Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Ek neem 'n Blog Sabbatsverlof.

Totsiens 2014 en Hallo 2015!

Die eerste patroon wat ek gedeel het hier op Hekel Idees was hierdie teepot mussie wat ek geskryf het in die begin van 2013.

Die idee agter Hekel Idees was om sommer net 'n plekkie op die net te hê waar ek so nou en dan 'n ietsie kon plaas oor hekel en my idees wat hekel betref. 'n Plek om my hekel idees te stoor.  Ek het nie gedink daar sou veel belangstelling wees nie want die aanlyn wêreld is immers "Engels" en ek het in Afrikaans geskryf. Was ek nie verkeerd nie! 

Met elke nuwe patroon en tutoriaal wat ek opgelaai het, het die navrae en boodskappe ingestroom en met tye kon ek nie voorbly om almal terug te antwoord nie. Ek werk voltyds en baie aande het ek gesit en eposse beantwoord tot laat. 


Ek het al hoe besiger geraak en met die oopmaak van Hekel Idees se Facebook blad het al hoe meer hekelaars aangesluit en ingeskryf wat beteken het die druk het al hoe groter op my skouers gerus om aan te hou met nuwe idees en tutoriale.  Ek wou niemand in die steek laat nie. Ek het hard probeer om almal tevrede te hou deur so gereeld as moontlik te sorg dat daar iets nuuts verskyn. 

Ek glo nie mense besef hoeveel werk gaan in die skryf van 'n patroon of selfs tutoriaal nie. Dit neem ure om al die fotos te neem en gereed te kry. Om van elke stap 'n ordentlike en duidelike foto te neem is nie altyd maklik nie en daar moet letterlik 'n hele paar fotos van elke stap geneem word sodat die bestes gebruik kan word. Dit neem laaaaaaank!!! Dit is tydrowend en harde werk glo my. 

Dit is wonderlik om  terugvoer te kry van oral oor. Die sommer net dankie sê epossie wat my dag kan ophelder en my weer nuwe inspirasie gee om voort te gaan al het ek met tye vreeslik gesukkel met my gesondheid en liewer net sou wou in die bed gaan klim en slaap.  Al die dankies en inspirerende booskappe maak alles die moeite werd en ek waardeer elke liewe een! Ek onthou die eerste keer wat 'n klient by die winkel waar ek werk ingestap het met afgerolde afdrukke van my hekel patrone wat sy op internet gekry het. Die dame wou hulp hê met die patroon maar was glad nie bewus daarvan dat ek die persoon was wat die patroon geskryf het nie. Ek het haar gehelp sonder om iets te sê en toe sy vra of ek seker is van die keuse en ek sê dat ek glo dit sal werk want ek het die patroon geskryf en ek is Monica van Hekel Idees het haar gesig soo opgehelder ek het skoon 'n knop in my keel gekry. Of wanneer iemand in die wolafdeling instap met hulle Tab of foon en hulle scroll op en af en begin soek na wolle en ek stap nader om te vra of ek kan help en ek sien hulle scroll op en af op my blog ... dit bring so 'n gevoel van warmte en genot om te weet dit wat ek doen is nie verniet nie en word gebruik! 

My besoekers kom van reg oor die wêreld wat vir my wys hoe wyd die Afrikaanse gemeenskap versprei is en dat daar 'n behoefte is vir enige iets in Afrikaans. Ek besef maar alte goed dat mense slegs sal terugkeer na 'n blog indien daar iets is wat die moeite werd.  Daar is soveel kompetisie om met nuwe idees vorendag te kom en om bo te bly beteken jy moet aanhou verander en aanhou groei anders bly jy agter. Daar is soveel kreatiewe mense daarbuite en dit is absoluut wonderlik want kreatiwiteit is vir so 'n lang tyd onderdruk in ons samelewing. Die potensiaal wat in elke mens ingebore is moet net ontgin word om die beste in hom uit te bring en dit begin alles deur vir mense die gereedskap te gee en hulle dan te wys hoe om iets te doen. 

Verlede jaar hierdie tyd het ek soveel voornemens gehad van idees wat ek wou deel maar ek kon nie by alles uitkom nie. Daar is baie wat ek wou doen. Dit het net nooit gebeur  nie. Tyd is die grootste vyand en wanneer die liggaam nie sy samewerking wil gee nie vererger dit sake so ietwat.  

Vanaf 2013 het soveel goeie goed gebeur:

My werk verskyn in Rooi Rose:



En in die Kuier Tydskrif: [Ek vra om verskoning vir die tikfout "Vroue Keur" wat ek nou verander het na Kuier Tydskrif!]




En in die Saprotex Boekie: Winter Warmers.




Ek het ook my eerste klein boekie bekend gestel met 10 patrone vir motiewe.  Dankie ook vir almal se belangstelling en ondersteuning om van hierdie projek van my 'n sukses te maak! 

Ek begin patrone skryf vir verskeie wolhandelaars. Meer daaroor in die toekoms. Sommige is reeds afgehandel, ander is amper voltooi en daar is ook een vir 'n tydskrif hierdie jaar. 




