Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Spykersteek


Die Spykersteek 


In Afrikaans noem ons dit die Spykersteek.
In Engels genoem die Spike Stitch.

Hierdie steek is dekoratief en kan op allerlei maniere gebruik word in hekelwerk. 

Boonop is dit maklik om te onthou want die naam vertel al klaar hoe die steek vertoon.  Kyk mooi en jy sal sien dit lyk net soos 'n ry spykers met die koppies wat ewe netjies bo uitsteek. Ek hou daarvan om assosiasie te gebruik wanneer ek iets nuuts leer. Wanneer ek dink aan die Spykersteek sien ek 'n stukkie hout met verskillende lengtes van spykers wat in 'n ry daarin gekap is. Sou die hout in die lengte dwars gesaag word sal mens die spykers kon sien. 

Die hout verteenwoordig vir my die hekelwerk wat eers gedoen moet word sodat die "spykers" daarin gekap kan word. 

Hout = 'n paar kortbeen rye
Spykers = lang verlengde kortbene wat bo-oor die kortbeen rye lê 

Ek hoop dit maak sin julle .....

Kom ek wys gou vir julle hoe maklik dit is. 

Afkortings gebruik: ks = kettingsteek; kb = kortbeen; vlg = volgende; 



Spykersteek is niks anders as 'n verlengde kortbeen nie! Kom ek wys hoe maklik dit is! 

Gryp 'n hekelpen en oorskietwol in 2 verskillende kleure en oefen gou so stukkie.  

Begin met 20 ks in kleur A

Ry 1: kb in 2e ks vanaf pen,  1kb in elk van vlg 18ks, [19kb in ry], 1ks, draai

Ry 2: 19kb, 1ks, draai

Ry 3 - 7: Herhaal ry 2 en aan einde van 7e ry kan draad geknip word en 2e kleur gelas word.


Ry 8:  kb in elk van vlg 2kb, 


steek nou die pen in reg onder die volgende kb, met ander woorde slaan 1ry oor en steek die pen onder die vlg kb in. Op die foto dui die speld aan presies waar hierdie steek gemaak moet word. 









Maak 'n gewone kb in die aangeduide plek en trek die draad egalig na bo. Let daarna op dat die draad nie te styf opgetrek word sodat dit die hekelwerk op 'n knop trek nie. Dit moet net genoeg getrek word sodat dit gelyk en presies op dieselfde hoogte is as die ry waarmee besig is. 

Raai wat? Jy het jou eerste spykersteek gehekel. Maklik is dit nie? Die steke kan in enige patroon oor enige aantal rye gemaak word nes jy wil.



In die foto hierbo kan gesien word hoe 'n dekoratiewe patroon verkry word deur die Spykersteek te gebruik. Daar is ook 2 en 3 rye oorgeslaan om die "spykers" dieper te laat vertoon. Die belangrikste om te onthou is dat daar altyd reg onder die volgende steek ingehekel moet word. Tel maar in die begin die aantal steke in 'n ry totdat jy die steek verstaan anders kan daar maklik 'n steek oorgeslaan word of dit kan ook gebeur dat jy dalk vermeerder. Onthou elke Spykersteek neem die plek in van 'n kortbeen in daardie ry. 

 
Hier het ek in rooi 7 rye kortbene gehekel, in groen 1 ry spykersteek en 3 rye kortbene. Daarna het ek oorgeslaan na rooi en 1 ry spykersteek gewerk. Dit behoort julle 'n idee te gee van hoe hierdie steek gebruik kan word om 'n patroon te vorm.

Jy ken nou nog 'n steek wat jy kan byvoeg om jou hekelwerk mee op te tower van gewoon na uniek. Maak dit jou eie en ontwerp jou eie patrone! 

Lekker hekel en geniet dit! 


Ouma Hekel Heerlik!

Ai dit is lekker om ouma te wees!

Die oorweldigende liefde en vreugdevolle glimlag  wat my hart toevou elke keer wanneer ek aan haar dink is iets wat ek nie in my wildste drome van ouma-wees verwag het nie. 

Ek het in hierde jaar (en so bietjie), darem 'n paar goedjies gedoen gekry. Die eerste paar maande het ek rustig gesit en brei en hekel vir die nuwe kleinding. Op die fotos hieronder is links bo 'n gebreide truitjie en ook 'n langbroekie wat aanmekaar geslaan is op my naaimasjien met 'n bandjie aan die agterkant wat lees .. "Ouma se skat xxx"  Daar is 'n paar houthangers wat oortreksels gekry het. Vinnis se  Serina het gesorg vir 'n sagte paar gehekelde skoentjies. En dan moet daar mos natuurlik ook 'n ou bersie wees. Met Pure Gold en 'n Granny riffelpatroon was hierdie kombersie ook 'n heerlike projek om aan te werk. 

Vir die van julle wat nog wonder oor die gehalte van Elle Pure Gold wol. My dogter getuig dat sy die kombersie hier onder op die foto  al menige male gedurende hierdie jaar in die wasmasjien gewas het en dit lyk nog splinternuut. (ek word glad nie betaal om dit te sê nie hoor) :)




Katia Belice, 'n katoenmengsel, het gesorg vir 'n kleurvolle gehekelde baadjie met bypassende skoentjies. 

Abigail het haar opwagting gemaak op die 2e April. 

Toe ek haar die eerste keer sien het sy my voete onder my uitgeslaan. Dit was liefde met die eerste oogopslag.... 'n bondeltjie liefde en kleine ou poppie van 2.4kg. So so klein en so volmaak. 


Tien klein toontjies wat nou al amper trippe trappe trone en tien klein vingertjies wat kan raakvat! :)
En kyk net hoe sit sy ewe grootoog en kyk saam met Ollie na een van haar gunsteling movies: Winnie the Pooh. 
   



Daar is ook hard gebrei en gehekel vir Kersfees. Die  'ratlle' (wat noem mens dit in Afrikaans?) 'n ratel ... gits dit klink nie vir my reg nie, Indien enige een van julle weet wat die korrekte Afrikaanse benaming is help tog asseblief..... is sommer so op gevoel gehekel. Vir die poppie en legkaartbal het ek patrone gebruik. Dit was baie moeilik om die geskenke te laat oorstaan tot Kersdag. Ek is gewoonlik  meer opgewonde om geskenke uit te deel as om te ontvang?


So tussen-in was daar ook nog 'n tydjie om vir die kombuis 'n mat met t-yarn te hekel.

Ek laat sak my kop in skaamte en ek moet bieg oor iets wat ek gesê het ek gaan doen.

Hier sit ek 'n jaar later en dit is nog steeds nie gedoen nie. Al my goeie voornemens om al die WIPS klaar te maak gedurende die jaar het net nooit gebeur nie. Dit is nog veilig in die kas...... elkeen netjies verpak in plastiek asof dit my nou moet laat beter voel.  Die probleem ontstaan gewoonlik wanneer ek nog besig is met een projek en iets anders vang my oog. Plaas dat ek eers die projek waarmee ek besig is voltooi, maar nee.... o wee dit is 'n geval van "soooo baie wol en soooo min tyd en sooooo baie inspirasie en net twee hande. 

Gedurende die jaar het ek baie tyd gehad om te dink oor my gesondheid en my pad vorentoe. Ek het besluit om hierdie keer minder posts te doen per maand sodat ek ook tyd kan maak vir ander dinge wat saak maak.  Ek het 'n paar goed in gedagte wat ek wil doen maar wil nie nou te veel daarop uitbrei nie. 

'n Groot dankie vir almal wat nog hier by Hekel Idees kuier!   

Lekker hekel!