Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Gratis Patroon en Tutoriaal: Blommesirkels Motief


Hierdie motief is een wat ek 'n jaar of wat gelede ontwerp het. Ek het besluit om dit te deel  met al die lesers van Hekel Idees na  verskeie versoeke ontvang is oor die ontwerp en patroon daarvan. Die motief is nie een van daardie vinnige motiewe nie en neem ook langer om te voltooi omdat die vier blomme-sirkels apart gehekel word waarna dit aanmekaar vasgewerk word. Daarna word die rand gehekel wat dan alles bymekaar bring tot een motief.


Materiaal gebruik: Vinnis Colours Nikkim Dubbeldraad en 4 mm hekelpen


Grootte van motief: 14 x 14cm

Kleur A: Begin met 6ks en gs om ring te vorm

Ry 1:  Werk in ring die vlg: 2ks, 1lb, * 2ks, 2lb saam afgewerk; * herh van * tot * nog 6 keer [8 blare]; gs in bo-punt van eerste blaar. Heg af  [Instruksies vir die maak van 2 saamafgewerkte lb hier]

Ry 2: Kleur B: Heg kleur in enige 2ks sp, [2ks, 1hlb, 1ks, 2hlb in dieselfde sp]; werk in elk van die vlg sewe 2ks sp soos volg: [2hlb, 1ks, 2hlb]; gs in 2e ks en gs dan in die vlg 1ks sp. Heg af.



Ry 3: Heg Kleur C in dieselfde 1ks sp, 1hlb in dieselfde sp, 1hlb in elk van vlg 3 hlb, draai, 1ks

Ry 4: werk 4hlb, draai, 1ks

Ry 5: werk 4hlb. Heg af. 

Hekel 4 motiewe en werk rye 3,4 en 5 ook in die 4e motief aan die teenoorgestelde kant soos op die foto gesien kan word.
















Die foto bo wys die plasing van die motiewe. Maak seker dat alle motiewe in die regte posisie is en ook dat elkeen se voor en verkeerde kant korrek is voordat dit  vasgewerk word. Ryg 'n wolnaald met dubbeldraad en werk netjies aanmekaar vas.  

Nadat al 4 motiewe vasgewerk is kan die rand nou gehekel word. 


Rand:

Heg kleur van keuse in hlb soos op foto aangedui.





Nadat kleur geheg is lees die ry soos volg:  2ks, 1kb, 1hlb, 2lb, 4dslb en werk 5dslb in die hoekspasie. 
Herhaal op hierdie wyse tot by die einde van rondte en gs terug in 2e ks. Hieronder is 'n duidelike groooot foto wat wys hoe die steke gewerk moet word. Steke is met gekleurde kolletjies gemerk. Kortbene in blou, halwe langbene in groen, langbene in meroen en dubbelslag langbene in wit. Dit maak die lees van die steke soveel makliker en die patroon kan gevolg word met gemak.

[Klik op die foto indien jy dit nog groter wil sien.]

Lekker hekel!

1 comment:

  1. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica