so gelukkig om by haar Ouma (my Ma) te leer, want hulle bly op dieselfde dorp.
 

Ek het nog 'n hele klomp hekeldrome wat moet waar word: 
  • Ek sal graag by een van die skole in die omtrek vir die kindertjies wil leer hekel.  Dit sal seker eers kan realiseer wanneer ons kleine Anya self na 'n skooltjie toe gaan.
  • Ek wil ook nog 'n hekel en reis blog begin.
  • Ek wil ook nog 'n hekel sagteware program aanskaf.
  • En ek sal ook graag hekel lesse vir grootmense wil aanbied.
  • En eendag as ek groot is, wil ek sommer my eie wolwinkel hê!
  • Maar nou ja, als met tyd.  Ek dink die een groot ding wat mens leer as jy jou eie kinders kry is geduld.  Ma kom mos maar laaste op die lys.
Anneke se "Tools"

Monica:  Het jy 'n blog of Facebook page waar ons jou kan besoek?. 
Anneke: Ek wou baie graag hierdie jaar 'n blog begin het oor ons lewe hier in Paternoster en oor reis en my hekelwerk, maar het nog nie daarby uitgekom nie!  Op my facebook blad. "Anneke Wiese"  sit ek omtrent daagliks iets op wat ek gehekel het.  Daar is bv. 'n album vir matte wat ek gehekel het.  Ek sit ook "links" na ander mense se blogs met patrone by foto's in die albums.  Ek moet seker op 'n stadium 'n aparte blad oopmaak, want die hekelwerk verdwyn soms tussen my vakansie en koek en koffie foto's. 
Die blog met die mooi doily patroon mat is: http://www.creativejewishmom.com/2011/10/crocheted-doily-rug.html
Mondvol Padstal se facebook blad is: Mondvol Padstal & Koffiewinkel 

Mense kan my enige tyd  op my facebook blad inbox vir raad of skakels na die patrone wat ek gebruik asook vir die kontakbesonderhede van 50 Something Wolwinkel waar ek al my wol en ook die T-shirt balle koop.
Ek sit ook gereeld foto's van die nuwe kleure wat ingekom het op my Facebook blad in die album: "50 Something Wolwinkel."
Monica, baie baie dankie vir die uitnodiging.
En baie dankie vir jou fantastiese hekel blog.  Ons weet dit verg baie tyd en aandag.

Groete vanuit Paternoster
Anneke

Dit was nou heerlik om saam met Anneke te kuier. Sy borrel behoorlik oor van entoesiasme en haar liefde vir hekel kom duidelik deur. Sy is passievol oor haar werk en ek wens haar alle voorspoed en sukses toe en glo dat al haar hekeldrome in die toekoms beantwoord sal word!


3 comments:

  1. Hello
    Dit is Margaret hier en stel belang in die t shirt balle.
    Hoe kan ek dit by jou bestel. Ons s n paar in ons hekel klub wat
    Daar in belang stel. Ons klub is ook in die nuwe Stiches tydskrif hierdie maand.
    Haak en Steek brei klub. Sal waardeer as jy my kan kontak op my email adres.
    margaretp63@gmail.com

    ReplyDelete
  2. Ag help asb is spagetti "yarn" en t-shirt "yarn" dieselfde en waar kan ek van dit bekom ek is van Middelburg Mpumalanga en hier kry jy omtrent nooit enige iets nie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Janet, Dit is dieselfde ja. Jy kan dit aanlyn koop by Mezomode in Pretoria.
      Die webblad adres is: http://www.mezomode.co.za/category/121/yarns.html

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica