Goeiedag almal!
Ons kuiergas vandag is Louisa van Taak.
Kyk net hoe mooi is haar versameling! Kom ons laat haar toe om ons meer oor haarself te vertel.
Ek is ‘n oud-Suidwester wat
nou al omtrent vir 22 jaar in die Vrystaat bly. Ek is ‘n grasweduwee, het twee
getroude dogters en twee lieflike kleinkinders. Dan is ek ook nog “ma” vir twee
honde , twee katte en ‘n erg bedorwe African Grey.
Ek was die jongste van
drie kinders en om hierdie woelige dogtertjie besig te hou terwyl die ander
kinders by die skool is, het my ma my leer hekel. Mensig, dit beteken dat ek al
vir meer as ‘n halwe eeu aan die hekel is!
Ek het basies in die hippie-era grootgeword en van kleins-af het hulle
kleredrag my geweldig gefasineer. Toe ek ouer was het ek vir my toppies en
baadjies soos hulle sin met oumablokkies , vlinders en blomme op gehekel – weet
nie wat die ander jongeres daarvan gedink het nie! (Jammer ek het nie fotos van
daardie tyd nie…)
Ek het al met enige iets
onder die son gehekel – wol, gare, tou, naaimasjiengare (vir baie fyn
blommetjies) en dan ook met draad vir ‘n armband van draad en krale wat ‘n
vriendin wou he.
In die winter hekel ek
meestal komberse, serpe ens en wanneer
die hitte ons slaan, hou ek my besig met kleiner hekelartikels. Ek is ook baie lief
om iets anders as die gewone te hekel – dit laat my vriende altyd wonder “wat’s volgende?”
Met die dat manlief in die
buiteland werk en my kinders al reeds uit die huis is, is my tyd my eie. Ek kan hekel van vroeg tot laat en dan nog
deurnag ook as ek sou wou!
In die verlede (soos ons
nou nog se^, “in die ou tyd”) is hekel geassosieer met ou tannies wat doilies
hekel. Enige handwerk is deesdae weer hoogmode
en hekel is die inding. Alles word deesdae gehekel: klere, gordyne, komberse, geskenke, matte,
noem enige iets en iemand iewers het dit
al probeer hekel.
Ek hou van enige kleur,
maar menige keer vang ek myself dat ek weereens besig is met skakerings van
blou en pers!
Hekel is een van my stokperdjies.
Ek hekel gewoonlik vir myself, maar op die ou einde gee ek dit gewoonlik vir
familie of vriende.
Ek het bietjie gaan oplees
oor die oorsprong van hekel, maar eintlik is baie min bekend. Daar is wel op ‘n
sekere manier met die vingers in die 16-1700s “gehekel”. In die 1800s was hekel ‘n goedkoper manier om
kant te vervaardig. Die arm en middelklas het gehekel, want net die ryk mense
kon regte kant bekostig!Koningen Victoria het
hekel weer gewild gemaak toe sy vir die Britse soldate serpe gehekel het
in die oorlog. Siestog, sy het toe ‘n groter hap afgebyt as wat sy kon kou en
het toe net agt serpe gehekel , vir die res van die soldate het sy toe maar
sjokolade gestuur!
Hekelgroete uit die Vrystaat.
Louisa.
'n Groot dankie vir jou Louisa! Dit was heerlik om jou te ontmoet en dankie vir die lekker gesels en vir die wys van jou pragtige handewerk!
Ek dink almal sal saamstem dat Louisa beslis 'n pragtige versameling hekelwerk het. Pragtige unieke items. Ek hou veral van die spinnekopweb in die boom. [Ek hoop dit is 'n rubber spinnekop wat daar sit!] Nog 'n paar persoonlike gunstelinge is die pragtige ontwerpe wat in die draadringe geplaas is, en daar is ook heelwat van die komberse wat beslis volpunte kry in my boek. Die pienk toppie is gehekel met die Elle Premier Katoen wat Louisa gewen het in die Mezomode kompetisie so 'n rukkie terug hier by Hekel Idees.
En op hierdie laat Sondag middag groet ek eers weer.
Pragtige week vir julle almal!
Hekelgroete
♥
No comments:
Post a Comment
Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica