Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Vakansie, Tydskrif en Hekelgoeters

Hartlike goeie more almal,


Ek het 'n wonderlike geleentheid gehad om vir so paar daggies heerlik te gaan ontspan in Kommetjie.  Vir die van julle wat nie weet waar dit is nie gaan kyk hier. Julle kan hier ook pragtige fotos sien van hoe dit daar lyk en hier kan julle gaan lees wat alles te siene en te doene is.  Dit is 'n pragtige plekkie met 'n wonderlike atmosfeer en 'n vriendelike gemeenskap.   







Die dag toe ek hierdie pad gestap het was die reenboog reg agter die vuurtoring. Ek kon nie vir 'n beter agtergrond gevra het nie. 








Die uitsig vanaf die huis waar ek oorgebly het. Dit was heerlik om na die branders te kyk en elke aand met die gedruis daarvan aan die slaap te raak. 











Die kamele by Imhoff Farm was prentjie mooi. Ek het nou wel nie op een se rug gery nie maar het wel een se kop gestreel en met hom gesels. Lyk dit nie ook vir julle of hulle altyd glimlag nie? Hulle is te pragtig!











Dit was ook my eerste besoek aan Kirstenbosch tuine. Die mooiste plantegroei kan in  hierdie tuin gesien word.  

Papagayo in Kalkbaai het die mooiste klere. Kleurvol en so reg in my kraal! 

Daar is ook vele ander wonderlike winkels maar ek was so besig om rond te kyk en my te vergaap aan al die mooi dinge dat ek skoon vergeet het om fotos van alles te neem. 

Daar was nie veel tyd vir hekel nie want ons het ver ente gestap, koffie gedrink by verskeie plekkies en rondgery en gekuier by allerhande interessante plekkies. 

Ek het wel in die aande so bietjie kans gekry om te hekel aan hierdie serp en het dit eers  klaargehekel toe ek hier by die huis aankom.

Tasse was nog nie eens behoorlik uitgepak nie toe gryp ek die serp en besluit om dit eers gou klaar te maak.  

Dit is 100% wol en gehekel met 5mm hekelpen. Die steek wat ek gebruik het is 'Broomstick'. Dieselfde patroon wat ek in my vorige artikel vir julle gewys het. Ek het 30 steke gebruik en dit 'n 'twist' gegee voordat ek die twee kante aanmekaar vasgewerk het. Vertoon baie mooi en is heerlik warm. 





En ek moet ook darem so bietjie wys dat van my hekelpatrone in die nuutste uitgawe van die Kuier tydskrif is.   

Dankie Raylentia en Kuiertydskrif vir die blootstelling van my werk! Dit is vir my 'n groot voorreg om van my patrone te deel met die Afrikaanse gemeenskap. :) 










Die 7e Junie het die uwe ook verjaar en is ek weereens heerlik bederf met 'n pragtige bos rose, 'n bottel Chocoholic en heerlike Nougat. 


Terwyl ek vanoggend probeer orde skep hier by my het ek ook sommer 'n paar fotos geneem van projekte waarmee ek besig is. 



Ek het 'n paar van hierdie geborduurde skinkbord lappies wat al jare in my kas lê. Dit is lappies wat my skoonma se moeder nog geborduur het. Die een lappie se  randte is ook met die fynste draad omgehekel. Ek het dit gou vanoggend omskep in kussing oortreksel en dink dit lyk pragtig tussen die gehekelde werk op my bank. 

Dit is ook 'n manier om die pragtige erfstukke wat in die kas lê waar niemand dit sien nie te gebruik en te waardeer. 

Dalk het jy ook so paar lappies wat omgetower kan word en nou weet jy wat om daarmee te doen. :)









Hierdie is ook nog 'n ou Granny bersie wat besig is om te groei. Ek sal dit wys wanneer dit klaar is maar daar moet nog baie ure se hekel in hom ingaan. 










Hier is so paar fotos van my gehekelde juwele wat ek  graag dra.



Ek hou van die sagtheid van die gehekelde armbande. Hulle dra soos 'n droom. 

Hier is so paar idees wat julle kan inspireer om ook julle eie gehekelde juwele te maak. 

Versier dit met kant, knopies en dies meer.  


Satynroos, knope, gehekelde sirkels en 'n paar krale geryg aan 'n organza lint.


Oorbelle is klein sirkeltjies met fyn kraaltjies ingevoed in die laaste ry.  



Hierdie armband was die binnekant van 'n klein hout borduurraam. Ek het met navy blou katoendraad 'n reguit strook gehekel en rondom die raam getrek. Die rooi koord het ek toe rondom gedraai en alles is vasgewerk met 'n naald en gare. 

Rooi oorbelle met katoen en glas krale.  


Verskeidenheid van oorbelle. Baie maklike ontwerpe gehekel met fyn fyn katoen.  


Armband detail van naby gesien. Verskillende knopies is baie treffend. 


Knoopsgate gehekel aan die een kant van armband vir maklik oop en toemaak.












En hiermee gaan ek eers voldoen en groet. Ek het baie werk wat gedoen moet word hier by die huis voordat ek terugkeer werk toe volgende week. Daar is ook baie van julle wat my gekontak het terwyl ek weg was en ek het ure se eposse wat ek nog moet beantwoord. Dankie vir julle geduld. 

Wonderlike week vir julle almal. Dit is baie koud hier by ons in die Kaap met die sneeu wat geval het. Bly warm en lekker hekel!

Groete

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica