Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Idees vir Kersfees: Tafelversierings.


 Gehekelde tafelversierings vir die Kersfees tafel!

 

 Vandag deel ek met julle patrone vir miniatuur kersfees kousies asook jassies vir klein kersies wat sommer so oral kan staan en brand.

Jassie vir 'n klein kersie. 



Materiaal gebruik: Elle Premier Katoen 4 draad en 3mm hekelpen.


Ry 1: Begin met 'n garesirkel, 1ks en werk 15hlb in sirkel, gs in eerste hlb.

Ry 2: 1ks, werk 2hlb in elk van die 15hlb, gs in eerste hlb [30hlb in hierdie ry]
Ry 3: 1ks, werk 1kb in elke hlb maar steek die pen deur die agterste lus van elk van die hlb/e. [Sien foto 1 en 2]
Ry 4: 4ks, 1lb in dies st, * slaan kb oor, in vlg kb werk [1lb,1ks,1lb]; herh vanaf * tot einde van ry, gs in eerste sp [daar is 15 "V" steek-groepe in ry] [Sien foto 3 en 4]
Ry 5: 2ks, gs in vlg 1ks-sp, *1ks, gs in vlg 1ks-sp; herh vanaf * tot einde van ry.


Miniatuur Kersfees Kousies



Materiaal gebruik: Elle Premier Katoen 4draad en 3mm hekelpen.

Ry 1: Begin met 'n garesirkel, 1ks, werk 12hlb in sirkel, gs in 1e hlb, 1ks.
Ry 2: Vermeerder in elke 2e hlb soos volg: [1hlb, 2hlb in vlg hlb]; herh tot einde van ry, gs in 1e hlb. [18hlb in ry]
Ry 3 - 5:  1ks, 1hlb in elke hlb, gs in 1e hlb. [18hlb in ry]
Ry 6 - 8 : 1ks, 10hlb, 1ks, draai, vou agterste naat met regte kante na mekaar en glipsteek naat tesame of knip draad en werk agterste naat aan mekaar vas.
Ry 9: Las draad in steek wat regs langs agterste naat is, 1ks, werk nou weer 18hlb reg rondom soos volg: 5 steke aan sykante elk en 8 hlb aan bokant van kous.
Ry 10 - 16: 1ks, hlb in elk van 17hlb, gs in 1e hlb.

Randjie: kb in gs van vorige ry, *1ks, 3lb in dies st, slaan 2 hlb oor kb in vlg hlb, herh tot einde van ry. Heg af.  Vou randjie om. Hekel nou 16 ks en gebruik as lussie waaraan kousie opgehang kan word. Ryg deur agter aan bokant van kousie en werk alle los drade weg.

Blommetjie: [6ks, gs in 1e ks] herh nog 4 keer en heg af. Trek blommetjie stewig vas en werk vas aan kous.   


Idee!


Hekel 'n kousie vir elke gas. Plaas 'n bederfie soos 'n sjokolade binne in elke kousie en hang dit aan elke glas met 'n klein wasgoed pennetjie. Dit kan sommer ook dien as 'n nagereggie en elke gas kan sy kousie huis toe neem en volgende jaar aan sy of haar boom hang. Of hekel 'n paar en hang dit in die kersboom met bederfies binne. 

Heerlike Sondag vir almal en lekker hekel!
Groete

Gratis Patroon: Hekel 'n Kerskous.



  Dit is weer tyd om Kersfees Kouse te hekel!



 Hartlike goeie dag alle liewe hekel vriendinne,

Kersfees lê al weer en loer om die draai! Wil jy graag 'n paar kersfees kouse hekel hierdie jaar? Nou ja, hier is 'n maklike patroon wat sommer in 'n japtrap gehekel kan word. Hekel sommer 'n paar van hulle en hang dit oral op met bederfies binne in. Jy kan die kouse ook versier op allerlei maniere of vir elke familie-lid 'n kous maak met hulle name daarop geborduur.

Materiaal gebruik: Raeesah "Cotton Soft" van Kismet Yarns en 'n 4,5mm hekelpen.
Die kous is ongeveer 20cm lank en die voetgedeelte meet ongeveer 17cm in lengte.

Indien jy 'n kleiner kous wil hekel gebruik 'n dunner gare en kleiner hekelpen.

Nou kom ons begin!


Voorste deel van kous:

Ry 1: Met rooi gare maak 'n garesirkel en werk 12 hlb in sirkel. [Indien jy nie weet hoe om 'n garesirkel te maak nie begin met 5ks, gs om ring te vorm en werk dan 12hlb in ring]

Ry 2: Maak 2hlb in elk van die 12hlb [24hlb in hierdie ry]

Ry 3: *1hlb in vlg hlb, 2hlb in vlg hlb,* herh tot einde van rondte. [36hlb in hierdie ry]



Ry 4 - 12: hlb in elke hlb [36hlb in elke ry]  Heg af aan einde van ry 12.









Hak van kous:

Ry 1: Met groen gare: Tel 12 steke terug van waar glipsteek in ry 15 gewerk is en heg draad in die 12e hlb, werk nou 24hlb, 1ks, draai.

Ry 2 - 8: 24hlb, 1ks, draai. Heg af na die 8e ry.






Vou die agterste naat om en glipsteek aanmekaar vas. Heg af.









Been van kous:

Met geel gare heg draad in 'n steek reg langs die agterste naat. Daar gaan nou reg rondom gehekel word. Werk 11hlb aan elk van die sykante en 12hlb aan die bokant van voetdeel. [34hlb altesaam]

Werk oor hierdie 34hlb en hekel nog 5 rye in geel, daarna 5 rye in rooi en laastens 6 rye in groen en heg af.



Rand:
Heg geel gare in vlg steek, 1kb in dieselfde st, * 1ks, 4lb in dieselfde steek, slaan vlg 2 hlb oor, kb in vlg steek; * herh van * tot * einde van rondte en heg af.












Vou die boonste rand oor na buitekant, hekel met geel 30ks en ryg dit deur die bo-rand om te dien as lus waaraan kous opgehang kan word.



Blommetjie:



Met rooi maak [5ks, 1kb in 2e ks, 1lb in elk van vlg 2ks, kb in vlg ks]; herh totdat 6 blare voltooi is. 











Knip draad ongeveer 30cm vanaf begin sodat daar genoeg is vir inryg en vaswerk van blom.






Met geel gare borduur klein knoppies in senter van blom en werk dan die blom in posisie op kous vas.  





En dit is dan die Kersfees kous! En wat eet mens wanneer jy Kersfees hekelwerk doen? 


Jy eet heerlike Kersfees koek met baaaie ekstra neute en kersies natuurlik. 

Mooi bly almal en lekker hekel!

September Maand Hekel Inspirasie


Hallo almal!

Hoop dit gaan sommer baie goed met julle! 

September maand het behoorlik verby gevlieg en tyd om te blog was maar bitter min. Dit beteken nie dat ek gesit en niks doen het nie. Hier is 'n klompie fotos om vir julle te wys wat alles gebeur het.

Soos meeste van julle seker al by die tyd weet was Judi Sheard van Karoo Moon in die Kaap om vir ons bekend te stel aan haar pragtige wol. Sy was op  24 September by The Crafters Inn en ek het hierdie fotos geneem so tussen die gesels deur. Dit was 'n heerlike oggend en die Hekel in die Kaap groepie van Chriselle was ook daar in tientalle en is met baie tevrede harte en hande vol sakkies wol daar weg. 'n Groot dankie ook aan Chriselle wat gehelp het om die woord te versprei.  

Karoo Moon



En kyk wie het ook die oggend daar opgedaag om haar Karoo Moon te kom koop. :)

Hanlie van Tonder se pragtige handewerk wat pryk agter op haar motorkar. Ek het haar gister raakgeloop in die winkel en toe vertel sy my sy het ingeskryf vir 'n kompetisie en toe ook die prys gewen vir haar gehekelde wiel.

Baie geluk Hanlie! 


Sien julle die bolletjies wol van Karoo Moon wat regs onder op die boonste foto lees "Myne"... dit was my aankope en dit hekel fantasties lekker! 

Hierdie grys bolletjies Karoo Moon is net 'n proe om vir julle te wys waarmee ek besig is. Meer daaroor in die toekoms.  





Tunisiese Hekelklas


 Daar was gister weer 'n heerlike vol klas en almal het heerlik gehekel!

Hekel Inspirasie 

Al die fotos het ek geneem van goeters wat hier in my plekkie rondstaan. Sommer net bietjie inspirasie vir julle.
 

1. Gehekelde doilie kry 'n plekkie in die badkamer. Ek drapeer dit sommer net oor die gaste handoekie vir die mooi.
2. Ek was net 'n klein stukkie blou katoengare kort met die hekel van hierdie kombuis lappie maar dit het my nie onder gekry nie.... ek het net eenvoudig die laaste 3 skulpe met die groen klaar gehekel. Ek dink dit werk!
3. Ek moes my Karoo Moon wol gou uittoets nadat ek dit gekoop het  en tada!.... 'n selfoon sakkie!
4. 'n Gehekelde doilie bo-oor die bek van my botteltuin!
5. Besig om te werk aan my terapie kombersie wanneer ek 'n tydjie kry. 'n Hartjie van gips waarop ek met 'n swart pen gedoodle het! :)
6. Nog 'n gehekelde kombuis lappie.
7. Gehekelde chunky katoen blom werk mooi onder die kers en lyk ook baie dekoratief.
8. Weer my terapie kombersie.... met my handgeverfde kussing wat ook ingesluip het.
9. En weer die kers.... en katoen blom van bo gesien. :)  

Kersie borsspeld.


Die tydskrif Mollie Makes het hierdie maand 'n gratis geskenkie ingehad. 'n Pakkie met alles wat jy nodig het om hierdie borsspeld te maak. My vriendin het die tydskrif gekoop en die pakkie vir my gegee. Hier is my borsspeldjie klaar gehekel en net reg om aan te sit. 

Wonderlike week vir julle almal en mag Oktober 'n mooi maand wees. Hoe kan dit anders met al die pragtige bloeisels en blomme wat oral alles opvrolik. Die heerlike soet reuk van blomme wat buite sweef en die gesing van die voëltjies is genoeg om enige dag sommer mooier te maak. Hemels! 





Hekel groete