Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Gratis Patroon: Hekel 'n Kerskous.



  Dit is weer tyd om Kersfees Kouse te hekel!



 Hartlike goeie dag alle liewe hekel vriendinne,

Kersfees lê al weer en loer om die draai! Wil jy graag 'n paar kersfees kouse hekel hierdie jaar? Nou ja, hier is 'n maklike patroon wat sommer in 'n japtrap gehekel kan word. Hekel sommer 'n paar van hulle en hang dit oral op met bederfies binne in. Jy kan die kouse ook versier op allerlei maniere of vir elke familie-lid 'n kous maak met hulle name daarop geborduur.

Materiaal gebruik: Raeesah "Cotton Soft" van Kismet Yarns en 'n 4,5mm hekelpen.
Die kous is ongeveer 20cm lank en die voetgedeelte meet ongeveer 17cm in lengte.

Indien jy 'n kleiner kous wil hekel gebruik 'n dunner gare en kleiner hekelpen.

Nou kom ons begin!


Voorste deel van kous:

Ry 1: Met rooi gare maak 'n garesirkel en werk 12 hlb in sirkel. [Indien jy nie weet hoe om 'n garesirkel te maak nie begin met 5ks, gs om ring te vorm en werk dan 12hlb in ring]

Ry 2: Maak 2hlb in elk van die 12hlb [24hlb in hierdie ry]

Ry 3: *1hlb in vlg hlb, 2hlb in vlg hlb,* herh tot einde van rondte. [36hlb in hierdie ry]



Ry 4 - 12: hlb in elke hlb [36hlb in elke ry]  Heg af aan einde van ry 12.









Hak van kous:

Ry 1: Met groen gare: Tel 12 steke terug van waar glipsteek in ry 15 gewerk is en heg draad in die 12e hlb, werk nou 24hlb, 1ks, draai.

Ry 2 - 8: 24hlb, 1ks, draai. Heg af na die 8e ry.






Vou die agterste naat om en glipsteek aanmekaar vas. Heg af.









Been van kous:

Met geel gare heg draad in 'n steek reg langs die agterste naat. Daar gaan nou reg rondom gehekel word. Werk 11hlb aan elk van die sykante en 12hlb aan die bokant van voetdeel. [34hlb altesaam]

Werk oor hierdie 34hlb en hekel nog 5 rye in geel, daarna 5 rye in rooi en laastens 6 rye in groen en heg af.



Rand:
Heg geel gare in vlg steek, 1kb in dieselfde st, * 1ks, 4lb in dieselfde steek, slaan vlg 2 hlb oor, kb in vlg steek; * herh van * tot * einde van rondte en heg af.












Vou die boonste rand oor na buitekant, hekel met geel 30ks en ryg dit deur die bo-rand om te dien as lus waaraan kous opgehang kan word.



Blommetjie:



Met rooi maak [5ks, 1kb in 2e ks, 1lb in elk van vlg 2ks, kb in vlg ks]; herh totdat 6 blare voltooi is. 











Knip draad ongeveer 30cm vanaf begin sodat daar genoeg is vir inryg en vaswerk van blom.






Met geel gare borduur klein knoppies in senter van blom en werk dan die blom in posisie op kous vas.  





En dit is dan die Kersfees kous! En wat eet mens wanneer jy Kersfees hekelwerk doen? 


Jy eet heerlike Kersfees koek met baaaie ekstra neute en kersies natuurlik. 

Mooi bly almal en lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica