Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel Tutoriaal: Granny Ripple Patroon

Wou jy nog altyd geleer het hoe om die Granny Ripple Patroon te hekel? Jy hoef nie verder te soek nie. Vandag wys ek hoe dit gedoen word. Hierdie is een van daardie heerlike patrone wat gebruik kan word om sommer in 'n japtrap 'n kombersie te hekel. Die enigste bietjie konsentrasie is om met die eerste ry te sorg dat alle steke in plek is en die res is sommer doodmaklik en net 'n herhaling.




























Ek het in hierdie tutoriaal Raeesah Katoen en 'n 5mm hekelpen gebruik.

En ek gaan maar maak of ek nie die vingerfout sien wat ingesluip het op die foto nie. Het julle dit raakgesien? Hier is 'n leidraad Rippel en Ripple :)





















In die boonste foto kan die kettingsteek strook gesien word soos dit aan die voorkant vertoon. Wanneer die strook omgedraai word is daar duidelik hobbels of lussies wat aan die agterkant van elke "V" geplaas is. Die beste afwerking word altyd verkry deur in hierdie agterste hobbels of lussies te werk. Kyk na die foto hier onder. Daar is duidelike swart kolletjies wat aandui presies waar hierdie hobbels lê.

 Goed kom ons begin met die eerste ry!

Ry 1: 

Stap 1: Werk 3lb in die 6e ks vanaf pen; * slaan 2 ks oor, werk 3lb in  vlg ks, slaan weer 2 ks oor en werk 3lb in  vlg ks

Stap 2: Slaan 5 ks oor en werk 3lb in vlg ks [dit gaan die onderste punt van patroon vorm]

Stap 3: Slaan 2 ks oor en werk 3lb in vlg ks

Stap 4: Slaan 2 ks oor en werk in die vlg ks [3lb, 3ks, 3lb] Dit vorm die boonste punt van patroon 

Stap 5: Slaan 2ks oor en werk 3lb in vlg ks, slaan weer 2ks oor en werk 3lb in vlg ks

Herhaal nou Stap 2, 3 en 4. Die ry eindig met 'n boonste punt. [Dit beteken die ry eindig deur in die heel laaste steek 2 groepe te werk = 3lb, 3ks, 3lb]

Werk 5ks en draai indien daar met dieselfde kleur gewerk gaan word in ry 2.

Indien ry 2 met 'n ander kleur gewerk gaan word volg die stappe soos verduidelik in die onderstaande fotos.


Ry 2: 3lb in die eerste 3ks spasie, 3lb in elk van vlg 2 sp/s, die onderste punt word gevorm deur die vlg sp oor te slaan, 3lb in elk van vlg 2 sp/s,  in vlg 3ks sp werk boonste punt deur daarin die vlg te werk: [3lb, 3ks, 3lb]; werk dan in elk van die vlg 2 sp/s weer 3lb, slaan 1 sp oor, 3lb in elk van vlg 2 sp, en in die heel laaste 5ks spasie word weer [3lb, 3ks, 3lb] gewerk. 

Hierdie 2e ry word nou deurgaans herhaal. Die ry sal dus altyd begin met 5ks, en sal altyd eindig met 'n dubbelgroep van 3lb, 3ks, 3lb alles saamgewerk in die laaste 5ks sp.  


























Ek hoop julle het die tutoriaal geniet!
Mooi dag verder en lekker hekel!

Vakansie, Tydskrif en Hekelgoeters

Hartlike goeie more almal,


Ek het 'n wonderlike geleentheid gehad om vir so paar daggies heerlik te gaan ontspan in Kommetjie.  Vir die van julle wat nie weet waar dit is nie gaan kyk hier. Julle kan hier ook pragtige fotos sien van hoe dit daar lyk en hier kan julle gaan lees wat alles te siene en te doene is.  Dit is 'n pragtige plekkie met 'n wonderlike atmosfeer en 'n vriendelike gemeenskap.   







Die dag toe ek hierdie pad gestap het was die reenboog reg agter die vuurtoring. Ek kon nie vir 'n beter agtergrond gevra het nie. 








Die uitsig vanaf die huis waar ek oorgebly het. Dit was heerlik om na die branders te kyk en elke aand met die gedruis daarvan aan die slaap te raak. 











Die kamele by Imhoff Farm was prentjie mooi. Ek het nou wel nie op een se rug gery nie maar het wel een se kop gestreel en met hom gesels. Lyk dit nie ook vir julle of hulle altyd glimlag nie? Hulle is te pragtig!











Dit was ook my eerste besoek aan Kirstenbosch tuine. Die mooiste plantegroei kan in  hierdie tuin gesien word.  

Papagayo in Kalkbaai het die mooiste klere. Kleurvol en so reg in my kraal! 

Daar is ook vele ander wonderlike winkels maar ek was so besig om rond te kyk en my te vergaap aan al die mooi dinge dat ek skoon vergeet het om fotos van alles te neem. 

Daar was nie veel tyd vir hekel nie want ons het ver ente gestap, koffie gedrink by verskeie plekkies en rondgery en gekuier by allerhande interessante plekkies. 

Ek het wel in die aande so bietjie kans gekry om te hekel aan hierdie serp en het dit eers  klaargehekel toe ek hier by die huis aankom.

Tasse was nog nie eens behoorlik uitgepak nie toe gryp ek die serp en besluit om dit eers gou klaar te maak.  

Dit is 100% wol en gehekel met 5mm hekelpen. Die steek wat ek gebruik het is 'Broomstick'. Dieselfde patroon wat ek in my vorige artikel vir julle gewys het. Ek het 30 steke gebruik en dit 'n 'twist' gegee voordat ek die twee kante aanmekaar vasgewerk het. Vertoon baie mooi en is heerlik warm. 





En ek moet ook darem so bietjie wys dat van my hekelpatrone in die nuutste uitgawe van die Kuier tydskrif is.   

Dankie Raylentia en Kuiertydskrif vir die blootstelling van my werk! Dit is vir my 'n groot voorreg om van my patrone te deel met die Afrikaanse gemeenskap. :) 










Die 7e Junie het die uwe ook verjaar en is ek weereens heerlik bederf met 'n pragtige bos rose, 'n bottel Chocoholic en heerlike Nougat. 


Terwyl ek vanoggend probeer orde skep hier by my het ek ook sommer 'n paar fotos geneem van projekte waarmee ek besig is. 



Ek het 'n paar van hierdie geborduurde skinkbord lappies wat al jare in my kas lê. Dit is lappies wat my skoonma se moeder nog geborduur het. Die een lappie se  randte is ook met die fynste draad omgehekel. Ek het dit gou vanoggend omskep in kussing oortreksel en dink dit lyk pragtig tussen die gehekelde werk op my bank. 

Dit is ook 'n manier om die pragtige erfstukke wat in die kas lê waar niemand dit sien nie te gebruik en te waardeer. 

Dalk het jy ook so paar lappies wat omgetower kan word en nou weet jy wat om daarmee te doen. :)









Hierdie is ook nog 'n ou Granny bersie wat besig is om te groei. Ek sal dit wys wanneer dit klaar is maar daar moet nog baie ure se hekel in hom ingaan. 










Hier is so paar fotos van my gehekelde juwele wat ek  graag dra.



Ek hou van die sagtheid van die gehekelde armbande. Hulle dra soos 'n droom. 

Hier is so paar idees wat julle kan inspireer om ook julle eie gehekelde juwele te maak. 

Versier dit met kant, knopies en dies meer.  


Satynroos, knope, gehekelde sirkels en 'n paar krale geryg aan 'n organza lint.


Oorbelle is klein sirkeltjies met fyn kraaltjies ingevoed in die laaste ry.  



Hierdie armband was die binnekant van 'n klein hout borduurraam. Ek het met navy blou katoendraad 'n reguit strook gehekel en rondom die raam getrek. Die rooi koord het ek toe rondom gedraai en alles is vasgewerk met 'n naald en gare. 

Rooi oorbelle met katoen en glas krale.  


Verskeidenheid van oorbelle. Baie maklike ontwerpe gehekel met fyn fyn katoen.  


Armband detail van naby gesien. Verskillende knopies is baie treffend. 


Knoopsgate gehekel aan die een kant van armband vir maklik oop en toemaak.












En hiermee gaan ek eers voldoen en groet. Ek het baie werk wat gedoen moet word hier by die huis voordat ek terugkeer werk toe volgende week. Daar is ook baie van julle wat my gekontak het terwyl ek weg was en ek het ure se eposse wat ek nog moet beantwoord. Dankie vir julle geduld. 

Wonderlike week vir julle almal. Dit is baie koud hier by ons in die Kaap met die sneeu wat geval het. Bly warm en lekker hekel!

Groete

Hekelsteek: "Broomstick" Hekelsteek.


Die Broomstick steek word deesdae oral gesien op die net en in die tydskrifte. Dit is 'n pragtige steek om te leer en die eindresultaat is 'n pragtige kantagtige patroon. 

Ek het verskeie navrae gekry en almal wil weet hoe word die steek gewerk. Ek is vanoggend by die huis en het besluit om vir julle 'n tutoriaal te doen. Ek het probeer om die fotos so duidelik as moontlik te neem en alhoewel die son maar baie skaars is hier in die Kaap vanoggend hoop ek dat dit tog duidelik genoeg is sodat julle sommer in 'n japtrap ook hierdie steek sal kan baasraak!

Materiaal benodig: 

In hierdie tutoriaal het ek Vinnis Nikkim gebruik met 'n 5mm hekelpen. Jy kan enige dikte draad gebruik met 'n hekelpen grootte wat geskik is vir die draad. Normaalweg gebruik ek of 'n 3.75mm of 4mm hekelpen wanneer ek met 'n dubbeldraad hekel, maar in hierdie geval het ek 'n nommer groter gegaan omdat ek wil hê die eindproduk moet lossies wees en dit moet goed drappeer wat die ideale voorkoms sal wees vir 'n serp.  

Vir die optel van die lusse benodig jy ook 'n groooooot nommer breipen. Ek gebruik hier 'n 20mm maar jy kan enige groot nommer gebruik. Die grootte van die breipen bepaal die lengte van die lusse wanneer die steek gewerk word.

'n Verdere puntjie is ook dat ek die patroon afwissel met 2 rye kortbene en dan 1 ry Broomstick, weer 2 rye kortbene en 1ry Broomstick. Daar is verskillende kombinasies om die Broomstick te gebruik. Ek gebruik ook veelvoude van 5 in hierdie patroon maar daar is patrone waar veelvoude van 4 byvoorbeeld gebruik kan word. Die beginsel van die patroon is dat sou jy in veelvoude van 5 werk beteken dit jy werk 5 lusse af op 'n keer en in veelvoude van 4 word 4 lusse afgewerk. Binne in elke groepie van 4 of 5 lusse wat van die breipen verwyder word moet daar 'n aantal kortbene gewerk word. Sou ek 4 lusse verwyder moet ek dit vervang met 4 kortbene. Dit klink nog Grieks op hierdie stadium maar kom ek wys julle wat ek bedoel. 
  
Goed kom ons begin! 

Begin met 26 kettingsteke en werk 2 rye kortbene. Die heel eerste kortbeen word in die 2e kettingsteek vanaf pen gewerk wat beteken daar sal 25 kortbene in elke rye wees. Onthou ons werk in veelvoude van 5.

Wanneer die 2e kortbeen ry voltooi is verwyder die hekelpen en steek die breipen deur die lus soos aangedui op die foto. Indien jy regshandig is soos ek dan sal jy van links na regs werk. Indien jy linkshandig is sal jy van regs na links werk. 








Neem die hekelpen en steek deur die volgende kortbeen, slaan die draad om die pen en trek die lus deur na vorentoe. 

Trek die lus lank genoeg uit sodat dit om die breipen gehaak kan word en trek dan die draad stywer. Moet nie die draad te styf  trek nie. Werk lossies want wanneer die hekelpen met die volgende stap deur die lusse gesteek moet word moet daar genoeg spasie wees sodat dit gerieflik die 5 lusse sal kan afhaak. 
Herhaal die stappe soos reeds verduidelik. 

Steek die hekelpen in die volgende kortbeen, haak die draad en trek deur na vorentoe. 



Plaas die lus om die breipen.







Herhaal totdat daar deur al die kortbene gewerk is. Daar is 25 lusse op die breipen.


Steek die hekelpen deur die eerste 5 lusse op breipen en sorg dat die werkende draad aan die agterkant lê. Slaan  die draad om hekelpen en trek dit deur die 5 lusse.


Sodra dit deurgetrek is slaan die draad weer om maak 'n kettingsteek. Dit trek die 5 lusse tesame. 

Die 5 lusse is nou gereed om van die breipen verwyder te word.


Werk nou 5 kortbene in die 5 lus- spasie soos die foto illustreer.

Haak nou die volgende 5 lusse bymekaar op die breipen. 


Jy sal merk dat die werkende draad nie nou aan die agterkant lê nie maar meer na vore trek. Slaan die draad om en trek deur die 5 lusse. 



Daar is nou 2 lusse op die pen. Die heel laaste lus van die laaste kortbeen wat gewerk is plus die lus wat so pas deur die 5 lusse op die pen getrek is. 










Slaan die draad om pen en trek deur albei lusse. 

Hierdie steek tel ook as die eerste kortbeen. Werk nou nog 4 kortbene in dieselfde spasie.


Herhaal die stappe totdat alle lusse in groepe van 5 afgewerk is. Maak 1ks en draai werk om. 

Werk nou weer 2 rye kortbene en maak seker dat daar weer 25 kortbene in elke ry is. 

Na elke tweede ry word die hekelpen verwyder en die breipen word dan weer gebruik om die volgende ry lusse op te tel.  











Die eindresultaat is 'n pragtige kantagtige patroon wat lieflik vertoon. 


Die agterkant van die patroon.


Die voorkant van die patroon.
En dit is dan die "Broomstick" patroon. 

Geniet dit en lekker hekel almal! 

Hekelgroete!