Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Stap vir stap: Monica se 'Snerpie'

Winter is besig  om sy lang vingertjies stadig maar seker  in te wriemel oral waar hy 'n oop gaatjie kan vind. Hier is ek met my nuwe Snerpie! 

Hou jou nek en bors warm en snoesig! 

Ek noem dit 'n snerpie omdat dit iets is tussen 'n snood en serp. Nie heeltemal 'n snood nie en ook nie heeltemal 'n serp nie.  Ek het Pure Gold se Chunky gebruik en dit is heerlik sag en warm om my nek en hou ook sommer my bors lekker warm. Nadat ek my eerste snerpie gehekel het en die patroon neergeskryf het was ek so in my noppies dat ek sommer nog een begin het! 


Ek het vir die tweede een Chunky Knitting 'Loom Easy' gebruik en Timber vir die binneste blom patroon. Tot my verbasing het die blokke  baie groter gehekel met hierdie spesifieke wol alhoewel ek dieselfde dikte hekelpen, 'n nommer 6 gebruik het. Ek is nog besig met die tweede een en sal die foto oplaai op Hekel Idees se facebook bladsy sodra dit klaar is. Dit sal natuurlik 'n groter snerpie wees omdat die blokke groter is, maar dit kan dalk tog ook lekker wees as dit effens groter om die skouers pas. [Dit word dalk nog omskep in iets heeltemal anders, want ek werk baie op ingewing van die oomblik!] 


Blokkie met Pure Gold Chunky = 13 x 13 cm
Blokkie met Chunky Knitting Loom Easy en Timber = 16 x 16cm


Ek het stap vir stap aanwysings gedoen vir die van julle wat ook so 'n snerpie wil hekel. 


Materiaal gebruik:

1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Titanium]
1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Silver]
1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Ruby Red]
6.00 mm Hekelpen

Afkortings:


beg = begin; ks = kettingsteek/e; hlb = halwe langbeen; herh = herhaal; gs = glipsteek; rdte = rondte
sp = spasie; oorbl = oorblywende; vlg = volgende; verm = vermeerder; st = steek; hoeksp = hoekspasie, gr = groep; hoekgroep = hoekgr; vlg = volgende; sdop = slaan draad om pen


Eerste Motief:

Begin met Ruby Red en werk 6ks, gs om ring te vorm.

Ry 1: [2ks, 2lb,2ks, gs in ring]; herh nog 5 keer. Heg af [6blare]

Ry 2: Heg die Silver in laaste gs en werk 3ks, * gs nou weer in die vlg gs wat tussen die vlg 2 blare gemaak is, 3ks, * herh vanaf * tot * totdat daar vyf 3ks sp gemaak is; 3ks, kb in 1e 3ks sp. Druk die blaartjies van die blom na vore sodat die 3ks sp aan die agterkant van die blaartjies lê





Ry 3: Werk in dieselfde 3ks sp soos volg: 1hlb, 3lb, 1hlb, volg aanwysings tussen hakies en werk in elk van die vlg 5 3ks spasies soos volg: [1kb, 1hlb, 3lb, 1hlb]; gs in 1e hlb. Heg af.

Ry 4: Heg Titanium in dieselfde gs, 6ks, * kb in 2e lb, 3ks, lb in vlg kb, 3ks, * herh tot einde van rdte en gs in 3e ks

Ry 5: gs in 3ks sp, 6ks, kb in vlg sp, * 5ks, kb in vlg sp, * herh vanaf * tot * tot einde van ry en gs in 1e ks [daar moet 12 ks spasies wees]





Ry 6: gs in vlg sp, werk nou in dieselfde sp die vlg: [3ks, 2lb, 2ks, 3lb]; * 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks; in vlg sp werk nou 'n hoekgr soos volg: [3lb, 2ks, 3lb] *; herhaal vanaf * tot * einde van ry




 Tweede, Derde en Vierde Motief:

Volg instruksies van eerste motief vanaf Ry 1 tot Ry 5


Ry 6: gs in vlg sp, werk in dieselfde sp soos volg: 3ks, 2lb, 1ks, gs in ooreenstemmende hoek van eerste motief, 1ks, werk nou 3lb terug in hoekspasie van tweede motief, *1ks, kb in vlg sp van eerste motief, 1ks, kb terug in vlg sp van tweede motief, * herhaal van * tot * nog 1 keer, 1ks, kb in vlg sp van eerste motief, 1ks, 3lb in vlg hoekspasie van tweede motief, 1ks, gs in hoeksp van eerste motief, 1ks, 3lb in hoeksp van tweede motief, ** 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks, hoekgr in vlg sp, ** herh vanaf ** tot ** nog 1 keer, 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks, gs in bo-punt van 3e ks. Heg af.

Hoe om 2lb saam te werk:

Sdop en druk deur vlg lb, sdop en trek deur steek, sdop en werk deur 2 lusse, sdop, druk deur vlg lb, sdop en trek deur steek, sdop en werk deur 2 lusse, sdop, werk deur oorblywende 3 lusse. Dit voltooi die saam afgewerkte 2lb.

Onderste Rand:

Heg draad tussen die sp van enige twee motiewe, 5ks, * kb in 2e lb van 'n hoekgroep, [3ks, kb in vlg sp] herhaal nog 3 keer, 3ks, kb in sp tussen vlg twee motiewe, 3ks, * herh vanaf * tot * tot einde van rondte en gs in 2e ks.
Boonste Rand:

Verminder na die nek toe soos volg:

Ry 1: Heg draad tussen sp van enige twee motiewe; 3ks, 2lb in vlg sp, 1lb in elk van vlg 3lb, 2lb in elk van vlg 3sp, 1lb in elk van vlg 3lb, 2lb in vlg sp, 1lb in sp tussen vlg 2 motiewe. Herhaal op hierdie wyse tot einde van rondte en gs in 3e ks

Ry 2: 3ks, 1lb in vlg lb, werk vlg 2lb saam, *1lb in vlg lb, werk vlg 2lb saam, * herh vanaf * tot * tot einde van rondte, gs in 3e ks

Ry 3: Herhaal ry 2

Opmaak van Snerpie

Werk nou 2 rye hlb en heg af.

Gebruik 'n wolnaald en weef alle los drade weg.  Plaas om nek en hals en verlustig jou in die warmte! Lekker! :)






Lekker hekel en warm bly!







   

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica