Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekelsteke: Krokodilsteek


Leer hoe die krokodil steek gehekel word.



Die krokodilsteek is 'n pragtige steek en beslis nie 'n lammetjie nie. Dit is propvol tekstuur en wanneer dit met 'n veelkleurige draad gehekel word vertoon dit tog te pragtig. Dit beteken nou nie jy kan dit nie met 'n eenkleurige draad ook doen nie. Dit lyk net so mooi. Hierdie steek is egter 'n moeiliker steek om baas te raak en beginners mag dalk net effens sukkel maar moet asseblief nie moed opgee nie want wanneer jy hierdie steek onder die knie het gaan daar weer ander hekel moontlikhede oop.  Maar kom ek wys julle  hoe om  die ou krokkenoster stekie te hekel.

Spesiale instruksie: My eie afkorting vir die krokodil steek is kgst wat beteken krokodil groepsteek. Die kgst bestaan uit 5lb,1ks, en weer 5lb wat om die stamme van 2lb gewerk word. Die eerste 5lb word om die stam van bo na onder gewerk waarna 'n kettingsteek gemaak word en dan word die volgende 5 langbene om die stam van die volgende langbeen gewerk van onder na bo.

Begin met 'n aantal kettingsteke wat deelbaar is in 6 plus 4 steke. Vir hierdie tutoriaal gebruik ons 22 kettingsteke.


Ry 1: 1lb in 4e ks vanaf pen, 1ks, * slaan 2ks oor en werk 2lb in vlg ks, 1ks, * herh van * tot * einde van ry en eindig weer met 2lb in die laaste ks, draai. [Daar is 7 groepies van 2lb elk in hierdie ry]

Hierdie ry vorm die fondasie ry sodat die krokodilsteke in die volgende ry gevorm kan word om hierdie groepies. Daar word dus afgewissel deur 'n fondasie ry, 'n krokodil steek ry, daaarna weer 'n fondasie ry en dan weereens 'n krokodilsteek ry ens. 








Ry 2: 3ks, draai die werk sodat die fondasie ry regaf hang en die stam van die eerste langbeen horisontaal lê. Werk nou 4lb om die stam. Werk van die boonste gedeelte van langbeen na onder. Die onderste gedeelte sal wees waar jy jou beginknoop se kort draadjie kan sien.


Maak dan 1ks en draai die werk terug sodat die ry weer horisontaal lê.




Nou gaan ons die volgende langbene werk van onder na bo en ons gaan dit doen bo oor die langbeen wat aan die linkerkant lê. 


Dit is 'n ongemaklike posisie so draai die werk na links sodat die fondasie ry weer na onder hang en die langbeen waaroor gewerk gaan word horisontaal lê. 


Werk 5lb en 1ks.




Draai die strook weer terug in posisie sodat die ry gesien kan word. Die eerste krokodilsteek kan nou duidelik gesien word.

Die volgende 2lb word oorgeslaan en die volgende 5lb word nou om die stam van die volgende lb gewerk.  
Die hekelpen word altyd na die middel van die 2lb gesteek. Met ander woorde wanneer die regterkantste langbeen gewerk word steek van regs na links. Wanneer die linkerkantste langbeen gewerk word steek van links na regs.

In die begin wanneer jy onseker is in watter rigting om te werk lê jou strook plat neer voordat die 5lb gewerk word.

In die foto links kan gesien word dat die eerste 5lb nou voltooi is. Daar is van regs na links deurgesteek. Voordat die 5lb oor die linkerkantste stam van lb gewerk word moet daar altyd eers 1ks gemaak word en daarna word die steke weer van onder na bo om die stam van die lb aan die linkerkant gewerk. Merk die rigting van die hekelpen is nou van links na regs. 



Dit help om die fondasiery te vou en dan te laat afhang ondertoe sodat die balkie of die stam van die langbeen duidelik sigbaar is. Dit vergemaklik ook die werk van die steke. Swaai en draai dus gedurig die werk sodat die steke maklik gewerk kan word.



Herhaal die stappe tot die einde van die ry. Onthou om elke keer 2lb oor te slaan voor die volgende kgst gewerk word. 










Werk die  laaste kgst om die laaste 2lb, lê die strook plat neer om seker te maak al die skubbe is korrek gewerk en draai werk dan om.

Dit is raadsaam om elke keer die werk plat neer te lê sodat presies gesien kan word hoe die steke gevorm word. 




Werk nou 1ks en glipsteek binne in die middelste spasie van die vorige ry se krokodil steek.  


Ry 3: Hierdie is weer 'n fondasie ry wat beteken ons moet nou die voorbereiding doen vir die 3e ry wat weer 'n ry met kgst/e sal wees. Om dit te doen werk ons 3ks en 1lb in dieselfde spasie waar ons 'n glipsteek gemaak het en werk dan 1ks, 


Daar word nou 2lb tussen die volgende 2lb gewerk maar merk dat daar 'n dubbellaag lê. Maak seker jy werk die langbene oor albei die lae sodat dit die 2 lae saambind. 



Werk weer 1ks, 2lb in spasie van volgende kgst, 1ks, 2lb tussen vlg 2lb, 1ks, 2lb in vlg kgst, 1ks, 2lb tussen vlg 2lb,1ks en 2lb in die laaste kgst, draai 




Ry 4: 1ks, werk nou die volgende 5lb om die stam van vlg lb,  


wanneer jy onder kom maak weer 1ks.

Draai die werk sodat die ry weer plat lê om duidelikheid te kry van hoe die rigting van die steke gewerk word.










Hier kan gesien word hoe die hekelpen nou weer na die teenoorgestelde kant van werk deurgesteek word om die tweede groepie langbene te voltooi. 





Eerste skub van ry 2 is voltooi. Werk 1ks, slaan weer die volgende 2lb oor en werk die volgende kgst dan om die volgende 2lb


Voltooi die res van die kgst/e en onthou dat daar elke keer 1ks na elke 5lb gemaak word.Eindig met 1ks en 'n gs tussen die laaste 2lb, draai.









Merk dat daar in die eerste ry 4kgst/e is en in die derde ry is slegs 3kgst/e. Die skubbe lê nie reg onder mekaar nie. 




Ry 5: Nou moet daar weer 'n fondasie gewerk word. Maak 3ks en werk dan 1lb tussen die eerste 2lb, 1ks, 2lb in die sp van kgst, 1ks, 2lb tussen vlg 2lb, 1ks, 2lb in die sp van kgst, 1ks, 2lb tussen vlg 2lb, 1ks, 2lb in die sp van vlg kgst, 1ks, en eindig die ry met 2lb tussen die laaste 2lb, draai





Ry 6: 3ks, werk 'n kgst oor die heel eerste 2lb, [onthou dat hierdie ry begin met 5lb maar om te begin moet ons 3ks werk wat die eerste lb vervang. Dit beteken hierdie eerste groep word begin met 3ks en 4lb wat saam 5lb gee.] Voltooi die res van die kgst soos reeds verduidelik in ry 2 en eindig met 'n ks en glipsteek  terug in die spasie van die kgst wat so pas voltooi is. 








Ry 7: Herhaal ry 3 [fondasie ry]
Ry 8: Herhaal ry 4 [kgst ry]
Ry 9: Herhaal ry 5 [fondasie ry]
Ry 10: Herhaal ry 6 [kgst ry]




Herhaal die boonste 4 rye vir die patroon. Effekleurig of veelkleurig, albei ewe mooi. 


4 comments:

  1. Hi Monica.

    Ek het nou so lekker gehekel aan die krokodilsteek,en het nou net besluit ek gaan blokke maak en 'n kussing maak vir my dogter in Denmark,dankie vir die patroon en die hulp.

    ReplyDelete
  2. Jammer het vergeet om my naam in te sit.

    Ansie

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Ansie, Jy het seker al 'n hele ent gevorder met jou kussing. Dankie vir die boodskappie en lekker hekel!

      Delete
  3. Rina,
    Baie dankie vir al jou hulp en moeite. Ek wil graag die patroon probeer.
    Groete

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica