Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Gehekelde Strepe: Ouma Se Manier






Wat jy alles gaan leer in hierdie tutoriaal!


Hoe om hekelwerk te begin sonder 'n lang kettingsteek ry. Begin dadelik met 'n ry kortbene!

Hoe om die Ouma Blokkie patroon te hekel in lang rye in plaas van 'n vierkantige blokkie.

Die patroon word gewerk oor 'n veelvoud van 3 steke plus 1 ekstra steek.

Bo en onderste rye vertoon dieselfde
Vir hierdie tutoriaal gaan ons begin werk met 'n 25kb beginstrook-ry en ons gaan dit doen sonder om eers 'n lang kettingsteek strook te hekel.


Deur dadelik met 'n ry kortbene te begin gee dit die begin van jou werk meer elastisiteit en die bo en onderkant van jou werk vertoon presies dieselfde en voorkom ook terselftertyd dat werk skeeftrek. Hierdie tegniek is ook uitstekend om te gebruik as 'n basisry met die maak van kledingstukke.



Instruksies vir die 25kb beginstrook is dan soos volg:


Begin soos normaal deur 'n glipknoop te maak op hekelpen.

Maak 1ks, steek hekelpen deur 1e ks en trek draad deur, [2 lusse op pen] slaan draad om pen en trek deur slegs die 1e lus op pen. 


Die foto regs wys hoe die steek vertoon. Daar is nog steeds 2 lusse op die pen. 






Slaan die draad weer om pen en trek nou deur albei lusse. 



Dit voltooi die eerste kortbeen soos gesien kan word in die foto aan regterkant. 



In die volgende stap is dit baie belangrik om die hekelpen deur die korrekte lusse te steek. Let mooi op deur die foto te bestudeer. Die pyltjie wat van die hekelpen na die spasie wys is die plek waar die hekelpen deurgesteek moet word. Tilt jou werk en kyk na die onderkant, Jy sal merk daar is twee lussies wat vorm aan die onderkant. Die swart kolletjie op die voorste lus kan duidelik gesien word op die foto. Daar is nog 'n lus wat net agter hierdie voorste lus gesien kan word en word met die kort pyltjie aangedui. 



Steek die hekelpen in die spasie sodat die 2 lusse knus om die hekelpen gesien kan word. Slaan draad om pen en trek deur. 


Slaan draad om pen en trek deur die eerste lus. 

Slaan draad om pen en trek deur albei lusse. Dit voltooi die 2e kb.


Steek pen deur 2 lusse soos reeds bespreek, slaan draad om en trek deur,

Slaan draad om en werk deur 1 lus.

Slaan draad om en werk deur 2 lusse.

Dit voltooi die 3e kb.



Herhaal hierdie stappe totdat jy die verlangde aantal kortbene gewerk het. 


Op die foto regs kan gesien word hoe die twee lusse aan die onderkant 'n netjiese rand vorm. 

Indien jy sukkel met hierdie eerste kortbeen ry, begin  met 26ks, kb in 2e ks vanaf pen, werk nou nog 24 kb, 3ks en draai. Volg dan die patroon vanaf ry 2.

Basisry is dan soos volg:

Ry 1: Werk 'n 24kb beginstrook, 3ks draai

Ry 2: 1lb in 1e kb, slaan 2kb oor, werk 'n 3langbeen groep in vlg kb,[langbeengroep beteken 3lb in dieselfde st[afkorting=3lbgr]; * slaan vlg 2kb oor, 3lbgr in vlg kb,* herh vanaf * tot * tot 7 groepe voltooi is, slaan vlg 2kb oor en werk dan 2lb in laaste st, 3ks draai

Ry 3:  3lbgr in vlg spasie, [spasie tussen die 1e 2lb en  3lbgr]; werk nog 7 groepe in elke sp, [8gr in ry]; 1lb in bo-punt van 3ks, 3ks, draai

Ry 4: 1lb in vlg spasie, werk weer 7 3lbgr, 2lb in 3ks sp aan einde van ry, 3ks, draai

Indien jy wil kleure verander: Werk ry 4 tot by die laaste 2lb en voltooi die 1e lb, werk dan die 2e lb tot 2 lusse oor is op pen en trek dan die nuwe kleur deur, knoop die twee kleure dan aan die agterkant en maak dan 3ks en draai. Die los drade kan later met 'n wolnaald weggewerk word.

Herhaal rye 3 en 4 deurgaans en verander kleure volgens keuse. Hierdie is 'n baie lekker patroon wat maklik  is en ideaal vir  'n lekker knus  oor die skoot-kombers. 

Lekker hekel almal!



3 comments:

  1. Hallo Monica! Ek het jou blog vandag vir die eerste keer raakgesien en sal dit beslis begin volg. Ek doen nog nie lank hekelwerk nie en het baie te leer...

    ReplyDelete
  2. Beste Monica, wil jy nie 'n boek uitgee met al jou patrone en tutoriale in nie, ek dink dit sal 'n topverkoper wees. Dankie vir alles wat jy vir beginners soos ek beteken, ek waardeer dit opreg!

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica