Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel 'n 'funky' koffiebeker jassie!


©Monica Buys

 
Ons hekel 'n 'funky' kleurvolle koffiebeker jassie vandag. Nuut vars en oorspronklik. Daar is baie koffiebeker jassie patrone beskikbaar maar ek wou iets ontwerp wat anders is as die gewone en het toe hierdie ontwerp uitgedink  en ek hoop julle sal net so baie daarvan hou om dit te maak as wat dit vir my was om dit  saam te stel. 

Dit het meet en pas gekos om die ontwerp te laat werk maar ek dink my patroon is aanpasbaar genoeg om te gebruik vir enige grootte koffiebeker. 

 Ek hoop julle hou daarvan!

Ons gaan begin met die bodem.

Ek het Vinnis Colours Nikkim gebruik wat 100% katoen is en 'n 4mm hekelpen maar enige dubbeldraad sal werk.

Die bodem.


Die bodem word begin deur 'n sirkel te hekel wat plat moet wees aan die onderkant en dan knus om die beker vou.


So word die sirkel gehekel:

Begin met 4ks, gs om 'n ring te vorm. 

Ry 1: 1ks, 8hlb in ring,   gs in 1e hlb; [plaas nou 'n merker in hierdie laaste steek]


Oor die merker en die manier wat ek my merker plaas in elke rondte: 

Diegene van julle wat alreeds sirkels gehekel het sal weet dat daar gedurig 'n onooglike lasmerk wys waar daar elke keer in 'n rondte 'n glipsteek gemaak word en jy begin die nuwe ry met 2ks.  Wel, ek probeer maar altyd om die tegnieke van hekel te verbeter en die manier wat ek dit doen   is om die glipsteek te merk, slegs 1ks te maak en dan die glipsteek te ignoreer aan die einde van die rondte. Deur in die eerste volgende st te gs verbloem dit die lasplek waar die volgende ry begin is. 





Ry 2:  1ks,  werk nou 2hlb in dieselfde st en daarna ook 2hlb in elke hlb tot einde van ry. [altesaam 16hlb wat gewerk word]; haal merker uit en slaan die gs oor, gs nou in die 1e hlb en plaas die merker terug in die gs sodat jy presies weet watter steek dit is wat jy moet oorslaan.

Ry 3: 1ks, 2hlb in dieselfde st, 2hlb in elke hlb tot einde van ry [32hlb], verwyder merker, slaan gs oor, gs in 1 ehlb, plaas merker terug

Ry 4: 1ks, 2hlb in dieselfde st, * 1 hlb in elk van vlg 3hlb, 2hlb in vlg hlb, * herh vanaf * tot * tot einde van ry [dit beteken jy gaan in die vlg 3hlb net 1hlb werk maar na elke 3e hlb gaan jy in die 4e een 2hlb werk]; eindig deur weer die merker te verwyder, slaan gs oor, gs in 1e hlb

My beker se bodem het net 3 rye nodig gehad. Indien jou bodem nog groter is as ry 4  kan jy nog 'n ry of 2 ekstra hekel deur ry 4 te herhaal maar vermeerder met elke ry net die aantal steke wat tussen die vermeerderings lê. Dit beteken ry 5 sal lees 1hlb in elk van vlg 4hlb, 2hlb in vlg hlb en ry 6 sal lees 1hlb in elk van vlg 5hlb, 2hlb in vlg hlb. Verder doen jy alles presies dieselfde totdat die  sirkel dieselfde grootte is as  van die  onderkant van die beker.

Nou gaan ons ophou vermeerder sodat die jassie kan begin vou om die beker. So doen ons dit:

Vlg ry en elke ry hierna totdat hierdie  deel van die jassie voltooi is: 1ks, 1hlb in dieselfde st, 1 hlb in elke hlb tot einde van ry, gs in 1e kb..

Die merker word altyd op dieselfde manier verskuif soos voorheen wat beteken dat jou aantal steke vanaf hierdie ry dieselfde bly. Ek het gehekel tot by ry 3 en het dus 32hlb wat ek nou gaan herhaal totdat ek die verlange lengte bereik het.

Hekel totdat dit die onderste deel van die koffiebeker se oor bereik, heg af  en werk dan die rand soos volg:

Randjie:

Heg die volgende kleur in enige hlb, *  2ks, 2lb [langbene] in dieselfde st, slaan vlg 2hlb oor en gs in vlg hlb,* herhaal vanaf * tot * tot einde van rondte en gs terug waar begin is. Heg af.






Boonste deel van jassie:

Begin met 5ks, 1hlb in 3e ks vanaf pen, werk nog 2hlb, 2ks, draai

Vlg ry: 1hlb in 1e hlb, 1hlb in elk van vlg 2hlb,  2ks draai

Herhaal hierdie laaste ry totdat die bandjie lank genoeg sodat dit rondom die beker kan pas vanaf die oor se een kant tot by die ander kant van die oor. Maak 4ks, vou die bandjie in die rondte sodat dit 'n sirkel vorm en  gs nou in die teenoorstaande hoek van die begin van die bandjie, 1ks en werk nou 'n ry kb om hierdie boonste rand en wanneer jy by die 4ks kom werk 4kb bo oor en gs in die 1e kb. Heg af.

Heg vlg kleur aan die onderste rand en herhaal dieselfde randjie wat gebruik is vir die onderste deel maar in plaas van om in hlb te werk moet daar nou in die sykante van rye gewerk word. Sorg net dat die steke eweredig uitmekaar lê. Heg af.


Blommetjies:  Gebruik 'n 4 draad vir die blommetjie met 'n 3.25mm hekelpen. Vir hierdie tutoriaal is  Elle Premier 4 ply katoen in 3 verskillende kleure gebruik.


Begin met 6ks, gs om ring te vorm



Werk in ring soos volg: kb in ring, * 1ks, 2lb, 1ks, kb terug in ring, * herh vanaf * tot * nog 5 keer, gs in 1e kb. Heg af.



Werk nou alle los drade weg met 'n wolnaald.

Gebruik silwer ringetjies en haak die blommetjies vas aan hekelwerk soos op die fotos geillustreer word.





Hekel ook 'n kettingsteek band van sowat 100ks en ryg dit deur aan die boonste deel sodat dit stewig vasgetrek kan word om beker met 'n strikkie wat bokant die oor sit.
©Monica Buys

Jou beker se jassie is kant en klaar! 

Geniet dit :)
Groete en lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica