Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Waar word die hekelpen deurgesteek?

"Waar presies moet die hekelpen ingesteek word?" is 'n vraag wat ek al soveel keer moes beantwoord. Dit is 'n baie goeie vraag want wanneer mens al vir jare lank hekel is sommige dinge vanselfsprekend maar vir diegene wat nou eers leer hekel is dit iets wat baie keer nie aangespreek word nie en dit is belangrik om die hekelpen op die korrekte plek deur te steek. 

Op die foto links dui die swart kolletjies die plek aan waar elke steek lê. Daar is 2 lusse  aan die bokant van elke steek. Dit is in die vorm van 'n "V" met twee lusse, een aan die voorkant en een aan die agterkant.  Daar kan dus in die steek gewerk word wat beteken die pen steek onder deur die 2 lusse. Daar kan ook deur die agterste lus of deur die voorste lus gewerk word maar dit sal so aangedui word op 'n patroon. Werk dus altyd jou steek onder deur die 2 lusse. 


Hier dui die groen pennetjie die plek aan waar die hekelpen deurgesteek word. Wanneer 'n patroon dus soos volg lees. [1lb in elk van vlg 3 lb] of [1hlb in lb] ens. dan beteken dit daar word onder deur hierdie 2 lusse gewerk. Dit is die plek waar jy enige steek werk. 




Wanneer jy tussen twee steke moet werk word die pen tussen die bene of stam van steke deurgesteek
 





Daar word altyd na  'n spasie verwys wanneer daar in die vorige ry of rondte 'n kettingsteek of aantal kettingsteke gemaak is. 



Hier kan gesien word wat bedoel word met om die stam of been van 'n steek. Die groen pennetjie wys hoe die pen van agter na voor en dan weer na agter om die stam gesteek word. 



Hier word die pen van voor na agter en dan weer na voor om die stam of been van 'n langbeen gesteek.










Kyk na die donkerblou steke. Daar is 2 spasies waar 1 kettingsteek in die vorige ry gewerk is. Die twee regterkantste langbene is in die vorige langbene gemaak. Daar is ook twee reliefbene gemaak. Die been net na die spasie op linkerkant is van agter gewerk en lê meer terug. Die volgende reliefbeen is van voor gewerk en staan meer uit na vorentoe.  





Lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica