Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

10 Steek Tunisiese Blokkie


Dagsê almal!

Hier is 'n lekker blokkie vir die van julle wat daarvan hou om Tunisiese hekelwerk te doen. Wat hierdie blokkie so besonders maak is dat daar met net 10 steke op 'n slag gewerk word. Die kombers groei blokkie vir blokkie en omdat 10 steke nie baie plek opneem nie doen ek dit sommer met 'n gewone hekelpen. Jy het nie eens 'n Tunisiese hekelpen nodig nie! 

Ek het verlede week 'n Facebook groepie begin met die naam "want ons hekel terapie komberse" nadat ek baie goeie terugvoer ontvang het oor die terapie kombersie projek waarmee ek besig is. Gedurende die week het dit duidelik geword dat daar ook 'n behoefte is vir brei blokkies want hekel is nie almal se sterk punt nie en omdat ek graag sal wil hê almal wat wil moet kan  deel hieraan het ek hierdie week gaan sit en hierdie patroon uitgewerk vir hierdie Tunisiese blokkie en deel ook dan 'n patroon vir 'n gebreide blokkie wat Sonia Horn goedgunstelik vir my gegee het om te deel met almal. Baie dankie Sonia. Die link na die dokument vir die gebreide blokkie kan gekry word hier: Eerste deel van Blokkie en die Tweede deel van Blokkie

En hiermee dan my 10 Steek Tunisiese Blokkie Patroon! 



Goed noudat jy weet hoe om die Tunisiese Steek te doen kan ons begin.

Begin met 10ks en werk die basis ry. [Daar sal 11 lusse op die pen wees]

Voltooi nou 8 rye. Moenie afheg nie maar knip die draad en trek die lus langer sodat jy later weer die nuwe kleur kan heg om verder te hekel. Indien verkies kan jy eers een lang strook hekel wat beteken jy gaan jou nuwe kleur nou heg en die volgende blokkie van 8 rye hekel. Ek is regshandig en werk my blokkies van links na regs. Dit beteken nadat ek my eerste blokkie voltooi het moet die tweede blokkie aan die regterkant vasgehekel word soos op die fotos gesien kan word. 

Die rooi blokkie aan die linkerkant is voltooi en nou gaan ek begin met my tweede blokkie in groen. Ek begin met 10ks en tel my lusse op soos normaalweg.

Nou moet daar deur die eerste blokkie gewerk word. Druk die hekelpen deur in die steek waar  die speld aandui. 





Slaan draad om pen en trek dit deur die eerste blokkie sowel as die eerste lus op pen. 








So ......










Slaan draad om pen en werk deur 2 lusse soos normaal. 

Werk alle lusse nou weer twee-twee af tot 1 lus oor is op pen. 










Nou moet die lusse weer opgetel word en sodra al 10 lusse opgetel is moet die volgende hegting gedoen word. 







Druk pen weer deur, slaan draad om pen en trek deur die eerste lus op pen. 

Werk weer twee-twee lusse af soos gewoonlik. 










Baie belangrik! 

Maak seker dat die heel laaste steek nie per ongeluk gemis word nie. Hier wys die speld waar hierdie heel laaste lus lê.







Hier is die heel laaste lus gewerk. Julle kan sien dit is die lus wat reg teen die kant lê.












Hier is die hegting in die 3e ry.

En die voltooide hegtingsteek. 











Herhaal totdat 8 rye voltooi is. Knip draad en begin dan met volgende blokkie wat aan die regterkant van die groen blokkie aangehekel sal word. Besluit self hoe jy jou kombers wil laat groei. Jy kan van links na regs in stroke werk en dan weer bo-op die rooi blokkie begin en die volgende strook van links na regs werk of jy kan eers 'n lang regop strook werk en dan weer 'n strook aan die regterkant op laat beweeg. 

Ek hoop julle geniet hierdie manier van hekel ook net soveel soos ek. Ek gebruik 'n gewone 4mm hekelpen en 'n dubbeldraad wol. Dit werk heerlik en is erg terapeuties hoor! 

Mooi dag vir almal!
Hekelgroete

Hekel Tutoriaal: 2-kortbene in plaas van 3-kettingsteke: 'n Nuwe Tegniek?



Skewe, onegalige, gaterige, knopperige langbeen rye? Met hierdie tegniek sal jy nooit weer sukkel om langbeenrye netjies en reguit te hekel nie!

Goeiemiddag liewe lesers,

Die afgelope week het ek verskeie navrae gekry van nuwe hekelaars wat swoeg en sweet om daardie verdekselse langbeenrye netjies te kry.

Ons leer dat 3 kettingsteke die 1e langbeen vervang reg? Jip, dit is een honderd persent reg, maar doen ons dit so dan sit ons met gate waar ons nie gate wil hê nie en dit lyk sommer slordig ook. Ek het al voorheen hieroor geblog en het al 'n alternatiewe metode in die verlede gebruik. Julle kan hier gaan lees hoe ek dit in die verlede gedoen het. Dit was 'n verbetering op die tradisionele manier maar dit was nog nie perfek nie.

Ek het  google ingespan om te gaan kyk of daar nie iewers 'n perfekte oplossing is nie.  Daar is 'n  paar oulike idees op internet oor hoe om die probleem op te los en ek het ook op 'n  paar oulike videos afgekom. Gewapen  met my wolletjie en hekelpen het ek  gesit en hekel terwyl en na al die videos gekyk het. Nadat ek almal probeer het was ek  egter nog nie oortuig dat ek die antwoord gekry het nie. Daar moes  'n manier wees om dit anders te doen as al die metodes wat ek gesien het. 

Ek sit nog so en hekel en lostrek en hekel en lostrek toe ek meteens iets doen wat uiteindelik perfekte sin maak en whala! Die oplossing en resultaat waarna ek gesoek het! Ek dink nie enige iemand het hierdie metode al gebruik nie. Ek het oral gesoek en dit was beslis nie op enige webblad wat ek gesien het nie.  Dit is natuurlik moontlik dat so iets wel bestaan maar nie waarvan ek weet nie. 

Nietemin wil ek dan ook graag hierdie metode van my met julle almal deel en hoop dit sal julle ook kan help in die vervolg. Met hierdie metode wil ek dit amper waag om te sê jy hoef  nooit weer 3 kettingsteke te gebruik om die eerste langbeen in 'n ry te vervang nie. Hekel net eenvoudig 2 kortbene bo-op mekaar! 

Kom ek wys julle hoe!

Begin deur 'n aantal kettingsteke te maak en hekel soos normaalweg die eerste ry langbene.








In die volgende 2 fotos kan duidelik gesien word waar die heel laaste 2 langbene van hierdie ry gewerk moet word. Dit is baie belangrik om nie die heel laaste langbeen te vergeet nie en dit is ook die meeste van die tyd die oorsaak dat werk skeef trek.... die heel laaste steek is nie gewerk nie. Indien jy die 2-kortbeen metode gaan gebuik sal hierdie die enigste ry wees waar daar in die bo-punt van die 3 kettingsteke gewerk gaan word. Hierna sal daar aan elke einde van 'n ry 'n kortbeen wees wat duidelik gesien kan word en dit sal sake sommer heelwat vergemaklik!


 
Deur van die 2-kortbeen metode gebruik te maak in plaas van 3kettingsteke-draai in die begin van die ry vertoon die werk sommer baie beter dink ek!



Ek sal graag wil hoor wat julle dink. Probeer dit en laat weet my of dit vir julle ook werk. Ek sal terugvoer baie waardeer.
Wonderlike daggie vir julle almal!
Lekker hekel!


Monica Se Terapie Kombersie



Goeie dag almal!

In hierdie gejaagde lewe met al die negatiewe dinge waarmee ons daagliks te doen kry het ek gaan soek vir idees spesifiek vir 'n terapie kombersie maar kon nie enige iets kry wat ek wou toepas of wat vir my gegee het waarna ek soek nie. 

Daar is wel baie oor "mood blankets". Dit is 'n wonderlike idee maar dit is nie wat ek wil doen nie.  Vir die van julle wat nie weet wat 'n "mood blanket" is nie. Kortliks beteken dit jy kies vir jou kleure wat jy koppel aan 'n spesifieke emosie vir die dag en hekel dan 'n blokkie of 'n ry wat die dag verteenwoordig. Jy kan elke dag of weekliks hekel. Die keuse is joune.  Maar soos ek reeds gesê het dit was nie presies waarna ek gesoek het nie. 

Ek het toe begin oplees oor kleur terapie en notas begin maak en het uiteindelik op 'n idee besluit wat ek wil gebruik en so is my Terapie kombersie gebore. Die rede hoekom ek my kombersie eerder 'n Terapie kombersie noem is omdat ek nie enige negatiewe konnektasies wil heg aan enige kleur nie. Met die "mood blanket" kies jy byvoorbeeld bruin vir die dag wanneer jy af voel. Dit verteenwoordig dus 'n negatiewe emosie. 

Ek wil nie na kleure kyk en enige negatiewe gevoelens daarom bou nie. Vir my is kleur wonderlik en ek wil dit eerder gebruik in die vorm van terapie. Kleur moet my beter laat voel.  Dit moet my opbou. Ek wil lekker voel wanneer ek daarna kyk. Maak nie saak watse kleur dit is nie. Dit moet  'n plekkie in my hart vul wat my goed laat voel en wat my omstandighede net so bietjie mooier en beter kan maak deur daarna te kyk.

Kleur is wonderlik en moet geniet word en daarmee bedoel ek alle kleure. Selfs swart sien ek as 'n kleur waarmee ek alle negatiewe dinge kan begrawe. Gooi swart bo oor iets en dit bedek dit totaal en al. Ek kyk na die positiewe kant van kleur en wil dit dan ook so gebruik vir hierdie projek.

Ek het besluit om kleurterapie, meditasie en hekel te kombineer. 

Ek sal klein blokkies hekel wat net sal bestaan uit halwe langbene omdat ek  'n soliede blokkie wil hê. Dit sal ook net 'n paar minute neem met 7 rye en 'n randjie. Ek beoog om dan ook sommige van die blokkies te versier met mooi knope en borduurwerk ens. Omdat my lewe baie gejaagd is wil ek myself nie koppel aan 'n spesifieke hoeveelheid blokkies per dag of week nie. Daar is dae wanneer dit moeilik is om by alles uit te kom en op daardie dae mag ek dalk glad nie by 'n blokkie uitkom nie maar op dae wanneer ek tyd het kan ek dalk deur twee of drie meditasies werk wat sal beteken ek kan drie blokkies op daardie dag hekel. Dit hang alles van omstandighede af. Hierdie is my terapie en dus maak ek my eie reels wanneer dit kom by my menswees. Die belangrikste is dat ek met elke blokkie 'n tydjie sal kry om terug te keer na myself.


Hoe gaan ek die kleure gebruik?

Ek sal mediteer terwyl ek 'n blokkie hekel deur die betekenis te lees en dit dan te herhaal terwyl ek my blokkie sit en hekel. Ek sal dit doen deur stil te word, die woorde oordink en daarmee saam ook kalmte en vrede in my gemoed bring. En terwyl my kombersie groei sal ek ook groei in krag en menswees. Aan die einde van my reenboog terapie kombersie sal ek die pot goud vind. 'n Groot pot vol  meditasies wat gevul is met wonderlike positiewe en kleurvolle affirmasies en wanneer die storms kom kan ek my toevou in my eie terapie kombersie en onthou dat elke blokkie en elke kleur daar is om my te herrinner aan die dinge waarvoor ek dankbaar is. 

Hier is 'n lys met kleure en die betekenis wat ek aan elkeen toegeken het. 


Kleur
Betekenis
Blou
Vreedsaam en Rustig. Omvou jouself met kalmte.
Groen
Vrede en Balans. Wees dankbaar vir gesondheid.
Rooi
Passievol en Opbeurend. Onthou jy is in beheer. Neem terug jou krag.
Pink
Gee onvoorwaardelike liefde. Sê dankie vir jou vrouwees
Pers
Kreatiwiteit. Daar is net een jy. Jy is uniek en kosbaar.
Goud
Jy verdien geluk en sukses. Sê dankie vir wat jy het.
Silwer
Gee van jouself met ‘n opregte hart en met ‘n glimlag.
Bruin
Jy is veilig in die warmte van jou huis, familie en vriende.
Oranje
Wees optimisties en entoesiasties. Leef voluit en glimlag.
Geel
Die son skyn oor ons almal. Laat dit jou dag ophelder. Kweek selfvertroue.
Magenta
Spandeer tyd aan jou eie menswees. Dit bring balans terug in jou lewe.
Wit/Ivoor
Elke dag is ‘n nuwe begin. Moenie in die verlede leef nie.
Indigo
Laat intuisie jou lei. Wees wys en opreg in alles wat jy doen en sê.
Olyfgroen
Nuwe groei, hoop en vrede vir jou.
Koraal
Wees lief vir jouself. Jy verdien liefde net soveel soos enige ander mens.
Perel
Laat jou liggie skyn sodat al die donker skaduwees kan  verdwyn.
Swart
Begrawe alle negatiewe gedagtes en emosies.



Hier is my kleure wat ek gekies het:


Ek gebruik Pure Gold en Family Knit dubbeldraad omdat ek sekere kleure wil gebruik en 'n 4mm hekelpen.
Enige skakering van 'n spesifieke kleur kan gebruik word. Vir rooi het ek byvoorbeeld 'n donker skakering gebruik en vir blou 'n sagte Aqua kleur.

Enige patroon kan natuurlik gebruik word. Ek deel met julle die patroon vir die blokkie wat ek gaan gebruik.

Terapie Kombersie Blokkie:

1e ry: Begin met 12ks, hlb in 3e ks vanaf pen, 1hlb in elk van vlg 9ks, 2ks, draai,
2e - 6e ry: 10hlb, 2ks, draai
7e ry: 10hlb, 3ks, draai

Hekel nou 'n randjie om die blokkie sodat die blokkies aanmekaar gehekel kan word soos jy vorder.

Randjie:
In die eerste hoek werk [1lb, 2ks, 2lb] en in elke ander hoek werk [2lb, 2ks, 2lb]
Hekel tussen die hoeke 1ks, slaan 1 steek oor, lb in vlg steek, herhaal totdat daar 4 langbene tussen elke hoek gehekel is. Kyk na die illustrasie vir meer duidelikheid. 


Die blommetjie is gedoen met glipsteke wat ek aan die bokant van blokkie gehekel het. Hier volg 'n paar fotos ter verduideliking om te wys hoe dit gedoen word. Die hekelpen is aan die bokant van werk en die werkende draad aan die agterkant. Trek draad deur na die voorkant en werk 'n glipsteek. Steek pen dan weer deur na agter, haak die draad en trek deur die lus op pen. Herhaal die stappe. Dit is 'n vinnige en maklike manier om hekelwerk te versier.





Ek sal julle van tyd tot tyd op hoogte hou van hoe my kombersie vorder en indien julle graag wil saamhekel laat weet my. 

Pragtige dag vir julle en lekker hekel almal!