Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Kuiergas #7: Sonia Horn

'n Hartlike welkom aan Sonia Horn by wie ons vandag kuier!

1.   Vertel ons asseblief wie en van waar jy is Sonia?
 
Wat ‘n voorreg om ‘n gas op Hekel Idees te wees.  My naam is Sonia Horn, ek is ‘n tuisteskepper en die afgelope 7 jaar bly ek op die mooie Vredendal.  Spore het ek getrap op De Doorns, waar ek gebore is.  Rawsonville, waar ek grootgeword  en skoolgegaan het van Sub. A tot Matriek.  Gewerk op Worcester.  Getroud en gewerk by destydse “Volkskas” op Robertson.  Weens my man se werk terug na Worcester, asook Kuilsrivier en Vredendal.

Vanjaar is ek en my man Koos (so terloops – hy is die beste ontknoper en wol oproller), my beste vriend en maat, 29 jaar getroud.  Ons is die trotse ouers van 2 pragtige dogters.  Alida 23, is ‘n derde jaar verpleegstudent.  Marisa 21, werk by ‘n plaaslike rekenaarwinkel.


2.  Hoe lank hekel jy al?
Om groot te word in ‘n familie waar almal om jou brei en hekel is voorwaar ‘n goeie leerskool.  Ons is 2 meisiekinders en ons ma kon alles doen, brei, hekel, naaldwerk, koskook, blomme rangskik, alles wat jy met jou 2 hande kon doen, behalwe teken en musiek maak.  Sy het altyd vir ons gese, as jy nie iets probeer nie, gaan jy nie weet of jy dit kan doen nie en as dit die moeite werd is om dit te maak, doen dit goed en deeglik.  Ons tannies kon almal brei en hekel en as ons gekuier het was almal doenig met ‘n handwerk. 

Ons ouma het ons eerste breipenne, sulke kort dikketjies, vir ons gegee toe ons nog baie klein was.  Dus het ek eers leer brei en toe geleer hekel.  Vir my was dit dieselfde, net met ander penne,  ek was so 3 – 4 jaar oud.  Ons spot altyd dat ons kon brei en hekel voor ons behoorlik kon loop of praat en dat ons ma dit vir ons geleer het terwyl sy ons gevoer het.  So ek hekel al vir 47 jaar – wow, kan dit self nie glo nie.
  
3. Wie het jou geleer hekel?
 
My ma het  my en my suster geleer.  Ons het die “granny square” blokkie goed onder die knie gehad.  In ons huis is geglo dat ‘n kind moet werk vir ‘n sakgeldjie.  Ons het ‘n half sent gekry vir ‘n blokkie.  Julle moet onthou dit was in die vroee 1960’s toe daar nog half sente was en ‘n pakkie aartappelskyfies en ‘n botteltjie koeldrank amper niks gekos het nie.  Maar moenie dink ons kon gou ‘n blokkie afgejaag het nie – o nee.  My ma het ‘n gidsblokkie gehad en as jou blokkie nie pas nie, sal jy dit uittrek en netjies oor hekel.  Geen wol is weggegooi nie.  Daar is ‘n hele paar komberse se blokkies gehekel.

Vandag trek ek baie maklik ‘n projek uit wat nie reg werk nie en geen knoeiery nie want al weet ‘n ander nie daarvan nie, ek weet....
 
4. Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel? 


Enige iets, wol, hekelgare of tou.

Soos die gier my pak hekel ek winter en somer met wol.  Maar omdat Vredendal so warm kan word in die somer hou ek daarvan om doilies of vatlappe met hekelgare te hekel.

In my werksak is daar altyd ‘n pakkie “wet-wipes” en ‘n houertjie met babapoeier wat wondere kan verrig in ons warm omgewing.



5. Watter items is jou gunsteling artikels om te hekel?

Komberse.  Enige soort.

6. Hoeveel tyd kry jy om te hekel?

My man gaan soggens  7 uur uit die huis en dan is ek vir die res van die dag alleen tot hy vanmiddag na 17hoo by die huis kom.  Na ek klaar is met die skottelgoed, wasgoed en huis het ek die heeldag vir myself.  Met ‘n lekker koppie koffie sit ek graag voor die televisie en hekel en so word komberse gebore.


Ons het groot geword net toe die televisie uitgekom het.  Voordat ons kon televisie kyk moes al die skottelgoed skoon wees en ons huiswerk klaar.  Dan kon ons gaan sit en televisie kyk het, maar met iets in die hand.  So is die gewoonte aangekweek om altyd met iets besig te wees.


Ons vriende ken my ook dat ek altyd besig is met iets in die hand.  Gewoonlik is ek besig met so 3 artikels op ‘n slag, om die aandag afleibaarheid hok te slaan.  Een is altyd iets wat ek vinnig kan gryp as ek saam met my man rondry oppad na sy roete besoeke of as ons by vriende gaan kuier. Die ander 2 is gewoonlik groter items wat ek maar liefs binneshuis moet doen.

En ek kan met trots se dat ek nerens ‘n UFO het nie, maar net die 3 WIP. 

7. Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?

Die media is ‘n groot oorsaak en dit is wonderlik om te sien hoe mense weer begin hekel en brei. Mense wat hulle neuse opgetrek het sit nou self met ‘n hekelding in die hand.  Dit is verblydend om te sien hoeveel jong mense belangstel om te hekel. 


In die winkels is die mooiste gehekelde klere en dit spoor ook mense aan om vir hulle self iets aanmekaar te slaan.

En as jy graag wil hekel en daar is niemand om jou te leer nie, kan jy vandag met behulp van die internet en tydskrifte wat daarin spesialiseer leer hekel en brei. Waar ‘n wil is is ‘n weg.

Dan moet ons nie die helende eienskap van hekel onderskat nie.  Enige probleem en sorge word vergete as jy jouself besig hou met hekelwerk.  Ledigheid is nie verniet die duiwel se oorkussing nie. 

8. Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?

Dit hang af van die artikel wat ek maak.  Soms hou ek van net een kleur en soms gryp ek elke kleur wat ek in die hande kan kry. 

9. Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?

Hekel is beslis my stokperdie en as ek so gelukkig is om iets te maak wat ‘n ander persoon wil koop, dan verkoop ek dit graag.  Ek hekel wel vatlappe en doilies vir die uitsluitlike doel om dit te verkoop.  Dan gee ek ook graag van die goed wat ek hekel weg vir my vriendinne...  of mense wat my hart raak. Ek glo daarin om nie net te verkoop nie, maar ook om te deel.

10. Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel? Vertel ons meer.

1. Drie jaar terug het ‘n paar vriendinne bymekaar gekom en ons kuier waar moontlik elke Dinsdag  bymekaar, vanaf 10h00 tot laat,  met ons hekel- en breiwerk.  Ons noem onsself die “Vonkel Vroue”, maar nie “7de Laan” se matrone se Vonkel Vroue nie.  By ons groepie mag daar glad nie van ander mense gepraat of geskinder word nie, ons mag net hekel en brei.  Ons leer mekaar wel ook ander handwerkies soos om met krale te werk, Mosaiek, boksies ens. ens.  Mens kan nie glo hoe heerlik dit is om so saam te kuier nie en die wonderlike band wat daar tussen ons gevorm het nie. Elke week kuier ons by ‘n ander vriendin se huis.  Dan kuier ons ook gereeld by die kwekery.  Ons gaan eet ‘n vinnige ontbyt by die plaaslike Spur of Wimpy en dit met ons brei- en hekelwerk.  Dit is ongelooflik watter reaksie ons kry van mense wat kom navraag doen oor wat ons maak.

Ons is besig met ‘n “Memory Blanket” waar ons vir mekaar blokkies gee, of dit nou lap, gehekel of gebrei is.  En dit is te wonderlik om te sien hoe kreatief elkeen is.

2.  Julie die jaar het ‘n vriendin ‘n gesels groepie hier op Vredendal begin en ons kom elke Woensdag oggend by ‘n plaaslike koffiewinkel  “Manuela Coffee Shop” bymekaar vir ‘n uur.  Die uur is nou stadig besig om ‘n lang uur te word want ons kuier so heerlik.   Die groepie het ook ‘n Facebook blad waar  ek een van die admin is. Ons Kan! Hekel en Brei – Vredendal.  Kom kyk gerus.

3.  Dan leer ek ook graag mense hekel.   Al wat hulle moet saambring is 2 bolle “double knit” wol en ‘n no 4 hekelpen.  In die privaatheid van my huis en met ‘n lekker koppie tee of koffie.  Ek verkies om hulle te laat begin met ‘n “granny square” blokkie en dit is so lekker om te sien hoe die stywe vingers ontspan en hulle rustig raak sodra hulle sien die blokkie begin vorm aanneem.  En hoe trots hulle is op die kombersies wat hulle maak.

Met trots kan ek se dat beide my meisiekinders kan hekel en nie skaam is om voor hulle vriende te hekel nie.



‘n Kamera is ‘n wonderlike ding en ek is so spyt dat ek nie al jare gelede ‘n behoorlike ene gehad het sodat ek alles wat ek al gemaak het kon afneem nie.  Op Facebook het ek ‘n groep begin met die naam “My Maaksels”  waar ek deesdae al die goed wat ek gemaak het, opsit.  Dit is ongelukkig ‘n geslote groep maar ek “add” almal wat belangstel om daar te kom inloer.   Dit is vir my lekker om met ander te deel.  Wanneer die goed wat ek maak  iemand anders kan inspireer is dit wonderlik..  en ek gee ook glad nie om as ander mense goed wil maak wat ek gemaak het nie.  Dit is eintlik ‘n groot kompliment! 

Monica: Baie dankie Sonia! Ons het heerlik by jou gekuier  en dit is voorwaar n fees vir die oë om te sien wat jy alles met 'n bolletjie wol en hekelpen kan doen! Ek dink almal sal saamstem dat Sonia voorwaar baie vlytig is met die hekelpen en pragtige hekelwerk doen!

Tot volgende keer dan almal!

Hekel groete!
 

3 comments:

  1. Hierdie is 'n wonderlike vrou! Dis met 'n traan in my oog (van dankbaarheid) dat ek haar kan ken. Sy met my ook geleer hekel - wat 'n wonderlike mens met ure se geduld. Dankie, Sonia, jy is 'n voorbeeld vir baie. Ons is so lief vir jou!

    ReplyDelete
  2. Ek het hierdie beriggie vreeslik geniet, en ek is stomgeslaan deur Sonja se gawes, talent en ywer! Hou so aan xx

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica