Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel Tutoriaal: Krapsteek.

In opvolg van die Kamma Tartan Vadoekie wys ek vandag vir julle hoe om die krapsteek te hekel. Die krapsteek is 'n pragtige steek om te gebruik vir die afronding van items soos vadoekies, kombersies, some van baadjies, moue, krae ens. Dit gee 'n voorkoms van gedraaide koord en lyk net so pragtig om die rand van 'n gehekelde mandjie of selfs 'n babakombersie. 



Die krapsteek is eintlik  'n kortbeen wat in die teenoorgestelde rigting gehekel word. Wanneer 'n gewone kortbeen gehekel word, word die pen in die volgende steek aan die linkerkant gesteek en dan gewerk. Daar word normaal weg na die linkerkant toe gewerk indien jy regshandig is.  Wanneer 'n krapsteek gehekel word, word die pen in die volgende steek aan die regterkant gesteek en dan gewerk. Dit beteken jy werk jou krapsteek na die regterkant toe.  Maar kom ek wys julle hoe maklik dit is! 


Heg die draad in enige steek en werk 1ks, steek dan die pen in die steek wat aan die regterkant lê ....

slaan die draad om die pen


en trek deur die steek na vore [daar is 2 lusse op die pen]


slaan draad weer om hekelpen



en trek deur albei lusse. Dit voltooi die eerste krapsteek. 



steek pen in die volgende steek wat aan die regterkant lê 

haak die lus en trek deur na vore [2 lusse op die pen], slaan draad weer om pen


en trek deur albei lusse.


Herhaal die stappe. Indien jy regshandig is en gewoonlik na die linkerkant beweeg wanneer jy hekel beteken dit dat jy nou na die regterkant beweeg. Indien jy linkshandig is werk dit net anders om. Linkshandiges sal na die linkerkant toe beweeg.  
 

Vadoekies lyk pragtig afgerond met so 'n krapstekie om die buitenste rand.
Pragtige dag almal en lekker hekel!

Gratis Patroon: Gehekelde Kamma Tartan Vadoekie.

'n Gehekelde vadoekie of waslappie is een van daardie vinnige en maklike items wat in 'n japtrap gehekel kan word.  Die vadoekie word eers klaar gehekel en dan word die strepe gehekel deur glipsteke in die oop gedeeltes op te werk.


'n Baie maklike maar pragtige vadoekie wat elke keer uniek sal wees afhangende van die kleure wat gebruik word. 

Kom ek wys julle hoe maklik dit is om hierdie vadoekie te hekel! 

Materiaal gebruik: 

Vinnis Nikkim en 'n 3.75mm hekelpen. 1x50g van elke kleur wat jy wil gebruik. Hier is 3 kleure gebruik.  

Grootte van lappie is ongeveer 30x30cm.

Voordat jy begin hekel kyk na die tweede laaste foto vir die aanduiding van die verwisseling van kleure. 

Instruksies: 

Begin met 57 kettingsteke.

Ry 1:  1lb in 4e ks vanaf pen, 1lb in vlg ks,  *1ks, slaan 1ks oor, 1lb in elk van vlg 2ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 2ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 5ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in vlg ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 3ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 3ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 5ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in vlg ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in vlg ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 3ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 3ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van vlg 5ks, 1ks, slaan vlg ks oor, 1lb in elk van laaste 5ks, 3ks, draai

Ry 2:  1lb in elk van vlg 4lb, 1ks, 5lb, 1ks, 3lb, 1ks, 3lb, 1ks, 1lb, 1ks, 1lb, 1ks, 5lb, 1ks,3lb, 1ks,  3lb, 1ks, 1lb, 1ks, 5lb, 1ks, 2lb, 1ks, 2lb, 1ks, 3lb, 3ks, draai.

Ry 3: 1lb in vlg 2lb, 1ks, 2lb, 1ks, 2lb, 1ks,  5lb, 1ks, 1lb, 1ks, 3lb, 1ks, 3lb, 1ks, 5lb, 1ks, 1lb, 1ks, 1lb, 1ks, 3lb, 1ks, 3lb, 1ks, 5lb, 1ks, 5lb, 3ks, draai. 

Herhaal ry 2 en 3 deurgaans totdat die lappie 30cm lank is. [Ongeveer 30 rye of totdat dit 'n vierkant is]

Nou gaan die Tartan strepe gehekel word! 


Al die oop spasies word gebruik vir die hekel van die strepe. 

Begin in een van die  oop spasies  en in die heel onderste blokkie by ry 1 en werk dan die glipsteke oor elke ry op tot by die laaste ry.  



Die draad is aan die agterkant van die werk terwyl die glipsteke aan die voorkant oor elke ry gehekel word. 

Die hekelpen is dus altyd aan die voorkant. Die maklikste is om die lappie mooi plat te lê terwyl gewerk word. Moet ook nie die glipsteke styf trek nie. Dit moet redelik los wees sodat dit nie die lappie inmekaar trek nie. Volg net die spanning van die rye en maak seker dat jou spanning dieselfde bly.









Herhaal totdat al die oop spasies gevul is met 'n glipsteek.












Werk alle los drade weg.




Verwisseling van kleure.

Die stappe vir die hekel van die rye  is soos volg: 

4 rye in wit
2 rye in khaki
1 ry in grys
2 rye in khaki

Vir die glipsteke wissel die kleure af volgens eie keuse. 




En dit voltooi die Kamma Tartan Vadoekie!
Lekker hekel julle!

Kuiergas #9: Louisa van Taak

Goeiedag almal!

Ons kuiergas vandag is Louisa van Taak.

Kyk  net hoe mooi is  haar  versameling! Kom ons laat haar toe om ons meer oor haarself te vertel.   


 
Ek is ‘n oud-Suidwester wat nou al omtrent vir 22 jaar in die Vrystaat bly. Ek is ‘n grasweduwee, het twee getroude dogters en twee lieflike kleinkinders. Dan is ek ook nog “ma” vir twee honde , twee katte en ‘n erg bedorwe African Grey.

 
Ek was die jongste van drie kinders en om hierdie woelige dogtertjie besig te hou terwyl die ander kinders by die skool is, het my ma my leer hekel. Mensig, dit beteken dat ek al vir meer as ‘n halwe eeu aan die hekel is! 




Ek het basies in die hippie-era grootgeword en van kleins-af het hulle kleredrag my geweldig gefasineer. Toe ek ouer was het ek vir my toppies en baadjies soos hulle sin met oumablokkies , vlinders en blomme op gehekel – weet nie wat die ander jongeres daarvan gedink het nie! (Jammer ek het nie fotos van daardie tyd nie…)


Ek het al met enige iets onder die son gehekel – wol, gare, tou, naaimasjiengare (vir baie fyn blommetjies) en dan ook met draad vir ‘n armband van draad en krale wat ‘n vriendin wou he.

In die winter hekel ek meestal komberse, serpe ens  en wanneer die hitte ons slaan, hou ek my besig met kleiner hekelartikels. Ek is ook baie lief om iets anders as die gewone te hekel – dit laat my vriende altyd wonder  “wat’s  volgende?”



Met die dat manlief in die buiteland werk en my kinders al reeds uit die huis is, is my tyd my eie.  Ek kan hekel van vroeg tot laat en dan nog deurnag ook as ek sou wou!

In die verlede (soos ons nou nog se^, “in die ou tyd”) is hekel geassosieer met ou tannies wat doilies hekel. Enige handwerk is deesdae weer hoogmode en hekel is die inding. Alles word deesdae gehekel:  klere, gordyne, komberse, geskenke, matte, noem enige iets en iemand  iewers het dit al probeer hekel.

Ek hou van enige kleur, maar menige keer vang ek myself dat ek weereens besig is met skakerings van blou en pers!


Hekel is een van my stokperdjies. Ek hekel gewoonlik vir myself, maar op die ou einde gee ek dit gewoonlik vir familie of vriende.


Ek het bietjie gaan oplees oor die oorsprong van hekel, maar eintlik is baie min bekend. Daar is wel op ‘n sekere manier met die vingers in die 16-1700s “gehekel”.  In die 1800s was hekel ‘n goedkoper manier om kant te vervaardig. Die arm en middelklas het gehekel, want net die ryk mense kon regte kant bekostig!Koningen Victoria het  hekel weer gewild gemaak toe sy vir die Britse soldate serpe gehekel het in die oorlog. Siestog, sy het toe ‘n groter hap afgebyt as wat sy kon kou en het toe net agt serpe gehekel , vir die res van die soldate het sy toe maar sjokolade gestuur!







Dit was baie lekker om hier by julle te kuier.


Hekelgroete  uit die Vrystaat. 

Louisa.



'n Groot dankie vir jou Louisa! Dit was heerlik om jou te ontmoet en dankie vir die lekker gesels en vir die wys van jou pragtige handewerk! 

Ek dink almal sal saamstem dat Louisa beslis 'n pragtige versameling hekelwerk het. Pragtige unieke items. Ek hou veral van die spinnekopweb in die boom. [Ek hoop dit is 'n rubber spinnekop wat daar sit!] Nog 'n paar persoonlike gunstelinge is die pragtige ontwerpe wat in die draadringe geplaas is, en daar is ook heelwat van die komberse wat beslis volpunte kry in my boek. Die pienk toppie is gehekel met die Elle Premier Katoen wat Louisa gewen het in die Mezomode kompetisie so 'n rukkie terug hier by Hekel Idees.   

En op hierdie laat Sondag middag groet ek eers weer.

Pragtige week vir julle almal!

Hekelgroete