Ek het soveel vriendinne leer ken en soveel talentvolle vroue ontmoet in hierdie tyd. Daar is diegene wat wou leer om te hekel en wat nou al 'n hele paar projekte voltooi het. Daar is die gesoute hekelaar vriendinne wat die mees asemrowende items hekel. Almal van julle is my inspirasie nou en sal ook so wees in die toekoms. Dankie dat julle almal deel is van my lewe. Ek wil nie enige name noem nie want daar is te veel en ek wil nie hê enige iemand moet uitgesluit voel nie. Almal wat ek ontmoet het hier by Hekel Idees of deur Hekel Idees of dit nou was via epos, Facebook of in lewende lywe ... baie baie dankie!

Maar met al die goeie goed wat gebeur het word ek nou verplig om sabbatsverlof te neem vanaf Hekel Idees vir 'n paar maande. My gesondheid het 'n knou weg en ek het tyd nodig om weer terug te keer na myself.  Ek moet ontspan wanneer ek van die werk af kom en moet meer rus en beter kyk na myself. Alles dinge wat ek afgeskeep het nou al vir 'n hele paar jaar. My hele wese en liggaam is besig om waarskuwingstekens uit te gooi en ek moet luister. Ek kan dit nie langer verontagsaam of probeer uit my gedagtes stoot nie. Ek hoop om oor 'n paar maande weer te kan sê ek voel fantasties en gesonder as ooit wanneer ek in die oggend opstaan.  Dit is goed om dryfkrag te hê maar mens moet weet wanneer die streep getrek moet word. Ek moet luister na my liggaam en doen wat die beste is vir my sonder om skuldig te voel daaroor. 

Ek word ook vir die eerste keer ouma en die kleinding se verwagte datum is 19 April... 'n dogtertjie! Hierdie ouma moet ook begin voorberei vir die kleinding en sien vreeslik uit daarna om haar te ontmoet! Ek sit nog met WIP'S wat vanaf 2013 saam met my kom en ek wil hierdie tydjie van rus gebruik om almal klaar te maak. Daar is te veel onvoltooide projekte wat aandag nodig het en waarby ek net nooit uitkom nie. 

Ek sal wel nog beskikbaar wees by die Facebook groep "Want ons hekel terapie komberse" Ek is besig  met my eie terapie kombers en wil dit baie graag voltooi. Ek het beslis die terapie nodig! 

Hiermee wil ek vir al julle liewe lesers dankie sê vir julle wonderlike ondersteuning die afgelope tyd. Mag 2015 vir almal net voorspoedig wees. Mag nuwe drome verwesenlik word en mag julle dae gevul word met liefde, vrede, vreugde, glimlaggies en fantastiese kreatiwiteit. 


Sien julle oor 'n paar maande en dan is ek terug met tonne nuwe Hekel Idees!! O en net om julle te laat uitsien na iets. Alles wat ek vir die nuwe kleinding hekel sal ek fotos van neem en vir julle wys wanneer ek terug is. Ek wys ook sommer dan vir julle al my voltooide WIP'S en vertel dan meer van die patrone waarmee ek besig is. 


Mooi bly en lekker hekel!
Tot weersiens

Hekelgroete

3 comments:

  1. Ek wens jou alle sterkte toe Monica en mag jy die rus geniet wat jy beslis verdien. Jy is n mens duisend

    ReplyDelete
  2. Monica jy sal nie weet hoe het jy my met jou positiewe blog inspireer nie. Dankie dat ek jou blog kon deel op die Facebook hekelgroep waarvan ek die admin is.
    Geniet jou Sabatsverlof en ek sien uit daarna om te sien waarmee jy ons gaan verras wanneer jy terug is.
    Seker jy kan nie meer wag vir die nuwe kleinding. Geniet.
    Dankie ook vir jou oulike Facebook groep. Dit is beslis 'n inloer werd. Lekker hekel aan jou terapie kombers.
    Mooiloop.
    Vriendelike Vredendal-groete
    Sonia

    ReplyDelete
  3. Hallo, Monika, miskien onthou jy my nog - ek het so net meer as 'n jaar terug myself leer hekel en het toe baie opgewonde vir jou laat weet toe ek jou blog ontdek het. Jy het my gewaarsku dat die hekelry dalk 'n groter liefde as die breiery gaan word, en hoe reg was jy nie!!! Ek het in die afgelope omtrent 15 maande vele projekte voltooi en het nou die dag nog een van jou ierse rosies gehekel!!! Ek moet se dat ek darem tussen-in nog brei ook!! Ek wil maar net weer uit George hallo se en vir jou baie voorspoed vir die nuwe jaar toewens - ek is so jammer om te hoor dat jou gesondheid bietjie pla, maar ek glo dat jy inderdaad oor 'h paar maande weer met nuwe lewenslus en goeie gesondheid gaan opstaan elke oggend!!! En sowaar 'n kleinding op pad!!!! - dis wonderlik en ek kan net dink hoe opgewonde jy is - ek kan nie wag om te sien wat jy als vir die kleindogter gaan hekel nie!!! Geniet jou ruskansie - ek glo almal gun dit vir jou en baie dankie weer vir al jou moeite en harde werk om ons in Afrikaans te laat hekel!!!! Ek is nie op FB nie, maar sien uit daarna om weer saam met jou in Blogland te kuier wanneer jy terug is!!! Mag jy 'n baie geseende 2015 he en mag die batterye weer ten volle herlaai word en jy weer 'n nuwe uitgeruste en gesonde mens anderkant uitkom!!! My beste wense vergesel jou op die herstelpad!!!
    Baie groete uit George en lekker rus!!!!
    Petra

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica