Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Filet Hekelwerk: Leer hoe die tegniek werk.




Filet hekelwerk bestaan hoofsaaklik uit  langbene en kettingsteke. Patrone word verkry deur sommige blokkies oop te los en ander weer in te vul met langbene. Patrone word gelees deur na die oop en gevulde blokkies te kyk wat duidelik aandui wat gedoen moet word.

Om 'n blokkie op te breek kan ons soos volg daarna kyk. 'n Blokkie het 4 sye. Die 2 sykante wat vertikaal lê stel langbene voor. Die horisontale strepe stel steke voor. Dit kan kettingsteke of langbene wees. Hoe weet ons wanneer om 'n kettingsteek te werk en wanneer 'n langbeen. Dit is maklik. Die oop blokkies kry 2 kettingsteke wat 'n spasie gaan los in die werk. Die ingekleurde blokkies gaan gevul word deur 2 langbene te werk. Onthou elke sykant stel 'n langbeen voor so daar is reeds 2 langbene aan elke kant van 'n blokkie en wanneer jy 'n blokkie moet vul kom daar nog 2 ekstra langbene binne die blokkie wat beteken daar is eintlik 4 langbene wat reg langsmekaar lê.

Hoe om uit te werk met hoeveel kettingsteke daar begin word:













Kyk na die illustrasie aan linkerkant. Merk dat die heel eerste langbeen in die 8e kettingsteek vanaf pen gewerk word om die eerste oop blokkie te vorm.








Kom ons kyk na die blokkies diagram aan die linkerkant. Daar is 5 blokkies in 'n ry na beide kante toe. Om die aantal kettingsteke te bereken doen ons die som soos bo verduidelik. 

5 [blokkies] x 3 [herhaling van steke] = 15 + 5 steke [3 vir die vervanging van eerste langbeen en 2 vir die 2 kettingsteke wat 'n oop blokkie aandui.  Dus: 15 x 3 = 15 + 5 =20 kettingsteke.

Belangrik om te onthou! Indien die patroon se heel eerste blokkie gevul moet word gaan jy nie begin deur in die 8e ks vanaf pen 'n langbeen te werk nie. Jy gaan in die 4e kettingsteek jou 1e langbeen maak, daarna 1lb in elk van die volgende 2ks en 'n langbeen in die volgende kettingsteek om die blokkie te voltooi.




Goed kom ons hekel 'n monster lappie deur na die diagram wat met rooi blokkies gevul is te kyk.



Ry 1: Begin met 20ks, 1lb in 8e ks vanaf pen, 2ks, slaan 2ks oor en werk 1lb in vlg ks,[2 oop blokkies is voltooi]

Die vlg blokkie is ingekleur en moet gevul word dus werk ons 2lb in die vlg 2ks en nog 1lb om die blokkie te voltooi. Daar bly nou 2 oop blokkies oor. Werk 2ks, slaan 2ks oor en werk 'n lb in die vlg ks. Werk weer 2ks, slaan 2ks oor en werk 'n langbeen in die laaste ks en draai.



Ry 2:  Die eerste blokkie is oop dus maak ons 3ks wat die eerste lb vervang plus nog 2ks wat mos gebruik word by enige oop blokkie, dus begin ons die ry met 5ks, slaan 2ks oor en werk 1lb in die vlg lb. Die vlg blokkie is ingekleur en moet gevul word met 2lb. Werk nou die 2 langbene binne die oop blokkie se spasie en werk weer 1lb in die vlg lb, 2ks, slaan nou die vlg 2lb oor en werk 1lb in die vlg lb sodat daar weer 'n oop blokkie is. Werk nou 2lb in die vlg spasie, 1lb in vlg lb, 2ks, slaan 2ks oor en werk 'n lb in die 3e ks, draai

Die tegniek is glad nie ingewikkeld nie. Die enigste waarna opgelet moet word is wanneer moet 'n blokkie gevul word en wanneer word dit oop gelos. Dit is slegs met die eerste ry wat alle steke in die kettingsteek strook gewerk word. Daarna word elke blokkie se begin en einde met 'n langbeen in die spesifieke langbeen gewerk en die langbene binne 'n blokkie word binne in die spasie van die blokkie gewerk.




Voltooi die oefening deur na die diagram te kyk. Onthou aan die einde van 'n ry draai ons en wanneer die eerste blokkie 'n oop blokkie is begin ons met 5ks. Wanneer die eerste blokkie 'n ingekleurde blokkie is begin ons met 3ks om slegs die eerste lb te vervang.  Kry grafiek of blokkies papier en 'n potlood en begin blokkies inkleur. Ontwerp vir jou prentjies of woorde en speel met verskillende idees. Filet hekelwerk is lekker  maklik om te doen en jy kan die mooiste patrone sommer self ontwerp.

Lekker hekel almal! 

2 comments:

  1. Ek het altyd gedink dis ingewikkeld, nou sien ek dis meer konsentreer en jou basis regkry. Baie dankie! Nicci

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jy is doodreg Nicci! Dit is meer kopwerk as moeilike hekelwerk inderdaad!

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica